EKONOMIESE OORSIG: AUGUSTUS 2008

Ekonomiese aanwysers

Samevatting

Onsekerheid oor waarheen wêreld ekonomieë neig bly aan die orde van die dag. Per saldo gesien is verwagtinge een van swakker ekonomiese groei en hoër inflasie. Opinie opnames in Westerse lande oor verwagte sake toestande en verbruikersvertroue boesem ook nie vertroue in dat sake spoedig sal verbeter nie. Beursbewegings deel die siening aangesien dit gemiddeld gesien laer neig met sterk fluktuasies. Van besondere belang is die feit dat kommoditeitspryse laer neig – pryse van metale en minerale sowel as sagte kommoditeite.

Plaaslik is daar ‘n mate van optimisme te bespeur dat die inflasiekoers spoedig laer kan begin neig en dat die groot tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans merkbaar kan daal. Die wisselkoers van die rand het die afgelope maand dan ook skerp verbeter met kapitaalmarkrentekoerse wat gedaal het. Verwagtinge dat geldmarkrentekoerse dalk gouer kan begin daal as wat tot onlangs toe nog verwag was, is ook aan die opbou. Die indruk wat verkry word is dat die verwagting is dat die groeikoers ook weer kan begin styg – veral nadat die Minister van Finansies aangedui het dat hy steeds 4% groei vir die jaar verwag. Soos verwag kan word in die lig van waarna hiervoor na verwys is, het die pryse van kommoditeitsaandele op die JSB die afgelope maand gedaal maar het pryse van finansiële aandele en sommige handelsaandele gestyg vanaf hulle laer vlakke van die afgelope tyd.

Internasionale verwikkelinge

Myns insiens, en veral vanuit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt gesien, is die belangrikste verwikkeling van die afgelope maand die verswakking van kommoditeitspryse.  Dit is die gevolg van hoofsaaklik twee verwikkelinge: swakker internasionale ekonomiese groei en swakker verwagtinge daarin wat tot gevolg het dat die vraag na kommoditeite stadiger styg as wat voorheen voorsien was en ‘n mate van versterking in die VSA$ teenoor veral die euro en verwagtinge dat die $ verder kan verbeter. Natuurlik speel hoë pryse in eie reg ook ‘n rol aangesien dit verbruikers van kommoditeite dwing om hulle vraag in te kort. Sover dit die sagte kommoditeite betref, landbouprodukte, is voorheen alreeds daarop gewys dat aanplantings daarvan aansienlik meer is as die van verlede jaar. Optimisme is dan ook besig om toe te neem dat oeste inderdaad heelwat groter gaan wees as verlede jaar met die gevolg dat pryse van die sagte kommoditeite die afgelope tyd skerp gedaal het. Ook hier speel die prysmeganisme sy rol aangesien die skerp styging in pryse van dié produkte die afgelope jaar grootliks die dryfveer was vir groter aanplantings. Ek lê veral klem op die rol van die prysmeganisme in die lig van die feit dat sekere groepe steeds die rol daarvan in die markstelsel wil ontken en reken dat direkte ingrypingsmaatreëls soos prysbeheer probleme van tekorte sal kan aanspreek.

Hoe skerp die daling in kommoditeitspryse inderdaad was blyk uit die hieropvolgende grafiek.


Die “CRB futures index” is ‘n aanduiding van toekomstige pryse van ‘n mandjie van kommoditeite waarin die rol van die ru-olieprys ‘n groot gewig dra. Die daling in die indekswaarde die afgelope maand beloop sowat 12%. As daar na die VSA$ prysbeweging van indiwiduele kommoditeite gekyk word, blyk die volgende.

Kommoditeit                        % verandering: onlangse hoogtepunt tot 1/8/2008

Ru-olie                                                             -13,7%
Goud                                                                 -8,2%
Platinum                                                          -20,2%
Mielies                                                             -25,7%
Koring                                                              -37,4%

Ekonomiese vooruitsigte vir die komende maande lyk nie belowend nie. In die VSA het die groeikoers in kw2 effens verbeter maar dit word toegeskryf aan die groot fiskale stimuleringspakket wat verbruiksbesteding verhoog het. Die siening is dat die VSA ekonomie in die laaste kwartaal van vanjaar tot nul of selfs negatiewe groei kan verswak. Dit kan die invoerrekening laat daal. Uitvoer vaar redelik goed en die verwagting is dat dit sal voortduur aangesien die VSA$ mededingend geprys is. Dit op sy beurt kan die lopende rekening tekort laat krimp met die gevolg dat ‘n effens sterker VSA$ in die vooruitsig gestel word wat kommoditeitspryse verder kan laat daal.

Die negatiewe groeisentiment is besig om oor die wêreld te versprei. Toestande in Euroland lyk nie belowend nie, Brittanje leef swaar en ook in Japan is aktiwiteitsvlakke laag. Geleidelik is die toestande besig om ook na die Asiatiese lande te versprei. Intussen is daar inflasiedruk wat in die VSA in ‘n mate teengewerk kan word deur die laer VSA$ kommoditeitspryse. Dit geld nie noodwendig vir ander lande nie aangesien van die geldeenhede teenoor die VSA$ in waarde gedaal het en verder kan verswak.

Die verloop van internasionale beurspryse die afgelope maand bevestig die onsekere ekonomiese klimaat en vooruitsigte. In die VSA verloop beurspryse per saldo redelik sywaarts maar daal dit in Euroland, Brittanje en in Japan.

Plaaslike verwikkelinge

Op die plaaslike front is daar die afgelope maand ‘n mate van optimisme te bespeur dat die inflasiekoers gouer na laer vlakke kan daal met daarmee saam laer geldmarkrentekoerse. Die kapitaalmark verdiskonteer hierdie moontlikheid deurdat koerse skerp gedaal het. Dit dui op laer inflasieverwagtinge en ook dat geldmarkrentekoerse nie verder sal styg nie. Verder wil dit voorkom asof die siening posvat dat die betalingsbalans probleem, (die groot tekort op lopende rekening), spoedig iets van die verlede kan wees. Meer gunstige handelsyfers vir die tweede kwartaal speel hierin ‘n rol. Die wisselkoers van die rand het dan ook skerp verbeter. Uiteraard moes daar dus ‘n redelik sterk netto invloei van buitelandse kapitaal gewees het wat ook die daling in kapitaalmarkrentekoerse kan help verklaar.

Kom ons staan egter vir ‘n oomblik stil en plaas die ekonomie onder die vergrootglas.

Die optimisme oor ‘n laer inflasiekoers het op die voorgrond getree toe ‘n bankgroep daarop gewys het dat die nuwe gewigte vir voedsel, wat vanaf 26% tot 20% gaan daal, tot gevolg kan hê dat die inflasiekoers met sowat 2 persentasiepunte kan daal.

Hierdie saak het uiteraard groot prominensie in die pers gekry – net soos die geval etlike jare gelede toe dieselfde bankgroep op ‘n fout in die berekening van die inflasiekoers gewys het. Dit is myns insiens goed dat eksterne instellings die statistiese gegewens dophou vir moontlike foute want as die statistiek verkeerd is kan die verkeerde ekonomiese medisyne voorgeskryf word. Ek self het dan ook in die verlede al dikwels die korrektheid van sekere statistieke bevraagteken.

Die feit dat die gewigte gaan verander was egter algemeen bekend. Wat wel kommer wek is dat die gewig van voedsel in die VPI mandjie groot skommelings toon. Van die vorige ongeveer 18% na die huidige 26% en volgende jaar na 20%. Dit lyk of daar iets kan skort met die opname om die gewigte te bepaal. Dit daar gelaat.

Soos reeds aangedui daal die VSA$ pryse van sagte kommoditeite die afgelope tyd. Die afname in rand terme is aansienlik groter aangesien die rand die afgelope 6 weke met 11% teenoor die VSA$ versterk het. Dit wil ook voorkom asof groentepryse laer neig. Selfs suiwelpryse, soos kaaspryse het ook gedaal. Met voedselpryse wat tans op aansienlik hoër vlakke as ‘n jaar gelede staan is die kans goed dat dit volgende jaar baie min kan styg en selfs kan daal. Die laer gewig van voedsel wat dan van toepassing gaan wees kan dan die bereiking van ‘n laer inflasiekoers teenwerk. Hiermee wil ek bloot daarop wys dat iets wat ‘n saak die een oomblik tot voordeel kan strek, dit die volgende oomblik weer kan benadeel. Om dié rede het meeste ekonome waarskynlik dit nie eers gerade geag om kommentaar op die nuwe gewigte te lewer nie.

Wat egter ook opval is dat die spesifieke bankgroep net die statistiek bevraagteken as dit tot ‘n laer inflasiekoers kan lei. Hoekom bevraagteken hulle nie ook gevalle waar dit duidelik was dat die inflasiekoers inderdaad hoër moes wees nie? Ek wil drie gevalle in die verband noem.

  1. Sowat ‘n jaar of wat gelede het SSD se syfers aangedui dat die salarisse van huisbediendes met sowat 10% gedaal het. Ek het die saak met tientalle mense bespreek en hulle het my maar snaaks aangekyk want dit het bloot net nie gebeur dat huisbediendes se salarisse gedaal het nie.
  2. Tot onlangs toe nog, (in 2007) het SSD se syfers getoon dat klerasie- en skoeiselpryse jaar-op-jaar gesien en relatief tot die basis jaar 2000 gedaal het. Dit was foutief en is intusssen deels reggestel. Ek sê deels omdat die PPI vir klerasie aandui dat die indeks sedert 2000 tot Junie 2008 met 23,3% gestyg het terwyl die VPI syfer ‘n daling van 6,7% aandui. In die geval van skoeisel toon die PPI ‘n styging van 35,3% terwyl die VPI syfer ‘n daling van 13,1% toon. Hoe verklaar mens dit?
  3. In die PPI syfers word getoon dat sedert 2000 die prys van bosbou produkte (ru-hout) met 28,2% gestyg het. Die bosbou bedryf verseker my dat dit verkeerd is en dat die styging minstens 150% was.

Ons weet dus dat daar foute in die syfers is. Foute wat gemaak word behoort aan die kaak gestel te word maar nie net as dit blyk ‘n fout na die een kant toe is nie. Dit laat inderdaad die indruk dat daar die een of ander belang by die saak kan wees.      

Die feit van die saak is dat die RSA se inwoners bo hulle vermoë leef. Daar word dus meer uit die ekonomie geneem as wat teruggeploeg word. Dit gebeur omdat bankkrediet gebruik word om besteding te finansier en in die proses verhoog die skuldvlakke van indiwidue en die land. As dit gebeur het ‘n land reeds inflasie alhoewel die amptelike syfers dit nog nie mag toon nie soos wat inderdaad in die geval van die RSA vir ‘n lang ruk gebeur het. Finansiële bates is immers op groot skaal verkoop wat die spanderingspartytjie help finansier het en verhoed het dat die wisselkoers skerp verswak het. Ook het dit verhoed dat die inflasiekoers gouer en skerp gestyg het.

Tans is die die lopende rekening tekort steeds groot, is die groei in bankkrediet steeds te hoog, is tweede ronde inflasie gevolge besig om in te tree as gekyk word na die relatief groot salarisaanpassings wat voorkom en dan is daar die gevolge van elektrisiteitsprysverhogings wat ons nou gaan begin ervaar. Verder is die wisselkoers oorgewaardeer gesien die voortdurende groot tekort op die lopende rekening. Die wisselkoers sal dus die een of ander tyd aansienlik moet daal. In so ‘n klimaat is daar geen kans dat rentekoerse verlaag kan word nie as ‘n gesonde beleid die doelwit is. Inteendeel, daar is goeie argumente aan te voer waarom dit verder behoort te styg. Immers, die reële rentekoers, prima- min die inflasiekoers, was in Junie ‘n skrale 3,2% terwyl die internasionale norm 6% is. Spaarders boer ook agteruit aangesien die depositokoerse te laag is om hulle vir inflasie te vergoed en te meer so as hulle nog ‘n deel van rente inkomstes aan belasting moet afstaan.

Die tweede saak waarna ek wil verwys is die siening dat die betalingsbalansprobleem ook binnekort reggestel sal wees. Kom ons plaas ook dié saak onder die vergrootglas.

Die land leef nou vir etlike jare bo sy vermoë. Die groot lopende rekening tekort wat ontstaan het is hoofsaaklik deur die verkoop van finansiële bates aan buitelanders gefinansier. In die proses is bates verruil vir kontant wat die groei in die geldvoorraad laat versnel het, die wisselkoers sterk gehou het met die gevolg dat die inflasiekoers laag gebly het en rentekoerse vir lank laag gehou kon word ten spyte van skulvlakke wat sterk gestyg het weens ‘n groot groei in bankkrediet. Feitlik almal in die land was hoogs gelukkig want dit is wat hulle gesien en ervaar het. Wat nie sigbaar was nie, was die feit dat die land se bates verkoop word om die partytjie te finansier; dat die netto buitelandse laste skerp gestyg het en verder, dat die netto betaling van veral diwidende aan die buiteland ook skerp toegeneem het. Daar is nou maar eenmaal geen gratis ete nie!

Soos in Julie maand se oorsig op gewys is, bestaan die tekort op die lopende rekening weens die tekort op die handelsrekening wat ongeveer een derde van die tekort verteenwoordig terwyl die tekort op die dienste en inkome rekening verantwoordelik was vir twee derdes van die tekort in kw1:2008. Dit is dan ook veral netto diwidend- en rentebetalings wat hierdie tekort op die dienste en inkome rekening tans sterk voed en laat styg. My raming is dat die netto diwidend- en rentebetalings vanjaar meer as R80 miljard sal beloop.

As die diwidend- en rentebetalings R10 miljoen bedra en die oorskot op die handelsrekening is ook R10 miljoen dan word die rente en diwidende betaal uit die oorskot uitvoerverdienstes. As die handelsrekening egter nie ‘n oorskot toon nie, en alle ander dinge bly onveranderd, is daar ‘n tekort wat gefinansier moet word. Dit geskied deur buitelandse lenings of die verkoop van bates. In so ‘n geval word daar dus geld geleen of bates verkoop om diwidende en rentes te kan betaal.

Dit is presies wat tans in die RSA gebeur.  In die eerste kwartaal van vanjaar het die netto diwidend- en rentebetalings  byna R80 miljard beloop. Die tekort op die handelsbalans, (teen ‘n jaarkoers bereken), was egter meer as R60 miljard. Dus moet internasionaal ook geleen word of meer bates verkoop word om diwidende en rentes te betaal en word die netto buitelandse laste deurentyd groter. Inderwaarheid, om die posisie om te draai en reg te stel sal die handelsrekening in die komende jaar ‘n oorskot van meer as R80 miljard moet toon. Gegewe die tekort van R60 miljard in kw1:2008 verg dit dus ‘n swaai van R140 miljard op die handelsrekening. (Uitwissing van die R60 miljard tekort plus die netto betaling van rente en diwidende van R80 miljard.) Dit gaan nie maklik gebeur nie!

Die handelsrekening het wel in kw2:2008 verbeter. My skatting is dat die tekort sowat R25 miljard sal beloop (teen ‘n jaarkoers bereken), teenoor die tekort van R61 miljard in kw1 en ‘n tekort van R31 miljard ‘n jaar tevore.  Ek raam die tekort op die dienste en inkome rekening vir kw2 egter op R150 miljard wat ‘n toename op die alreeds groot tekort van R133 miljard van kw1 is. Die lopende rekening tekort kan dus effens verklein tot R175 miljard in kw2 wat steeds as baie hoog gesien moet word en die land steeds dwing om deurentyd groot bedrae te leen en bates te verkoop ten einde die tekort te kan finansier. Die tekort op die dienste en inkome rekening het dus die groot dryfveer vir die lopende rekening tekort geword en neem deurentyd toe en slegs ‘n reuse inkorting van invoer, met uitvoer wat ook moet verbeter, sal die saak kan beredder. In so ‘n klimaat is daar geen plek tans vir enige verlaging van rentekoerse nie. Inderwaarheid, indien rentekoerse nie verder verhoog word nie, sal die huidige rentekoersvlakke vir ‘n baie lang ruk gehandhaaf moet word en ideal gesien totdat die handelsrekening surplus voldoende is om die netto betaling van rente en diwidende te kan finansier. Die huidige optimisme oor ‘n spoedige regstelling van die lopende rekening tekort is dus voortydig. Inderwaarheid kan die vraag gestel word hoe lank daar op die huidige pas voortgegaan kan word alvorens die land se internasionale soewereine kredietgradering verlaag gaan word! Dit sal ‘n nuwe dimensie wees wat die wiselkoers sal laat daal, die inflasiekoers kan laat styg met verdere rentekoersverhogings dan feitlik onafwendbaar.

Wat die verloop van sake die afgelope maand betref gaan dit nie behandel word nie gesien die lengte van die huidige oorsig. ‘n Statistiese opsomming gaan egter hiermee saam wat die sleutelsyfers opsom.

A J Jacobs
2008-08-02
Tel 012 6585552
Sel 073 1539842