EKONOMIESE OORSIG: MAART 2008
Samevatting
Toenemende onsekerheid internasionaal oor ekonomiese vooruitsigte is aan die opbou. In die VSA word daar nou openlik gepraat van stagflasie vooruitsigte wat aan die ontwikkel is. Hierdie gebeure spoel oor na wêreldmarkte en veral Europa en Japan word swaar geraak gesien die groot handel met die VSA en die feit dat die VSA$ die afgelope maand merkbaar verswak het. Op finansiële markte heers daar steeds groot onsekerheid en die gevaar bestaan dat van die kleiner banke in die wêreld bankrot kan speel terwyl groot verliese steeds deur die groot banke aangekondig word. Die VSA$ pryse van kommoditeite het in Februarie verder skerp gestyg.
In die RSA is daar ook toenemende onsekerheid aan die opbou. Die Minister van Finansies het in sy begrotingsrede dan ook gepraat van groter onsekerheid en probleme en dat ons nou moet saamstaan om dit te besweer want “we are all in it together.” Die inflasiekoers het dan ook verder gestyg, die geldvoorraad groei bly hoog, die handelsbalans tekort het weer toegeneem en die wisselkoers van die rand het merkbaar verswak met kapitaalmarkrentekoerse wat gestyg het. Pryse van hulpbronaandele het die afgelope maand skerp verbeter.
Internasionale gebeure
‘n Voortsetting van die patroon van gebeure wat die afgelope jaar ontstaan het, is die afgelope maand ervaar. Die verskil is dat die indruk bestaan dat die probleme aan die vererger is en dat die Fed gevolglik in alle waarskynlikheid binnekort rentekoerse in die VSA verder gaan verlaag. Die probleem is egter nou dat die jongste inflasiesyfers in die VSA, Europa en in Sjina aan die styg is en die vraag is in watter mate verdere rentekoersverlagings kan plaasvind sonder dat ‘n ernstige inflasieprobleem na vore tree. In ‘n mate is deelnemers aan die finansiële markte besig om so ‘n moontlikheid te verdiskonteer. In die besonder het goud-, platinum- en silwerpryse die afgelope maand skerp verder gestyg. Daarby het die olieprys nuwe hoogtepunte bereik en het die pryse van die sagte kommoditeite (byvoorbeeld koring, mielies en suiker), ook skerp gestyg. Dit is aangehelp deur ‘n verswakking van die VSA$. ‘n Opsomming van die vernaamste gebeure word in die hieropvolgende tabel gegee.

Soos blyk uit die tabel het groot stygings in pryse van kommoditeite in VSA$ terme, die afgelope drie maande voorgekom. Die prys van veral platinum, suiker en mielies het sterk toegeneem. Daarby toon die termynindeks van kommoditeitspryse (Reuters se CRB futures), dat die kontantpryse in die komende maande verder kan styg. Daar kan min twyfel wees dat dit koste-druk inflasie tot gevolg gaan hê wat tot vraag-trek inflasie kan lei indien verwagtings, met gepaste monetêre beleidsoptredes, nie getemper word nie. Daarvan sien ons tans min in die VSA alhoewel die Europese Sentrale Bank bly vasskop. Dit is dan ook die rede waarom die VSA$ onder verdere afwaartse druk teenoor veral die euro gekom het.
Die vraag is nou: waar laat dit die wêreld ekonomie? Daar is min twyfel dat die gemoedstemming een van onsekerheid is. Die verloop van beurspryse, wat verwagte toekomstige gebeure in ‘n groot mate verdiskonteer, dui dan ook daarop. Daar is verder groot beleidskonflikte wat na vore tree met aan die een kant vrese dat groeikoerse skerp kan daal en aan die ander kant, die gevaar dat inflasie skerp kan styg. Dus, ‘n tipiese geval van stagflasie wat ‘n moeilike saak is om te hanteer. Soos sake staan verbeter die VSA se internasionale mededingingsposisie vir die oomblik maar reële binnelandse vraag is skerp aan die afneem. Europa ervaar dat uitvoere onder druk is omdat die euro versterk het. Dit help egter om inflasie in Europa in ‘n mate in toom te hou. Dit geld ook vir Japan. Die groot vraag is: hoe gaan die Sjinese, Indiese en ander Oos-Asiatiese lande se ekonomieë deur hierdie gebeure geraak word? Sjina begin probleme van sy eie kry soos ‘n stygende inflasiekoers en ‘n kommerwekkende besoedelingsvraagstuk. Die internasionale gebeure is dan ook één van die faktore, soos verlede maand reeds op gewys is, wat ‘n betekenisvolle invloed op die SA ekonomie in die jaar wat kom kan hê.
Die binnelandse verloop van sake
Teen voorgaande internasionale agtergrond, is daar plaaslik kragte aan die werk wat in die maande wat kom groot verwikkelinge kan meebring. Die land worstel met strukturele probleme wat die ekonomiese groeivertoning kan skaad en dit word op die kort termyn vererger deur groot wanbalanse in die ekonomie.
Vir die oomblik is daar nog ‘n mate van euforie te bespeur. Die ekonomiese groeikoers vir kw4 van 2007 was nog heel goed gedagtig aan die kragonderbrekings wat toe reeds ervaar was. Die aangehegte twee tabelle dui aan wat die verloop daarvan per kwartaal in 2007 en vir die jaar 2007 was. Daar sal nie in besonderhede daarop ingegaan word nie.
Wat wel die afgelope paar jaar verras, is die omvang van die groeikoers wat behaal is. Daar is ‘n paar kruiskontroles wat maar net nie wil klop nie. So byvoorbeeld, soos in verlede maand se oorsig vermeld is, was daar die afgelope 25 jaar ‘n redelike noue verwantskap tussen elektrisiteitsverbruik en die reële BBP. Die volgende tabel dui aan hoe hierdie verwantskap in die jare 2000 tot 2007 verbreek is.

In die tydperk 2000 tot 2003 het die afgeleide BBP, (gebaseer op die historiese verwantskap tussen verbruik van elektrisiteit en die BBP), en die werklike BBP behaal redelik naby mekaar verloop. Die gaping was klein en uiteraard is elektrisiteitsverbruik as ‘n norm om BBP te bepaal nie absoluut nie maar slegs aanduidend. In die laaste vier jaar het die gaping egter aansienlik vergroot. ‘n Moontlike verklaring is dat die dienste sektore, wat minder elektrisiteitsensitief is die pas aangegee het ten koste van die sogenaamde internasionaal “tradable goods” sektore soos mynbou en fabriekswese. As dit egter waar is, dan moes en het invoere sterk toegeneem, (met uitvoer wat swak moes vertoon het soos inderdaad gebeur het), en dit moes die ekonomiese groeikoers nadelig geraak het aangesien invoer buitelandse produksie verteenwoordig. Doeane ontvangstes het die afgelope paar jaar dan ook skerp gestyg maar nominale invoer, soos in die nasionale rekeninge weergegee word, het nie naastenby dieselfde omvang van toename getoon nie. Hoe word dit verklaar? As invoer in die nasionale rekeninge te laag beraam word dan uiteraard sal die groeikoers beter vertoon.
Nog ‘n saak wat hierby aansluit is dat vanaf owerheidsweë graag daarop gewys word dat die elektrisiteitstekort ontstaan het weens die feit dat ons sukses met ekonomiese groei daarvoor verantwoordelik was. Die eenhede elektrisiteitsverbruik het egter in die laaste vier jaar nie versnel nie soos blyk uit die tabel. Die toename daarin was in die jongste jare ook heelwat laer as in die vorige periodes. Die werklike rede vir die kragtekorte kan dus nie hieraan gewyt word nie maar is bloot die gevolg van onvoldoende kapasiteitsskepping en instandhouding daarvan soos wat die volgende grafiek aandui.

Met hierdie enkele gedagtes rondom hierdie saak kan ons nou nagaan wat met die res van die ekonomie en op die finansiële markte gebeur het. Vir die doel word die vernaamste gebeure statisties opgesom.

Die gegewens verstrek in voorgaande tabel toon die groot toename in kommoditeitspryse in randterme, die aansienlike verswakking van die wisselkoers en sover dit beurspryse betref, dat dit veral die kommoditeitsaandele is wat om verstaanbare redes skerp in waarde toegeneem het.
Hierdie kombinasie van faktore hou voor- en nadele in. Uit die aard van die saak baat sekere maatskappye by die beter pryse maar moet dit getemper word met moontlike produksieverliese weens onvoldoende elektrisiteitslewering. Die verswakking in die wisselkoers van die rand, veral teenoor die euro en die jen, gaan invoere duurder maak en dit gaan die stryd teen inflasie bemoeilik alhoewel uitvoerders daarby gaan baat. ‘n Hoër inflasiekoers kan selfs tot verdere stygings in rentekoerse lei. Hoër rentekoerse, saam met stygende inflasie en skuldvlakke van indiwidue wat hoog is, kan privaatverbruiksbesteding benadeel. Voeg hierby die feit dat slegte skuld skerp kan styg en dit voorspel probleme vir banke en die handel waar krediet verleen is. Ook die eiendomsmark kan swakker vaar waar huispryse in die jongste tyd reeds laer neig.
Sover dit die inflasiekoers betref toon die jongste VPI syfers ‘n verdere versnelling. Die totale indeks vir die land as geheel was in Januarie vanjaar 9,4% hoër as ‘n jaar tevore. Die VPIX se toename beloop 8,8% terwyl kerninflasie met 8,1% gestyg het. Voedselpryse bly vinnig styg en was 13,4% hoër as ‘n jaar tevore.
Ten tye van die skrywe van hierdie verslag was die PPI syfers nog nie gepubliseer nie. Die aanduidings is egter dat ook hier ‘n verdere versnelling kon plaasgevind het. My eie berekenings van die eenheidskoste van produksie in die fabriekswese toon dat dit in Desember 2007 tot 12,4% opgeskiet het vanaf November se 9,9% toename gemeet teenoor ‘n jaar tevore. Met kommoditeitspryse, beide vir myne en die landbou, wat skerp toenames in randterme getoon het, kan ‘n baie swak PPI syfer vir Januarie en in die komende maande te wagte wees.
Die M3 geldvoorraad groei en toename in bankkrediet bly hoog. M3 is in Januarie gevoed deur ‘n afbou van die regering se kontantsaldo. Sover dit bankkrediet betref is die vraag hoeveel van die styging is bloot weens rentes wat gekapitaliseer word en skuld wat styg omdat leners nie hulle verpligtinge kan nakom nie. Die korporatiewe sektor se interne kontantvloei, in sommige gevalle, kan verswak terwyl invordering van debiteure traag kan wees terwyl voorrade weens laer omsette kan styg. Dit alles kan tot ‘n groter vraag na bankkrediet lei. Dit beteken egter nie dat binnelandse besteding noodwendig hoog bly nie en gevolglik sal daar baie goed besin moet word of verdere rentekoersstygings wenslik is.
Die aanduidings is dat die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans groot gaan bly. Immers, die handelstekort vir Januarie was groot met Februarie se syfer wat selfs nog groter kan wees. In die huidige omstandighede word die verloop van sake op die finansiële rekening van die betalingsbalans van groot belang. Aanduidings wil dat daar ‘n netto uitvloei van kapitaalfondse voorkom met portefeulje fondse wat in die eerste twee maande van die jaar negatief was. Dit verklaar die redelike sterk verswakking in die wisselkoers van die rand teenoor al die belangrike geldeenhede insluitend die VSA$ wat in eie reg onder druk is.
Dit is dan ook teen voorgaande agtergrond wat die Minister van Finansies ‘n versigtiger standpunt ingeneem het rakende die staatsfinansies. By ‘n ontleding daarvan blyk dit steeds te neig tot herverdeling maar die omvang daarvan het aansienlik afgeneem teenoor dit wat in vorige jare ervaar was. Per saldo blyk dit dat die begroting, teenoor die vorige jaar gemeet, redelik neutraal was sover dit stimulering van binnelandse besteding betref.
Die Minister het verder ‘n groot aantal administratiewe aanpassings aangekondig wat in eie reg en vir sekere groepe en sektore van belang is. Van besondere betekenis is dat valutabeheerverslappings aangekondig is. Dit kan help om toekomstige onnodige opbou van likiditeit teen te werk en kan help om ‘n meer realistiese wisselkoersvlak van die rand te behaal wat van groot belang is om internasionaal te kan meeding.
A J Jacobs
2008-03-03
Tel 012 658 5552
Sel 073 1539842