EKONOMIESE OORSIG: FEBRUARIE 2008

Samevatting

Die finansiële krisis in die VSA het die afgelope maande groot internasionale gevolge meegebring. Pryse van aandele wêreldwyd het gedaal, die IMF beraam nou wêreld ekonomiese groeivooruitsigte laer as wat voorheen voorsien was en die VSA huiwer op die rand van ‘n resessie met die gevolg dat die Fed rentekoerse redelik dramaties verlaag het terwyl ‘n fiskale vraagstimulasie pakket ingestel word. Daar moet egter op gewys word dat die huidige gebeure tans nog nie ‘n ekonomiese krisis is nie maar wel grootliks ‘n finansiële krisis is wat wel negatiewe ekonomiese gevolge meebring wat kan vererger.

Suid-Afrika met sy relatief klein maar besonder oop ekonomie kon hierdie internasionale gebeure nie vryspring nie. Daarby het die land te kampe met probleme van sy eie soos groot wanbalanse wat ervaar word en in die jongste tyd ook struktuur probleme, veral sover dit die verskaffing van infrastruktuur ondersteuningsdienste betref. Dan is daar die afgelope tyd ook ervaar dat buitelanders netto verkopers van aandele en effekte was. Die inflasiekoers bly opwaarts beur. Gevolglik het die wisselkoers van die rand verswak, neig kapitaalmarkrentekoerse hoër en het aandeelpryse van veral handelaars en banke skerp gedaal.

Internasionale gebeure

Die VSA se ekonomiese groeikoers vir die 4de kw van 2007, teen ‘n jaarkoers bereken, het ‘n skrale 0,6% beloop met die groei vir die jaar 2007 sowat 2,2%. Daarby vertoon die eiendomsmark steeds swak en het die getal mense op wie se huise beslag gelê is weens hul onvermoë om hulle verbande te kan terugbetaal, skerp toegeneem. Banke het groot verliese bekendgemaak met die gevolg dat bankaandele se pryse skerp gedaal het en banke se vermoë om lenings toe te staan hierdeur ingekort kan word. In kort, die VSA huiwer op die rand van ‘n resessie en derhalwe het die Fed sy rentekoers aan banke die afgelope maand by twee geleenthede verder verlaag – eers met 0,75 en toe weer met 0,5 van ‘n persentasiepunt. Daarby word van fiskale kant beoog om belastingtoegewings van meer as $150 miljard in te stel. Duidelik, ‘n tipiese Keynesiaanse benadering om binnelandse besteding te stimuleer. Daar is uiteraard risiko’s hieraan verbonde soos dat die inflasiekoers weer kan versnel en die reeds groot lopende rekening tekort verder kan toeneem. Die beleidsmakers in die VSA het hierdie risiko’s egter teen mekaar opgeweeg en is besluit dat die risiko van ‘n resessie groter weeg vir die huidige. Ek glo dan ook dat die VSA ekonomie in die komende jaar matig sal herstel veral ook omdat die VSA$ baie mededingend geprys is.

Die gebeure in die VSA het egter sy neerslag wêreldwyd gehad. Die gevolg is dat op die jongste byeenkoms van sakelui en wêreldleiers te Davos, daar ‘n groter mate van nugterheid oor die wêreld ekonomie te bespeur was as wat die geval ‘n jaar gelede was. In kort, daar is erken dat alles nie so rooskleurig was as wat die meeste afgevaardigdes verlede jaar gemeen het nie. Die gebeure het ook daartoe gelei dat die IMF die ekonomiese groeikoers vir die wêreld vir 2008 afwaarts vanaf ongeveer 4,8% voorheen beraam tot 4% aangepas het met die waarskuwing daarby dat dit dalk eerder swakker as beter kan wees. Steeds nie sleg na jare van baie goeie groei nie maar tog laer as voorheen. Dit het tot gevolg dat die druk op kommoditeitspryse kan verlig wat die druk op inflasie ook kan laat afneem. Maar dit beteken ook dat die vraag na en prys van kommoditeite laer kan wees as voorheen voorsien, wat dan veral vir kommoditeitsuitvoerlande ook swakker ekonomiese toestande voorspel as wat van te vore voorsien is. Dit hou ook belangrike betalingsbalans implikasies in.

Intussen bly die nuus uit Sjina en die meeste ander Asiatiese lande, per saldo gesien, steeds gunstig. Die verwagtinge is egter dat die groeikoerse in die komende jaar tog effens sal verlangsaam met inflasiedruk wat kommer wek.

Plaaslike verwikkelinge

Die Suid-Afrikaanse ekonomie betree ‘n tydvak wat besondere uitdagings inhou en wat interresante tye voorspel. Ons betree in ‘n sekere sin ‘n tydperk wat nog nie voorheen ervaar is nie en derhalwe is die uitkoms daarvan ook nie so maklik te bepaal nie. Om my gedagtegang in perspektief te plaas moet lesers nou die volgende sake deurentyd voor oë hou.

  1. Die wêreldwye ekonomiese en finansiële gebeure soos reeds op gewys.
  2. Die feit dat die land redelike ernstige strukturele probleme ervaar wat aan die produksiekant (aanbodkant) van die ekonomie sekere, en tans grootliks onvoorsiene, gevolge kan hê.
  3. Die feit dat daar groot wanbalanse in die ekonomie voorkom wat nie oornag sonder ernstige ontwrigting reggestel kan word nie.
  4. ‘n Politieke klimaat wat tot ekonomies/finansiële onstabiliteit kan bydra

Wat die tweede punt betref moet begryp word dat ekonomiese groei (die reële BBP) ‘n funksie is van ‘n land se arbeids- en kapitaalbronne (die primêre produksiefaktore) wat deur die sekondêre produksiefaktore soos sy vermoë om nuwe tegnologie te implementeer en deur energie, water en grondbronne onderskraag word.  Die realiteit is dat die land nie oor voldoende geskoolde mannekragbronne beskik nie en die posisie vererger deur netto emigrasie van kundiges en swak skolastiese resultate. Die verdere realiteit is dat die land se eie kapitaalbronne (spaarfondse) skraps is en nie ‘n hoë koers van vaste investering kan finansier nie. Hierdie twee faktore word nou reeds vir ‘n geruime tyd erken as ernstige strukturele knelpunte wat die groeipotensiaal van die ekonomie volgens kundiges tot 4% per jaar gemiddeld beperk. Hierby moet nou die probleem van ‘n gebrekkige en verswakkende infrastruktuur, (fisies sowel as sosiale infrastruktuur), gevoeg word. Myns insiens word hierdie knelpunte nog nie na behore verdiskonteer nie. Dit verlaag die groeipotensiaal verder. Dit is ook ‘n nuwe verwikkeling waarvan ons tans nog nie seker is wat die volle impak daarvan gaan wees nie. Verder wil dit voorkom asof dié beperkinge in die afsienbare tyd eerder kan vererger as wat dit kan verminder. In die besonder word natuurlik hier verwys na die ernstige tekort aan vermoë om elektrisiteit te kan opwek. Dit verg geen groot kundigheid om te begryp dat daar ‘n noue verband bestaan tussen die beskikbaarheid van elektrisiteit en ‘n land se groeikoers nie.   

Interessantheidshalwe wil ek net ‘n oomblik by hierdie saak stilstaan voordat na die hoof gedagtegang rakende ekonomiese groeivooruitsigte teruggekeer word.

Die volgende verwantskap tussen elektrisiteit aangewend in die RSA en die BBP, gemeet oor die afgelope 25 jaar, blyk van krag te wees. BBP  =  2,0% + 0,33*(jaarlike verandering in elektrisiteitsverbruik). Dus, as die jaarlikse toename in elektrisiteitsverbruik 3% is dan kan verwag word dat die BBP ongeveer 2% + (0,33*3%)  dws 2% + 1%  = 3% sal wees. Sou alles dieselfde bly maar kraglewering bly konstant, m a w geen toename in elektrisiteitsverkope nie, dan kan die BBP tot 2% verlangsaam. Sou daar ‘n afname in kraglewering wees dan uiteraard vererger die probleem. Byvoorbeeld, gestel kraglewering daal met 3% dan sal die groeikoers tot ongeveer 1% daal tensy die produktiewe aanwending van elektrisiteit toeneem en/of van alternatiewe energiebronne gebruik gemaak word soos byvoorbeeld vloeibare brandstof, gas en sonkrag. Daar is egter ook ‘n prys hieraan verbonde.

Hierdie basiese beskouïng van die saak, (wat ook al die finale uitkoms werklik gaan wees), dui daarop dat die situasie  t o v  die lewering van elektrisiteit ernstig is. Sonder om verder op die saak in te gaan, beteken dit bloot dat onvoldoende elektrisiteit die groeipotensiaal van die land inkort.

Aansluitend by voorgaande twee sake, die wêreld ekonomiese klimaat en die struktuurknelpunte, moet ook na die bestaande wanbalanse in die ekonomie gekyk word. Dit vind grootliks sy neerslag in die verloop van die sakesiklus wat weer hoofsaaklik daarop neerkom of die land binne sy vermoë leef of anders gesien, of besparing voldoende is om investering te finansier en dus hoe groot die tekort (of oorskot) op die lopende rekening van die betalingsbalans is.

Die realiteit van die saak is dat die land se inwoners, gemiddeld beoordeel, nou vir etlike jare bo hulle vermoë leef en dat daar ‘n besparingstekort, relatief gemeet tot die vraag na investeringsfondse, is. Die omvang hiervan is dat die wanbalans in die jaar 2006 R112 miljard of 6,5% van die BBP beloop het wat in 2007 waarskynlik tot R140 miljard of sowat 7,2% van die BBP toegeneem het. Dit dui ook die omvang aan in watter mate die land van buitelandse kapitaalbronne afhanklik is om te verhoed dat die wanbalanse tot wisselkoers-, inflasie en stygende rentekoersprobleme sal lei. Tot word voorsien dat in 2008 hierdie wanbalanse groot sal bly.

Soos sake staan neig die inflasiekoers hoër. Daar is ‘n mate van druk op die wisselkoers en rentekoerse het ook reeds gestyg. Dit alles het ten doel om binnelandse besteding in te kort ten einde groter ewewig in die ekonomie te bewerkstellig. Dit moet egter besef word dat gegewe ‘n swakker eksterne klimaat en ‘n verswakking aan die struktuurkant van die ekonomie, die mate van aanpassing op die vraagkant groter as gewoonlik sal moet wees of dat die aanpassing langer sal duur. In kort, dit lyk of die produksiekant (BBP) kan verlangsaam maar die vraagkant moet meer as proporsioneel ingekort word om die wanbalanse aan te spreek.

Streng gesproke moet daar egter nie na die verhouding van die BBP versus die BBB gekyk word nie maar wel na die BNI (bruto nasionale inkome) en die BBB wat die tekort op die lopende rekening bepaal. Die probleem is nou dat met die voortdurende tekort op die lopende rekening van die afgelope aantal jare die netto buitelandse verpligtinge toegeneem het en daarmee saam veral diwidendbetalings. Die gevolg is dat die tekort op die dienste en inkome rekening van die betalingsbalans skerp gestyg het wat beteken dat netto buitelandse faktorbetalings toeneem wat die BNI toenamekoers afwater. Dus nog méér rede tot ‘n inkorting van besteding om die wanbalanse in te kort.

Die vierde potensiële probleem is in die politiek geleë. Hieroor gaan ek nie veel sê nie behalwe dat in ANC geledere dit aan die een kant gaan oor die behoud van politieke mag teenoor die verkryging daarvan deur andere. Dit kan tot onstabiliteit lei wat die ekonomiese vraagstukke in die land kan vererger.

Teen voorgaande agtergrond word nou die volgende ervaar.

 

Die vraag is nou: wat kan vir die res van die jaar te wagte wees?

In die huidige omstandighede is daar baie onsekerhede en moet daar uiteraard heelwat belangrike aannames gemaak word. Op dié terrein kan groot gefouteer word en daarom wil ek waarsku teen ‘n té rigiede of simplistiese siening. Sake is uiters vloeibaar en baie sake onvoorspelbaar. Ek verwag egter dat die reële BBP met ongeveer 3% sal styg wat in huidige omstandighede steeds as bevredigend beskou moet word. Die BNI kan egter met ‘n kleiner persentasie toeneem. Die grootste aanpassing kan egter vanaf die BBB kom wat beteken dat binnelandse besteding aansienlik stadiger as verlede jaar kan styg. Uitvoer kan hou en afhangende van produksie beperkings nie sleg vaar nie terwyl invoer, weens ‘n swakker BBB groei, kan daal. Die lopende rekening tekort kan egter groot bly (7% tot 8% van die BBP) met die wisselkoers wat kan verswak en kapitaalmarkrentekoerse wat verder kan styg. 

Wat die beurs betref kan randverskanste aandele redelik goed vaar mits daar voldoende geproduseer kan word. Aandele van maatskappye waar verbruiksbesteding belangrik is, (soos die motorbedryf, meubels en “witgoedere”, die banke en selfs die eiendomsmark), kan egter moeilike handelstoestande ervaar en hulle winste kan óf daal óf aansienlik verlangsaam. Die gevolg is dat maatskappywinste, gemiddeld beoordeel, stadiger as in 2007 kan toeneem. Soos blyk uit die onderstaande grafiek is die verloop van die netto bedryfsurplus baie onstabiel en gee dit gewoonlik mee tydens probleem tye soos met die afswaaifases van die sakesiklus. Dit kan weer gebeur en waarskynlik selfs meer so as in die verlede weens produksie probleme.

Verder moet in gedagte gehou word dat in tye van onsekerheid en stygende rentekoerse, prys/verdienste verhoudings neig om te daal. Dit kan weer gebeur en derhalwe is die vooruitsigte vir beurspryse in die komende jaar onseker met slegs buitelandse beleggings en rand verskansers wat in reële terme beter kan vaar.

 

 

                                    P/E RATIOS: MONTHLY


 
A J Jacobs
2008-02-01