EKONOMIESE OORSIG: APRIL 2009
Samevatting
Onsekerheid bly die kenmerk oor vooruitsigte vir die wêreld se ekonomieë asook vir die finansiële markte. Wêreldleiers bly egter daartoe verbind om gesamentlik op te tree ten einde die onsekerheid uit die weg te probeer ruim en om hernude aktiwiteite te stimuleer. Intussen neem werkloosheid toe en het die OESO (OECD) sy kommer uitgespreek oor die sosiale en maatskaplike probleme wat die resultaat van die swak ekonomiese toestande is.
Plaaslik is die Reserwebank se Kwartaalbulletin vir Maart 2009 vrygestel wat nie net jongste tendense aandui nie maar syfers vir die jaar 2008 gee. Hieraan sal kortliks aandag gegee word. Die inflasiekoerse bly onderliggend daal en die Reserwebank het die repo-koers met een persentasiepunt verlaag. Die geldvoorraad- en bankkredietsyfers dui op ‘n swak vraag na bankkrediet. Die wisselkoers van die rand sowel as aandeelpryse verloop basies sywaarts maar groot fluktuasies word waargeneem. ‘n Bron van kommer is uitsprake deur politici wat daarop dui dat groter staatsinmenging in die ekonomie te wagte kan wees. Daarby gaan die land die komende maand na die stembus en die uitslag sowel as verklarings wat daarop kan volg, kan verdere onsekerheid oplewer.
Internasionale toneel
Internasionaal word voortgegaan met uitsprake en optredes om vraag te stimuleer. Waarborge dat banke te alle tye bygestaan sal word, indien likiditeitsprobleme ervaar word, kom algemeen voor. Daarby word voortgegaan om groot bedrae likiditeit aan banke en ander ondersteuningsmaatreëls beskikbaar te stel. Om lesers ‘n idee te gee van die omvang hiervan kan gemeld word dat die VSA ekonomie se BBP verlede jaar $14,2 triljoen bedra het. Volgens ‘n verslag deur Bloomberg beloop die bedrag aan ondersteuning wat sover verleen is, reeds $12,8 triljoen. Ander lande het ook groot bedrae hulp verleen alhoewel, relatief tot die grootte van hulle ekonomieë, nie tot dieselfde mate as wat in die VSA sover voorgekom het nie.
Alhoewel die kommer oor die toestand en die sosiale en maatskaplike gevolge wat daaruit voortspruit begryp word, is daar andersyds tog ‘n mate van kommer oor wat die uiteindelike gevolge kan wees. In dié opsig is die potensiële inflasie gevolge, in die toekoms, ‘n saak wat kommer wek.
Vir die huidige egter is die kommer grootliks toegespits op die sosiale en maatskaplike gevolge wat uit die gebeure voortspruit. Die Oeso verwag byvoorbeeld dat die gemiddelde groeikoers van sy 22 lede lande vanjaar met soveel as 4,3% kan daal. Dit voorspel verdere grootskaalse afdanking van werkers met wat daarop kan volg. Verder blyk dit dat die ontwikkelende lande vanjaar minder hulp van die OESO-lande te wagte moet wees. (Dié bedrag het verlede jaar $119,8 miljard beloop.) Laer hulp saam met ‘n skerp afname in die internasionale handel en daling in kommoditeitspryse, kan dan ook tot aansienlik laer, en selfs negatiewe, groeikoerse vir sekere ontwikkelende lande lei.
Aan die positiewe kant is daar egter ook tentatiewe tekens dat sake tog kan verbeter. Effektebeurse wêreldwyd wil beter neig en gedagtig daaraan dat aandelepryse die werklike verloop van sake vooruit verdiskonteer, is dit ‘n belangrike aanwyser. Die afgelope maand, maandeinde-tot-maandeinde gemeet, het die pryse van aandele van die Dow-30 indeks dan ook met 7,7% verbeter; die Ftse-100 styg met 2,5% en die Nikkei-225 met 7,2% met Europese beurse wat ook opwaarts geneig het. Daarby het van die groot internasionale banke bekendgemaak dat hulle in die eerste twee maande van die jaar weer winste begin toon het. Ook is daar bekendgemaak dat krediet vir die aankoop van woonhuise in die VSA en in die VK toegeneem het. Die Libor-koers neig ook laer.
Plaaslike toestande
Voordat die mees onlangse korttermyn aanduidings bespreek word, verwys ek allereers na die verloop van enkele sake vir die jaar 2008 soos vermeld in die jongste SARB Bulletin. Van die belangrikste sake, plaaslik en internasionaal, word in die meegaande statistiese tabel aangedui.
Net real fixed capital stock

Net real fixed capital stock: electricity, gas & water

Voorgaande inligting is verstrek om aan lesers die dilemma van die huidige skerp insinking in die ekonomie aan te dui. In die Oese-lande en plaaslik het besteding vinniger as inkome of produksie gestyg. Dit is aangevuur met oorskot kredietverlening. Die gevolg was die groot opbou van wanbalanse waarna al in die verlede op gewys is. Die groot wanbalanse in die RSA ekonomie blyk ook duidelik uit voorvermelde inligting. Dit moet reggestel word en ongelukkig is dit iets wat nie oornag kan of sal gebeur nie.
Wat dui die jongste inligting vir ons aan? Kortliks opgesom die volgende:
Soos verlede maand vermeld, reken ek nie dat die huidige situasie in die ekonomie vergelykbaar met die posisie in 1929-1933 is nie. Terselftertyd egter wil ek waarsku teen ‘n té optimistiese siening dat die huidige ekonomiese aanpassings dalk spoedig iets van die verlede kan wees. Vir die grootste deel van 2009 moet taai ekonomiese en finansiële toestande steeds verwag word met werklike tekens van beterskap nie voor die einde van die jaar nie.
Dan is daar opmerkings deur sekere politici wat kommerwekkend is. Dit wentel om die ekonomiese bestel wat gevolg moet word. So byvoorbeeld het die Minister van Arbeid tydens die opening van die SAOG beraad hom onlangs sterk uitgespreek ten gunste van ‘n sterker sosialisties/kommunistiese bestel. Hy het homself as volg uitgelaat: “Ek is ‘n kommunis en is bly dat kapitalisme,” (die vrye markstelsel), “in ‘n krisis verkeer omdat ons nou meer sosialisme kan hê.”
Die realiteit van die lewe is egter dat die vrye mark veel beter resultate, oor tyd gesien, lewer as ‘n streng beheerde en gereguleerde bestel. Dink maar aan die situasie in Suid Korea vs Noord Korea. Ook in die voormalige Oos en Wes Duitsland en in die voormalige Sowjet Republieke self. Ook gaan dit nie juis baie goed in Zimbabwe nie en ook nie in Kuba nie. Die realiteit van die saak is dat die vrye mark beter daarin slaag om produktiwiteit te verhoog as in ‘n hoogs gereguleerde bestel. ‘n Styging in multi-faktor produktiwiteit is en bly die sleutel tot die verhoging van lewenstandaarde. Ludwig von Mises het hom dan ook in sterk taal uitgespreek teen sosialisme. “Whereas in a capitalist society selfishness invites everyone to the utmost diligence, in a socialist society its makes for inertia and laxity. Under such a socialist mode of production all personal incentives which selfishness provides under capitalism are removed, and a premium is put upon laziness and negligence”
Die huidige ekonomiese en finansiële probleme is nie as gevolg van die vrye mark nie maar omdat regerings kunsmatig ingemeng het in die werking daarvan. As dit nie was vir die groot toegelate uitbreiding van likiditeit die afgelope paar jaar wat besteding kunsmatige hoogtes laat bereik het nie, sou die huidige probleme nie daar gewees het nie. Dit het groot wanbalanse veroorsaak en dit vra nou om reggestel te word. In die RSA het ons maar dieselfde pad geloop met groot herverdeling en sosialistiese optredes wat stadig maar seker sy wurggreep op die ekonomie verskerp. Immers, ekonomiese groei spruit voort uit voldoende geskoolde arbeid, voldoende besparings en produktiwiteitsgroei. Dit moet egter ondersteun word deur gesonde fiskale-, monetêre-, handels- en arbeidsbeleidsrigtings. Die huidige bestel faal ten opsigte van die meeste van hierdie vereistes.
A J Jacobs
2009-04-01