EKONOMIESE OORSIG: MEI 2008
Samevatting
Internasionaal en plaaslik het belangrike veranderings in die vooruitsigte vir ekonomieë die afgelope maand na vore getree.
Internasionaal duur die verlangsaming van die wêreld ekonomie voort met aanduidings dat inflasiekoerse kan versnel. In die VSA is die Fed se bankkoers verder verlaag. Aanduidings is egter dat dit nie verder gaan daal nie. Die groeikoers in die VSA was in kw1 teen ‘n jaarkoers gereken klein positief en dieselfde as die van kw4 van 2007. Belangrik egter is dat die VSA$ die afgelope weke teenoor die ander belangrike geldeenhede versterk het. Voorvermelde sake het tot ‘n daling in kommoditeitspryse gelei met veral die goud-, platinum- en silwerpryse wat verswak het. Die prys van ru-olie bly egter hoog. Voedselpryse en die beskikbaarheid daarvan is ‘n saak wat internasionaal groot kommer wek.
In die RSA is die inflasievraagstuk tans van oorheersende belang. In hierdie oorsig sal hoofsaaklik hierop gekonsentreer word. Die Reserwebank het die repo-koers met ‘n verdere 0,5 van ‘n persentasiepunt verhoog. Kapitaalmarkrentekoerse neig hoër wat ‘n aanduiding is dat inflasieverwagtings toeneem en verdere rentekoersstygings verwag word. Aanduidings is verder dat die groeikoers verlangsaam, dat die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans groot bly terwyl die groei in bankkrediet onaanvaarbaar hoog bly. Verdere rentekoersstygings lyk dus na ‘n sterk moontlikheid.
Internasionale verwikkelinge
In die VSA is die aanduidings dat die ekonomiese groeikoers waarskynlik nie negatief sal draai nie maar vir ‘n geruime tyd redelik beskeie sal bly. In beide kw4 van 2007 en kw1 van vanjaar het die reële groeikoers teen ‘n jaarkoers bereken slegs 0,6% beloop. Feitlik al die binnelandse vraagkomponente het in kw1 swakker geneig met die uitsondering van voorraadvlakke wat gestyg het. Dit dui egter op swakker bestellings in komende maande totdat vooraadvlakke weer afgebou is. Met die VSA$ wisselkoers wat mededingend is het uitvoere gestyg. Die aanduidings is dat die groot vraagstimuleringspakkette sal verhoed dat die VSA ekonomie ‘n resesssie, dws twee kwartale van negatiewe groei, sal ervaar.
Hiermee saam egter moet besef word dat ‘n versnelling in die inflasiekoers ‘n
groter moontlikheid word. Alhoewel die Fed dus die afgelope maand die bankkoers
met ‘n verdere 0,25 van ‘n persentasiepunt tot 2% verlaag het,
is die aanduidings dat die moontlikheid van verdere dalings hierin tans onwaarskynlik
is. (In Brittanje is die bankkoers ook verlaag maar in Euroland is dit onveranderd
gelaat.) Dit moet onthou word dat redelike groot belastinguitbetalings tans
ook in werking tree wat sowat $160 miljard in die hande van die publiek plaas.
Wat hiermee saamgelees moet word is dat saketoestande in die res van die wêreld
aan die verlangsaam is. Veral in Europa en Japan word traer sake-aktiwitete
gerapporteer maar in die jongste tyd ook in lande soos Suid-Korea wat, soos
Japan, ‘n groot uitvoerland is. Die IMF het wêreld groeivooruitsigte
dan ook verder afgeskaal.
Wat interessant is, is dat waar maatskappywinste in die VSA in totaal in die
eerste kwartaal van vanjaar gedaal het, ‘n duidelike onderskeid tussen
winste van die finansiële sektor en huisbou en aanverwante bedrywe en
andersins die van ander maatskappye gemaak moet word. Met die sub-prima krisis
het banke en bouaktwiteite groot winsdalings en selfs verliese getoon. Daarenteen
was die winste van ander maatskappye meestal positief en het dit per saldo
winsverwagtinge oortref. Een belangrike rede hiervoor is dat die VSA$ internasionaal
mededingend is maar daar word ook oor ‘n wye front kostes besnoei wat
ongelukkig lei tot ‘n daling in werksgeleenthede.
Dit word nie altyd besef hoeveel die VSA$ reeds teenoor van die ander belangrike geldeenhede verswak het nie. Byvoorbeeld, teenoor die euro, direkte kwotasie basis gemeet dws die aantal $ per euro, blyk dit dat op 27/10/2000 sowat $0,83 benodig was om een euro te koop. Op 18/4/2008 moes egter $1,58 daarvoor opgedok word. Dit beteken oor die tydperk gemeet tans sowat 90% meer $’s betaal moet word vir ‘n euro. Invoere vanaf Euroland word dus duurder maar uitvoer vanaf die VSA word meer mededingend. (Daarom dat Boeing se winste in kw1 met 38% gestyg het maar Airbus in Euroland sukkel om mee te ding en om wins te maak.) Ook verdien die VSA internasionale maatskappye meer in $-terme vir winste wat deur hulle filiale in Euroland, Japan, Sjina en ander lande gemaak word. Dit verklaar grootliks waarom die nie-finansiële sektor se winste in die VSA stewig bly. Die teendeel geld egter vir maatskappywinste in Euroland en Japan. (Net ter inligting: sover dit die waarde van die $ teenoor die jen aangaan, indirekte kwotasie basis, blyk dit dat op 8/2/2002 134,7 jen vir ‘n $1 betaal moes word wat tot 99,2 jen per $1 op 28/3/2008 gedaal het.)
Die algemene gevoel onder markdeelnemers is dat die VSA$ sowat 20% ondergewaardeer teenoor die euro is en so ook teenoor ander geldeenhede alhoewel die mate waartoe dit teen dié geldeenhede ondergewaardeer is, nie so groot is nie. Teen dié agtergrond is die gevoel verder dat alhoewel winste van finansiële en konstruksie maatskappye in kw2 steeds onder druk gaan wees, die grootste van die aanpassing deur banke nou reeds gedoen is. Sommige markkommentators verwag dan ook dat winste van banke in die VSA in die laaste helfte van vanjaar en in 2009 skerp vanaf huidige lae vlakke kan verbeter.
Die gevolg van hierdie faktore is dat daar ook groter optimisme ingetree het dat die VSA$ in komende maande kan versterk. Die blote verwagting hiervan lei reeds daartoe dat beleggers $’s aankoop. Die $ het in die afgelope drie weke tot 2/5/2008, dan ook reeds met sowat 4% in waarde teenoor die euro versterk met ‘n styging van sowat 3% teenoor die jen.
‘n Uitvloeisel van ‘n wêreldekonomie wat stadiger groei en ‘n sterker $ is dat kommoditeitspryse die afgelope tyd verswak het. Enkele weke geleke nog was die prys van goud meer as $1 000 per ons en die platinumprys het tot meer as $2 160 per ons gestyg. Op 2 Mei vanjaar het hierdie pryse verlangsaam tot $858 en $1 905 onderskeidelik. ‘n Verdere gevolg is dat aandeelpryse in die VSA, Euroland, die VK en in ander lande soos Japan, die afgelope weke hoër geneig het.
Daar is die vraag wat gevra word: wanneer stap mens uit ‘n bos uit? Die antwoord: sodra jy by die middelpunt verby is. Welliswaar is jy dan steeds nog in die bos maar jy stap nie meer dieper die bos in nie. Dit is waar die VSA ekonomie en daarmee saam ander wêreld ekonomieë hulle tans begin bevind. Die styging in aandeelpryse onderskraag dan ook die siening.
‘n Laaste saak van groot belang op internasionale gebied is ‘n
dreigende voedseltekort. Soos sake staan gee dit reeds aanleiding tot stygende
voedselpryse wat dit buite die bereik van massas arm mense plaas. Om kortliks
enkele syfers in die verband te noem die volgende. Die prys van rys het vanaf
$375 per ton op 3/1/2008 tot meer as $1 000 per ton op 24/4/2008 gestyg. Dit
verteenwoordig ‘n styging van 167%. Die internasionale $-pryse van koring
het die afgelope jaar met 57% gestyg, die prys van mielies is 65% hoër
en suiker kos 28% meer. Hierdie saak is ‘n potensiële tydbom wat
groot probleme op vele terreine kan veroorsaak.
Plaaslike gebeure
Die onderskeie inflasiemetings het in Maart verdere versnellings getoon. Die totale VPI vir die land as geheel was in Maart 10,5% hoër as ‘n jaar tevore, (10,0% in Februarie), met die VPIX wat met 10,1% (9,4%) toegeneem het. Die kerninflasiekoers, wat rentekostes en sekere voedselpryse uitsluit, het met 9,8% (8,9% in Februarie), gestyg met voedselpryse wat 15,3% (14,1%) hoër as ‘n jaar tevore was.
Sover die PPI betref, het plaaslik geproduseerde kommoditeite, met 12,9% (12,1% gestyg) met invoerpyse wat 15,9% (14,9%) hoër was. Die gemiddelde prysstygings op PPI vlak was sowat 13,7% (12,8%) wat hoër was as die tempo waarteen VPI pryse gestyg het. Dit dui op ‘n verdere versnelling in die VPI in komende maande.
Dit die jongste feitelike situasie. Maar laat ons die saak van inflasie in meer diepte nagaan ook om te kyk wat huidiglik aan die saak gedoen kan word.
Om by die begin te begin: wat is inflasie? Die formele definisie lui as volg. “Inflasie is ‘n voortdurende styging in pryse van goedere en dienste oor ‘n wye front.” Dit beteken dat daar iets gemeenskapliks moet wees wat alle (of die meeste) pryse oor ‘n wye front laat styg. Hierdie iets gemeenskapliks is vraag wat vinniger styg as die aanbod van goedere en dienste wat kan gebeur as op vorige jare se besparing ingeteer word en/of deur die gebruikmaking van bankkrediet/geldskepping. Immers, inflasie is en bly in die finale instansie ‘n oormaat geld verskynsel. Sonder geld, kan daar geen inflasie wees nie! Dit kan natuurlik ook gebeur dat iets verkeerd loop aan die produksiekant van die ekonomie en dat daar dan steeds ‘n oormaat vraag relatief tot produksie (aanbod) kan wees wat dan ook tot ‘n hoër inflasiekoers kan lei. Dit kan ook gebeur as ‘n ekonomie teen volle produksiekapasiteite werk en die vraag steeds styg. Wat gaan die tekort aan elektrisiteit aan produksie doen? Ook dit kan die wanbalans wat bestaan laat toeneem of hoog hou en dus ook die inflasiekoers.
As ons die situasie van die afgelope jaar of wat ontleed sal gemerk word dat daar veral twee produkgroepe was wat die inflasiekoers opgedruk het te wete voedselpryse en vloeibare brandstofpryse. Dit het nie ingepas by die formele definisie van inflasie in sy ware betekenis nie. Om dié rede is sommiges dan ook van mening dat rentekoerse nie gebruik kan word om die inflasiekoers te beteuel nie want “wat gaan dit immers doen om hierdie prysstygings te bekamp.” Op die oog af ‘n baie geldige siening.
Die probleem is egter dat indien sodanige versnelling van pryse deur ‘n te sterk toename in die geldvoorraad geakkommodeer word, dit inderdaad in ‘n inflasiespiraal kan oorgaan. Immers, ‘n styging in die inflasiekoers kan lei tot groter looneise. Andersins, kan ‘n wanbalans tussen vraag en aanbod lei tot ‘n tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans wat, indien nie gefinansier deur ‘n netto invloei van fondse vanuit die buiteland nie, tot ‘n verswakking in die wisselkoers kan lei. Dit sal dan noodwendig daartoe lei dat invoere se pryse styg wat sal deursuur na binnelandse prysstygings. Maar let daarop dat indien die geldvoorraad onder beheer is daar nie ‘n wanbalans of lopende rekening tekort kan ontstaan nie – mits daar natuurlik nie produksieprobleme voorkom nie.
Die feit van die saak is dus dat indien daar ‘n wanbalans tussen vraag en aanbod is wat tot ‘n tekort op die lopende rekening lei dit bloot beteken dat RSA inwoners as groep kunsmatig meer uit die ekonomie wil haal as wat hulle terugsit of produseer. Dit kan tydelik teengewerk word deur reserwes wat in die verlede opgebou is te gebruik om die wisselkoers te beskerm of deur ‘n netto invloei van kapitaal vanaf die buiteland. Uiteindelik egter sal die inflasiekoers styg alhoewel die sloerings dus soms lank mag wees want die reserwes sal nie vir ewig hou nie en so ook sal die land se internasionale kredietwaardigheid in gedrang kom wat die wisselkoers van die rand sal laat verswak.
Die stygende voedselpryse is uiteraard ‘n ernstige vraagstuk – internasionaal soos reeds vermeld maar ook in die RSA. ‘n Instansie soos Cosatu het betoog teen die hoër voedselpryse en die IMF het gevra vir optrede om dit teen te werk.
Ek vermoed Cosatu sal mettertyd kom met versoeke vir prysbeheer as voorstel om die probleem te besweer. Dit is nie die antwoord nie. Pryse styg immers omdat die vraag na voedsel vinniger styg as die aanbod (produksie) daarvan internasionaal en ook plaaslik. Immers, tot onlangs was die RSA een van sewe lande in die wêreld wat ‘n netto uitvoerder van voedsel was. Nou, volgens berigte, is die RSA ‘n netto invoerder daarvan.
Kan ons betoog dat voedselprodukte nie vir bio-brandstowwe gebruik moet word nie? Ja, maar dan sal die olieprys verder styg want bio-brandstowwe verlig die olie tekort in ‘n mate. Maar gewasse anders as voedselprodukte kan wel hiervoor gebruik word.
In die RSA self het ons egter ‘n unieke probleem soos in Zimbabwe. Dit is dat landbouers wat kan produseer van hulle plase afgesit word ten gunste van diegene wat geen ervaring of bewese rekord het dat hulle vir die mark kan produseer nie maar slegs ‘n bestaansboerdery bedryf. Wat is die implikasies hiervan?
Hier moet ons nou na die pryselastisiteit van die vraag na voedselprodukte kyk want, behalwe nadelige klimaatstoestande en die roof- en moordaanvalle wat ook produksie benadeel, is dit ‘n belangrike bydraende faktor wat in aanmerking geneem moet word.

Uit voorgaande is dit duidelik dat omdat die vraag na voedsel prysonelasties is, (mense moet kos hê om te kan leef), is die gevolg dat ‘n skerp prysstyging die vraag daarna slegs marginaal sal laat daal. Wat egter ook waar is, is dat ‘n marginale daling in produksie, van H1 na H2, die prys skerp kan laat styg vanaf P1 na P2.
Cosatu ondersteun die regering se beleid van grondgryp. Dit lei tot laer produksie en dus ook hoër pryse. Maar dan moet onthou word dat die landbouers se kostes ook skerp styg. Kunsmispryse, diesel, landboumasjinerie ensomeer se pryse het die afgelope jaar besonder skerp toegeneem. As die prys van voedsel nie sou styg nie sal bloot minder geproduseer word aangesien dit dan onekonomies sal wees om te produseer.
Dit alles dui net op een ding. Prysbeheer is nie die antwoord nie maar wel pogings om produksie te stimuleer. Beskerm die landbouers dus teen aanvalle, stop die ondeurdagte grondgrypplanne en daardeur kan ‘n positiewe bydrae gemaak word om pryse by die plaashek van voedsel so laag as moontlik te hou.
Dan natuurlik moet gekyk word na die verspreiding van voedsel en veral of daar nie monopolistiese of semi-monopolitiese praktyke is waar sekere groepe bloot hulle winsmarges abnormaal verhoog veral waar daar ‘n tekort aan voedselsoorte is.
Wat energiepryse betref is daar bloot ‘n tekort aan ru-olie in die wêreld. Die vraag daarna sal moet daal en/of die aanbod moet toeneem of alternatiewe energiebronne vir vloeibare brandstof sal ontwikkel moet word. Op die korttermyn blyk dit dat min aan die probleem gedoen kan word maar op die duur sal die probleem wel op verskeie maniere aangespreek word mits die kragte van vraag en aanbod gerespekteer word.
Die vooruitsigte vir inflasie lyk tans nie goed nie. Die groei in die geldvoorraad is té hoog en die lopende rekening tekort bly té groot. Dit gaan groot probleme meebring. Dan is inflasieverwagtings aan die toeneem soos onder andere blyk uit die styging in kapitaalmarkrentekoerse. Verder moet verwag word dat looneise vanjaar aansienlik hoër as verlede jaar gaan wees en dat dit waarskynlik deels geakkommodeer sal word. Dit lei tot verdere koste druk en dus hoër inflasie maar waarskynlik ook groter werkloosheid. Dan is Eskom ook nog in die prentjie en so ook munisipalitete wat almal met aansienlike verhogings in tariewe gaan kom. Die wisselkoers van die rand het nou wel die afgelope maand effens verbeter maar op die duur lyk dit kwesbaar en is dit in elk geval tans heelwat swakker, sowat 20%, as ‘n jaar gelede.
Hoe nou gemaak? Wel, terug na basiese beginsels in die ekonomie. Kry die groei in die geldvoorraad onder beheer anders gaan die inflasie probleem vererger, sal die rand skerp verder moet depressieer en kan dit die ekonomiese groeipotensiaal ondergrawe. Om te verhoed dat die inflasiekoers verdere momentum opbou vereis onder andere dat rentekoerse waarskynlik verder sal moet styg. Span egter ook die fiskale- en arbeidsbeleid in om ook die probleem aan te spreek. Verhoging van produktiwiteit is en bly in die opsig belangrik. Moedig besparing aan – nie net finansiële besparing nie maar ook die uitskakeling van vermorsing. Kry die kundiges wat die land verlaat het terug en verhoed dat meer kundiges emigreer. Kry ook kundiges terug in plekke waar die bestuur nie die mas opkom nie – ek hoef nie voorbeelde te noem nie. In kort, kry die ekonomiese beleid wat gevolg word in plek.
Soos sake staan gaan daar vanjaar ‘n verlangsaming in produksie intree. ‘n Voorbeeld hiervan is AAC PLC se jongste kwartaaloorsig wat ‘n skerp daling in die produksie van goud, platinum en ander metale en minerale aandui en daarmee saam ‘n skerp afname in winste. Dit is ‘n aanduiding van wat vanjaar in die res van die ekonomie ook te wagte moet wees.
Ons stuur af op ‘n stagflasie situasie - die groeikoers neem af terwyl die inflasiekoers versnel. Dit gaan sake vir beide die verbruiker en die sakesektor vanjaar bemoeilik en winste van maatskappye kan skerp verlangsaam en in baie gevalle selfs daal. Werkloosheid kan ook toeneem. Die verskil tusen die VSA ekonomie en die van die RSA is dat waar die VSA se ekonomie waarskynlik by die middelpunt in die bos verby is, die RSA se ekonomie tans nog dieper die bos instap en dat die middelpunt nie voor volgende jaar, en waarskynlik eerder later as vroeër in die jaar, bereik sal word nie indien alles goed verloop. Dan kan ons begin verwag dat die lopende rekening tekort verklein, dat die wisselkoers kan stabiliseer, dat die inflasiekoers laer neig en rentekoerse kan begin daal.
A J Jacobs
2008-05-03