EKONOMIESE OORSIG: NOVEMBER 2007
Samevatting
‘n Verswakkende VSA$, stygende goud, platinum en ander metale en minerale pryse en by name die ru-olieprys, saamgelees met groot onsekerheid in Europa en die VK rakende groeikoerse maar beter groei (tydelik?) in die VSA en steeds sterk groei in veral Sjina met ‘n verdere verlaging in VSA rentekoerse, was die oorheersende internasionale gebeurtenisse die afgelope maand.
Plaaslik het die Minister van Finansies ‘n waarskuwing
gerig dat moeiliker toestande te wagte moet wees. Daarby was die VPIX inflasiesyfer
swakker as verwag, toon die handelsbalans vir die 3de kwartaal ‘n groter
tekort terwyl die wisselkoers van die rand skerp gestyg het weens ‘n
swakker VSA$ en groot en verwagte verdere groot kapitaalinvloeie. Die Reserwebank
het die repo-koers verder verhoog terwyl die groei in die geldvoorraad en bankkrediet
hoog bly. Dit alles ten spyt bly die finansiële markte optimisties en
het die onderskeie hoof indekse op die JSE verder gestyg met kapitaalmarkrentekoerse
wat laer geneig het.
Internasionale verwikkelinge
Na die vorige verlaging van die VSA se Reserwebank se verdiskonteringskoers van 0,5 van ‘n persentasiepunt is dit opgevolg met ‘n verdere verlaging van 0,25 van ‘n persentasiepunt op 31 Oktober. Dit het die waarde van die VSA$ wat alreeds aansienlik verswak het, nog verder teenoor die ander belangrike geldeenhede laat daal.
Die gevolge hiervan vir veral die kommoditeitsmarkte was verreikend. So byvoorbeeld het die $-prys van goud vanaf einde September tot einde Oktober vanaf $750 per ons tot $800 of 6,7% gestyg, het die prys van platinum vanaf $1 383 tot $1 438 per ons of met 4,0% verhoog terwyl die prys van ligte ru-olie met $14 of 17,4% per vat tot $95,83 gestyg het.
Die olieprysstyging kan gewyt word aan verskeie faktore. Die VSA$ teenoor die euro het byvoorbeeld met 2,9% verswak terwyl spanning tussen Iran en Turkye asook lae olie voorraadvlakke tot die prysstyging bygedra het. Daarby groei die wêreld ekonomie steeds redelik sterk en dit verhoog die vraag na alle vorme van energie. Die gevolg is dat nie net die olieprys nie maar ook die steenkoolprys sterk gestyg het. Daarenteen het die kontantprys van uraan die afgelope tyd skerp gedaal bloot weens die feit dat uraan in oormaat beskikbaar is en daar ‘n ongesonde spekulasie t o v die prys was wat nou net reggestel word.
In Sjina bly die groeikoers sterk volgens jongste berigte. In die VSA het die groeikoers in kw3 ook verras toe dit 3,9%, teen ‘n jaarkoers bereken, beloop het. Dit was beter as die verwagte 3,1% maar die vooruitsigte is dat dit in kw4 sal verlangsaam. Europa, met die uitsondering van Duitsland, sukkel egter om groei op dreef te kry en die sterk euro kry hoofsaaklik die skuld hiervoor. Spanning tussen lidlande oor die saak is dan ook aan die opbou.
Daarenteen vaar die VSA redelik omdat die uitvoer sektor beter vertoon weens die meer mededingende waarde van die $. Die VSA se groot handelstekort is dan ook besig om langsaam te verklein. Die verwagting is egter dat ekonomiese groei in kw4 weer kan verlangsam veral omdat verbruikersvraag aan die taan is, die sub-prima debakel nog nie uitgewoed is nie, die konstruksie sektor swak vaar wat met sy skakelingseffekte ander sektore ook benadeel en die finansiële sektor verliese lei en meer versigtig is met die toestaan van bankkrediet. Om die rede het die Fed dan ook sy verdiskonteringskoers met nog 0,25 van ‘n persentasiepunt verlaag. Tegelykertyd het dit egter ‘n sein uitgestuur dat verdere verlagings waarskynlik nie gou sal plaasvind nie weens inflasievrese wat aan die opbou is weens die hoë prys van ru-olie en ander kommoditeite en die feit dat invoerpryse gevoed word deur die swakker $. Dit is duidelik dat die Fed die markte ondersteun het om ‘n resessie te vermy maar tevrede is dat sake geleidelik regkom en dat die klem nou weer kan verskuif na die bekamping van inflasie.
Plaaslike verwikkelinge
In sy middeltermyn begrotingsrede het die Minister van Finansies die groei vooruitsigte effens laer gestel met die inflasiekoers weer effens hoër as wat tydens sy hoofbegroting voorsien was. Daarby is vermeld dat die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans groter gaan wees as voorsien maar blyk dit nie ‘n groot rede tot kommer te wees nie aangesien daarop gereken word dat voldoende buitelandse kapitaal bekom sal word om die tekort te finansier.
Die Minister het verdere verhogings in besteding aangekondig veral aan die sosio-ekonomiese kant terwyl vir beide die SAL en die Landbank meer as R700 miljoen elk bewillig is om hulle uit hulle finansiële verknorsing te probeer kry. Nieteenstaande die hoër besteding wat voorsien word, word verwag dat die oorskot vir die jaar hoër sal wees as voorsien weens beter as verwagte belastingvorderings. Dit alles beteken maar bloot dat die staat se aandeel in die ekonomie verder toeneem. Verder moet dit onthou word dat die staat se aandeel ‘n groot onderskatting is weens groot bedrae wat buite om die staatsfinansies vloei. So byvoorbeeld is daar reeds meer as R300 miljard aan swart ekonomiese bemagtiging spandeer wat streng gesproke vir die rekening van die staat moes wees maar wat bloot op die privaatsektor afgewentel word.
Sover dit inligting oor die ekonomie aangaan was die vrystelling van gegewens rakende die inflasiekoers per saldo swakker as die verwagtinge. So byvoorbeeld het die VPIX inflasiekoers vir September 6,7% beloop terwyl verwagtinge nader aan die 6,4% toenamekoers was. Daarby het die kerninflasiekoers, wat beide rente en pryse van sekere voedselsoorte uitsluit, ook versnel en 5,5% beloop. Hierdie syfer het in die vorige drie maande deurgaans verlangsaam en wel van 6,0% in Mei tot 5,1% in Augustus. Die versnelling van die kerninflasiekoers bevestig dat prysstygings oor ‘n wyer reeks van produkgroepe aan die versnel is en nie net meer tot hoofsaaklik voedselpryse beperk is nie. Voedselpryse het nietemin ook nog verder versnel en wel vanaf 11,1% in Augustus tot 11,9% in September.
Dit blyk verder dat daar sekere produkgroepe is waarvan die styging steeds sterk betwyfel kan word. So byvoorbeeld het klerasie- en skoeiselpryse in die maand van September steeds gedaal met die gevolg dat klerasiepryse 6,6% laer as ‘n jaar tevore was en ‘n daling van 16,9% toon vergeleke met pryse in 2000. In die geval van skoeisel is die daling vir die jaar 8,8% en was dit blykbaar 24,7% laer as in 2000. Dit is wel waar dat invoer vanaf Sjina tot laer pryse van skoeisel en klerasie gelei het maar die vraag is of die produkte van dieselfde kwaliteit is. Verder blyk dit dat fabriekspryse vir klerasie dui op ‘n styging van 26,4% sedert die jaar 2000 terwyl skoeiselpryse ‘n styging van 28,0% toon. So is daar ook ‘n paar ander poste waarvan die prysstygings op VPI en PPI vlak met reg bevraagteken kan word aangesien inligting vanaf handelaars en produsente daarop dui dat dit kwalik korrek kan wees.
Die toename in die M3 geldvoorraad en bankkrediet het jaar-op-jaar beskou, in September effens verlangsaam tot 24,94% (25,80%) en 23,19% (24,50%). In beide gevalle is dit egter steeds onaanvaarbaar hoog. As daar verder gekyk word na die redes vir die styging, die sogenaamde teenhangers vir verandering in die geldvoorraad, blyk dit dat netto eise teen die regeringsektor in die maand met R20,7 miljard gedaal het weens ‘n groot toename van die regering se deposito’s by die SA Reserwebank terwyl daar in Augustus ‘n styging van R16 miljard was. Daarteenoor egter het die eise van die banksektor teen die private sektor in September met R36,9 miljard toegeneem wat aansienlik vinniger was as die stygings van R26,3 miljard in Julie en die R24,8 miljard van Augustus. Hierdie laasgenoemde syfer wil daarop dui dat nóg die rentekoersstygings nóg die kredietwet veel invloed op indiwidue en maatskappye se kredietlus gehad het. Geen wonder dus dat die Reserwebank dan ook die repo-koers met ‘n verdere 0,5 van ‘n persentasiepunt tot 10,5% verhoog het wat die prima-koers nou op 14% te staan bring.
Die handelstekort vir September het R4,3 miljard beloop. Dit was heelwat laer as die tekorte van R9,4 miljard en R9,1 miljard van Julie en Augustus maar aansienlik groter as die tekort van slegs R0,2 miljard van September 2006. Omdat die syfer van maand tot maand baie kan skommel is dit beter om na die derde kwartaal se vertoning as geheel te kyk. Dit dui op ‘n tekort van R22,9 miljard teenoor ‘n tekort van R13,7 miljard in kw2 en R13,2 miljard tekort in kw3 van 2006. Die tekort in kw3 is dus 73,2% groter as die van ‘n jaar gelede. Die Reserwebank maak heelwat aanpassing aan die syfer aangesien dit onder andere ook in- en uitvoere van sekere buurstate insluit. Die handelsbalanstekort vir die RSA alleen, seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers uitgedruk, was volgens die Reserwebank in kw3 van 2006 R32,6 miljard. As aanvaar word dat die tekort inderdaad sowat 70% hoër gaan wees dui dit op ‘n tekort van R55 miljard teen ‘n jaarkoers vir kw3 vanjaar. Dit kan die totale lopende rekening tekort op sowat R155 miljard of 8,2% van die BBP te staan bring teenoor R100 miljard of 5,7% van die BBP ‘n jaar tevore.
Teen hierdie agtergrond blyk dit egter dat die wisselkoers van die rand die afgelope paar maande versterk het. Dit op sy beurt dui bloot op ‘n groot netto invloei van kapitaal vanaf die buiteland wat weer tot nog groter diwidend- en rente betalings gaan lei en verdere druk op die lopende rekening gaan plaas. Ek voorsien tans dan ook ‘n tekort op die lopende rekening van sowat R140 miljard vir 2007 vergeleke met ‘n tekort van R112 miljard verlede jaar. Dit moet besef word dat dit die ekonomiese groeikoers benadeel en ‘n swakker groeikoers word dan ook vir die derde kwartaal voorsien. Die inflasiekoers kan egter tydelik hierby baat.
Pryse van aandele op die JEB het ook nuwe hoogtes bereik. Die totale indeks het teen die einde Oktober op 31 334 te staan gekom wat 4,6% hoër as ‘n maand tevore was. Daarby het kapitaalmarkrentekoerse in September en Oktober gedaal met die koers van die R153 staatseffek wat teen einde Oktober op 8,79% te staan gekom teenoor ‘n koers van 9,30% teen einde van Augustus.
A J Jacobs
2007-11-01