EKONOMIESE OORSIG: DESEMBER 2007

Samevatting

Die sub-prima gebeure wat sy oorsprong in die VSA gehad het, is steeds besig om in die VSA self maar ook in heelwat ander Westerse lande negatiewe ekonomies/finansiële gevolge op te lewer. Die gevaar is steeds aanwesig dat dit ekonomiese groeikoerse in dié lande nadelig kan raak wat wêreldwyd negatiewe ekonomiese gevolge tot gevolg kan hê. Finansiële markte in die wêreld reageer onseker op die gebeure en groot fluktuasies in aandelepryse word waargeneem. Weens die belangrike gebeure in die RSA self sal daar nie in hierdie oorsig verdere aandag aan die internasionale toneel gegee word nie.

Plaaslik kan die ekonomie en finansiële markte die internasionale gebeure nie vryspring nie. Daarby het daar belangrike verwikkelinge plaaslik voorgekom wat besondere aandag verdien. Daarop sal dus hoofsaaklik gekonsentreer word. Kortliks saamgevat kan vermeld word dat ekonomiese groei in die derde kwartaal beter as verwag verloop het, dat die inflasiesyfers teleurstellend was en besig is om ‘n groot kopseer te word, dat die groei in bankkrediet en geldvoorraad hoog bly, dat op die handelsbalans ‘n groot tekort aangeteken is, dat die wisselkoers groot spronge, in albei rigtings, gemaak het en dat die plaaslike effektebeurs ook uiters volatiel vertoon met kapitaalmarkrentekoerse wat gestyg het. Kommoditeitspryse is eweneens onstabiel. Daarby was daar politieke verwikkelinge wat verdere onsekerheid meegebring het.

Plaaslike gebeure

Die ekonomiese groeikoers, (reële BBP), vir die derde kwartaal van 2007 was beter as wat die algemene verwagting was. Verder toon dit ook ‘n versnelling op die groeikoers wat in die tweede kwartaal van vanjaar behaal is.

Die meegaande twee tabelle wat onderskeidelik die reële BBP groei teen ‘n jaar-op-jaar en kwartaal-op-kwartaal seisoenaal aangepaste basis en teen ‘n jaarkoers uitgedruk gee, toon dat j-o-j beskou die groeikoers vanaf 5,0% in die tweede kwartaal tot 5,1% in die derde toegeneem het terwyl die k-o-k groeikoers van 4,4% tot 4,7% versnel het. In laasgenoemde geval was die markverwagtinge nader aan 4%.

Alhoewel hoër ekonomiese groei altyd te verwelkom is, immers dit is myns insiens die finale doelwit waarna gestreef behoort te word, is die vraag waar die versnelde groei vandaan kom en of dit volhoubaar is?

Kom ons beskou die groeikoers van die belangrikste sektore op ‘n j-o-j grondslag aangesien dit die onderliggende tendens beter aandui. Soos blyk uit die meegaande tabel hieroor staan twee sektore uit waar die groei aansienlik versnel het of hoog bly. Die eerste is die konstruksie sektor waar die j-o-j reële groeikoers 17,8% beloop het gemeet op die vorige jaar se syfer wat reeds 14,8% beter was. Dit is nie ‘n verrassing nie aangesien dit algemeen bekend is dat daar lewendige konstruksie aktiwiteite voorkom met huisbou konstruksie die enigste wat blykbaar effens swakker neig. Wat egter in perspektief geplaas moet word is dat die konstruksie sektor ‘n relatief klein sektor is. In 2006 was sy bydrae tot die totale BBP 3,4%.

Die tweede sektor waar die groeikoers redelik hoog bly en selfs versnel het is finansies, vaste eiendom en besigheidsdienste. In hierdie geval het die j-o-j groei vanaf 6,9% in die tweede kwartaal tot 9,5% in die derde kwartaal versnel. Hierdie is ‘n groot sektor met ‘n bydrae van 21,5% tot die BBP in 2006. Indien daar ook gekyk word na die verloop van sake van kwartaal op kwartaal dan word gemerk dat teen ‘n jaarkoers daar ‘n versnelling in groei van 10,4% tot 12,1% was. Hierdie syfer is ‘n verrassing aangesien die verwagting was dat die stygende rentekoerse reeds die finansiële en eiendomsektore se aktiwiteitsvlakke nadelig sou kon raak. Volgens die syfers was dit blykbar nie die geval nie. Dit sou beteken dat die hoër rentekoerse tot en met die derde kwartaal min invloed op hierdie rentekoersensitiewe aktiwiteite gehad het. Indien wel die geval, is daar gevolglik ‘n saak uit te maak vir verdere rentekoersstygings.

Maar dan is daar ‘n paar sektore wat relatief swak en selfs swakker vertoon het. Landbou is een weens die nagevolge van die vorige seisoen se droogtetoestande. Die mynwese stel teleur gesien die sterk internasionale vraag na mynbou produkte. Die sektor het ook in 2005 en 2006 swak gevaar. Produksie probleme by myne weens stakings maar ook die sterk wisselkoers van die rand is waarskynlik faktore wat hier ‘n rol speel. Van hierdie sake het waarskynlik ook ‘n rol gespeel in die vertoning van die fabriekswese waar die groeikoers van 6,1% in kw1 tot 4,7% in kw2 en ‘n skamele 2,1% in kw3 verlangsaam het. (Sien ook die verloop van kwartaal-op-kwartaal waar dit in die tweede en derde kwartale selfs negatief was.) Faktore wat bykomend tot hierdie sektor se probleme kon bygedra het was die feit dat daar nie onbenutte produksiekapsiteite beskikbaar is nie aangesien die sektor gemiddeld teen 86% kapasiteitsvlakke werk. (Let daarop dat 85% kapasiteitsvlakke as normale volle produksievlakke gereken word.) Maar dan kan die vraag ook gevra word of die gereelde produksie onderbrekings weens kragafsnydings nie ook ‘n rol begin speel nie.

Ander interessante inligting wat uit die BBP gegewens na vore tree word kortliks saamgevat in die volgende paar punte.

 Die BBP deflator (inflasiekoers van binnelandse produksie) kan vanuit die syfers afgelei word. Dit blyk dat die BBP deflator in die jaar 2006 met 6,8% toegeneem het. In kw1 van vanjaar het hierdie syfer 9,4% beloop en verder tot 9,5% in kw2 versnel maar in die derde kwartaal skielik tot 7,9% verlangsaam. Indien laasgenoemde syfer te laag beraam is sal die reële groeikoers laer wees.

 Die loonrekening is besig om te versnel. In kw1 van vanjaar het dit j-o-j met 10,6% toegeneem, teen 11,6% in kw2 en verder teen 11,9% in kw3. Die gevolg hiervan is dat die eenheidsarbeidskoste in kw1 teen 4,6% gestyg het wat tot 6,3% en 6,5% in die daaropvolgende kwartale versnel het.

 Die bruto bedryfsurplus was in kw1 van vanjaar 20,6% hoër as ‘n jaar tevore. Sedertdien neig die stygingstempo laer en toon dit toenames van onderskeidelik 18,1% in kw2 en 14,8% in kw3.

 Nog ‘n interessantheid uit die verslag is die BBP per provinsie vir 2006 wat gepubliseer is. Waar die reële BBP vir die land as geheel in 2006 met 5,4% toegeneem het, was die hoogste styging per provinsie in Gauteng met 6,0% gevolg deur die Wes-Kaap met 5,9%. Al die ander provinsies se groeikoerse was laer as die land se gemiddelde met die Noord-Kaap wat die swakste gevaar het met slegs 3,1%. Die algemene swak vertoning van beide landbou en mynbou in 2006 kan as verklaring vir laasgenoemde dien. Anders gesien was die bydrae van Gauteng tot die totale BBP in 2006 33,6% gevolg deur KwaZulu-Natal met 16,3% en die Wes-Kaap met 14,6% om slegs maar die drie grootstes te noem. Die relatiewe bydraes tot die BBP het min oor die afgelope dekade verander.

Die onderskeie inflasiekoerse vir Oktober was deurgaans hoër as markverwagtinge. Die totale VPI syfer vir die land as geheel toon ‘n toename van 8,1% (7,5% in September), met die VPIX koers wat 7,3% (6,7%) beloop het. Die markverwagtinge was dat die VPIX koers teen ongeveer 7% sou styg. Dan het die kern inflasiekoers met 6,4% (5,5%) toegeneem. Die styging in die kern inflasiekoers dui daarop dat prysstygings besig is om oor ‘n breër front begin versnel. Dit is die vrees wat deurgaans bestaan het.

Die styging in voedselpryse is ook steeds besig om te versnel en toon ‘n styging van 12,3% (11,9%). Weens die sterk styging in veral voedselpryse toon die totale inflasiestyging vir die heel lae inkome groepe in die land ‘n besondere skerp styging van 11,8% (11,5% in September) met die lae inkome groepe waar die styging 11,0% (10,7%) beloop.

Die pryse van klerasie en skoeisel het volgens SSD in Oktober 2007 steeds gedaal. Hierdie twee poste toon dalings vir die afgelope jaar van 6,7% en 8,3% en is onderskeidelik 17,3% en 25,0% laer as in die jaar 2000.

Die produksieprysindeks vir Oktober toon ‘n styging van 9,5% (9,4%) met die pryse van plaaslik vervaardigde produkte wat met 10,2% (9,7%) en pryse van invoere wat met 7,5% (8,5%) toegeneem het. Die laer koers van toename in die pryse van invoer duur nou sedert Augustus toe dit met 9,7% gestyg het en kan grootliks toegeskryf word aan die wisselkoers van die rand wat, gemiddeld beoordeel, die laaste drie maande teenoor veral die VSA$, BP en jen merkbaar verstewig het maar teenoor die euro feitlik geen verandering toon nie. Die nadeel verbonde aan die sterker wisselkoers is dat uitvoer verdienstes swakker vertoon. So byvoorbeeld het die pryse in rand verkry op die uitvoermarkte in Oktober met 7,3% gestyg teenoor 8,3% wat in September behaal is.

Die vraag is nou hoe lyk vooruitsigte? Dit is ook die vraag wat die SA Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee op 5 en 6 Desember sal moet bepaal om te besluit of rentekoerse verder moet styg al dan nie. Om dit te probeer bepaal moet ‘n breër siening van gebeure geneem word aangesien, volgens ‘n uitspraak van Von Mises, alle dinge deur alle ander dinge beïnvloed word.

Wat is die belangrikste sake van belang?

1. Inflasie is en bly primêr ‘n oormaat geldverskynsel. Die jongste M3 geldvoorraadsyfer vir Oktober styg teen 23,4%. Sedert Oktober 2004 het M3 nou reeds met 78,3% -toegeneem - ‘n uiters gevaarlike verwikkeling. Hierdie toename is grootliks gedryf deur ‘n styging in bankkrediet wat die afgelope jaar tot Oktober steeds met 23,95% gestyg het. Onderliggend hiertoe is die styging in buitelandse bates weens die verkoop (omruiling) van finansiële bates vir kontant wat die primêre geldvoorraad voed.

2. Die styging in voedselpryse is ook ‘n groot bydraende faktor. Voedselpryse styg om verskeie redes soos die skerp verbetering in lewenstandaarde wêreldwyd wat die vraag na hoër proteïen kosse laat styg en dus veral die vraag na graan wat gebruik word as diere voedsel skerp laat styg het. Maar dan word graanprodukte en suiker ook aangewend vir bio-brandstofvervaardiging. Was dit nie hiervoor nie sou die ru-olieprys waarskynlik nog skerper gestyg het. Dan was daar ook aanbodsprobleme deurdat oeste nie oral in die wêreld na wense was nie. Sou dit verbeter kan dit help om pryse te laat stabiliseer of selfs te laat daal. In die RSA self moet die vraag gevra word in watter mate die regering se beleid om plase oor te dra aan mense wat nie kundig genoeg is of die ervaring het om te boer nie tot prysversnellings bygedra het. Dit moet onthou word dat die vraag na voedsel prys onelasties is. Dit beteken bloot maar dat ‘n klein afname in aanbod (produksie) tot ‘n meer as proporsionele persentasie toename in pryse lei.

3. Die styging in energiepryse, veral ru-olie is ook ‘n bydraende faktor. Soos die hieropvolgende grafiek tot November vanjaar aandui het die prys van ru-olie die afgelope tyd skerp gestyg.





Wat nou hierby verreken moet word is die verwagte skerp styging in die prys van elektrisiteit van ongeveer 14% vanaf 2008 met verdere groot prysstygings wat gaan volg ten einde Eskom se bou van nuwe kragstasies te help finansier. Dit moet nie uit die oog verloor word nie dat die prys van steenkool ook skerp stygings getoon het.

4. Arbeidskostes is besig om te versnel. Daarna is reeds verwys by die behandeling van die BBP syfers vir die derde kwartaal vanjaar. Dit dra daartoe by dat die eenheidskoste van produksie (EKP) skerp toeneem. Volgens my berekenings het die EKP in die fabriekswese in Oktober ongeveer 11% gestyg wat heelwat vinniger was as die verkooppryse van produkte. Dit dui op verdere
versnelling in pryse van fabrieksprodukte in komende maande.

5. Die wisselkoers van die rand bly die belangrikste enkele prys in die SA ekonomie. Daar kan min twyfel bestaan dat dit oorgewaardeer is - grootliks veroorsaak deur die groot invloei van veral portefeulje kapitaal. Dat daar die een of ander tyd ‘n regstelling in die waarde van die wisselkoers sal intree is nie te betwyfel nie. Die inflasiegevolge daarvan kan baie ernstig wees.

6. Die vraag is nou ook wat besig is om met inflasieverwagtings te gebeur. Tot onlangs toe nog was die meeste deelnemers aan die opinie opname hieroor redelik positief dat die inflasiekoers binnekort weer sou kon begin daal. Hierdie siening kan verander en dit sal inwoners en buitelanders ooreenkomstig laat optree in hulle sake en beleggingsbesluite. Ook dit kan tot verdere inflasieversnelling lei.

7. Daar is tans baie min surplus produksiekapasiteite in die ekonomie aanwesig. Ook dit is ‘n faktor wat in die verlede tot inflasiedruk bygedra het.

8. Politieke verwikkelinge kan ook in die komende tyd sterk na vore begin tree as ‘n saak wat inflasie kan voed. Dit kan veral via die wisselkoers van die rand gebeur indien kapitaalvloeië op die betalingsbalans onvoldoende word om die lopende rekening tekort te finansier.

Voorgaande sake dui daarop dat die inflasiekoers heelwat meer kan versnel as wat die algemene verwagting is. Tensy die Reserwebank ondersteuning kry vanaf fiskale en ander beleidsrigtings sal dit geen ander keuse hê as om rentekoerse verder te verhoog nie en kan die stygings meer wees as wat tans algemeen verwag word.

Kapitaalmarkrentekoerse het die afgelope maand dan ook reeds redelik skerp gestyg. Die korter uitstaande looptyd R153 staatseffek se koers het teen einde November op 9,49% gestaan teenoor ‘n koers van 8,79% ‘n maand tevore. Dit is ‘n styging van 70 basis punte en dui daarop dat die kapitaalmark tans ‘n moontlike rentekoersstyging deur die SARB van selfs meer as 50 basis punte verdiskonteer. Die langtermyn R157 se koers het die afgelope maand met byna 50 basis punte gestyg. Hier speel verwagtinge van ‘n groter vraag na kapitaalmarkfondse deur instansies soos Eskom en andere saamgesien met die stygende inflasiekoers ‘n rol. Verdere stygings in kapitaalmarkrentekoerse moet dan ook te wagte wees.

Die handelsyfers vir Oktober was allermins gerusstellend. Die handelstekort vir die maand het R14,7 miljard beloop teenoor die R12,9 miljard tekort van die vorige jaar. In albei maande het groot brandstof invoer die syfer verhoog. Die tekort vir die eerste tien maande is 26,7% hoër as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar wat tot gevolg gaan hê dat die lopende rekening tekort vir die jaar aansienlik groter as die van verlede jaar gaan wees. Vir die derde kwartaal vanjaar word veral ‘n besondere groot tekort voorsien.

Finansiële markte was die afgelope maand baie onstabiel. Groot skommelings het in die valutamark en ook op die aandelemark voorgekom. Dit dui op groter onsekerhede wat aan die opbou is – internasionaal en op die plaaslike markte. Byvoorbeeld, in die tydperk 26/10/2007 tot 23/11/2007 het die pryse van aandele op die Japannese beurs met 11,4% gedaal om op 30/11/2007 weer 5,3% sterker te staan. Die Dow het in dieselfde periodes eers met 4,0% verswak en toe met 3,0% gestyg terwyl die JSB se totale indeks in die eerste tydperk met 5,5% gedaal het om daarna met 2,4% te styg.

A J Jacobs
2007-12-03