EKONOMIESE OORSIG: NOVEMBER 2008

WEENS DIE GROOT SKOMMELINGS OP FINANSIËLE MARKTE IS BESLUIT DAT HIERDIE MAAND SE OORSIG SOVEEL AS MOONTLIK ‘N SIGBARE BEELD DAARVAN MOET KAN WEERGEE EN DERHALWE SAL RUIM VAN GRAFIEKE GEBRUIK GEMAAK WORD MET KORT KOMMENTAAR DAAROP WAAR NODIG.

Samevatting

Groot skommelings op die finansiële markte dwarsoor die wêreld het die afgelope maand voorgekom. Aandelebeurse het skerp gedaal. Groot skommelings het ook op valutamarkte voorgekom en kommoditeitspryse het skerp gedaal. Die algemene verwagting is dat hierdie gebeure die reële aktiwiteite in die wêreld nadelig gaan raak en resessie toestande word in sommige lande ervaar of verwag met aansienlik laer groeikoerse in ander. Daarmee saam gaan werkloosheid toeneem. Wat verbaas het is dat die aankoopbestuurdersindeks in Sjina, wat aktiwiteite in die fabriekswese meet, in Oktober op 44,6 te staan gekom het teenoor 51,2 in September. ‘n Aansienlike verlangsaming in uitvoer was grootliks hiervoor verantwoordelik en die indeks dui daarop dat fabriekswese aktiwiteite aldaar daal.

In die RSA is min of meer dieselfde faktore waargeneem. Wat egter vermeld wil word is dat die groeitempo in die geldvoorraad en bankkrediet aansienlik verlangsaam het en dat die koerstoename in inflasie ook afgeneem het. Die wisselkoers het op ‘n stadium skerp verswak maar daarna gedeeltelik herstel. Die rand bly egter kwesbaar en dit sal nie verbaas indien die land se soewereine internasionale kredietwaardigheid verlaag gaan word nie. Dit kan lastig wees gesien die lae binnelandse spaarkoers en buitelandse fondse wat benodig word om die vaste investering wat onderneem moet word te kan finansier. Dit kan byvoorbeeld tot verdere tariefverhogings by Eskom en ander instellings aanleiding gee wat tesame met die oormaat likiditeit in die binneland en ‘n swakker wisselkoers kan verhoed dat die inflasiekoers skerp daal. Dus kan rentekoerse vir langer hoër bly as wat algemeen voorsien word.

Vir ‘n statistiese samevatting van die belangrikste makro-ekonomiese gebeure sien meegaande aangehegte tabel hieroor.

Die verloop van wisselkoerse

Die sogenaamde  drakoers (carry trade) het die afgelope maand skerp omgeswaai en ‘n groot terugvloei van fondse na die VSA en Japan in die besonder het daartoe gelei dat die wisselkoers van dié twee geldeenhede skerp gestyg het. Die jen het die grootste verbetering getoon en die afgelope maand met 7,6% teenoor die VSA$ verbeter. Hierdie versterking moet gesien word in die lig daarvan dat die VSA$ self versterk het en byvoorbeeld teenoor die euro met 15,0% in waarde toegeneem het. Die gevolg was dat die jen met sowat 24% teenoor die euro gestyg het.

Soos reeds genoem het die rand die afgelope maand onder druk gekom en skerp teenoor al die belangrike geldeenhede verswak. Buitelanders het groot bedrae aandele op die Suid-Afrikaanse mark verkoop. Dit omvang van die netto kapitaaluitvloei hiervan het sowat R28 miljard beloop. Ander fondse kon ook uitgevloei het maar dit sal eers later bekend word. Die gevolg hiervan, saam met die feit dat die lopende rekening steeds ‘n groot tekort toon, was dat die rand in die maand van Oktober (3/10/2008 tot 31/10/2008) teenoor die VSA$ met 15,5% verswak het, teenoor die euro met 6,8%, teenoor die Britse pond met 4,9%, teenoor die jen met 23,6% en teenoor die Switserse frank met 12,6%.

Die daling in die waarde van die wisselkoers die afgelope jaar was dan ook betekenisvol. Teenoor die VSA$ het die rand die afgelope jaar met 47,1% verswak, die daling teenoor die euro was 31,5%, teenoor die pond 15,6%, vergeleke met die jen 70,3% met ‘n daling van 48,9% teenoor die SF.

Ek vermeld hierdie gegewens gedagtig daaraan dat die wisselkoers die enkele belangrikste prys in die SA ekonomie is wat beide die finansiële en reële sektore in die ekonomie wesenlik beïnvloed. Aan die een kant word invoer duurder maar dan weer bevoordeel dit uitvoerders. Dit moet natuurlik ook besef word dat ander betalings in buitelandse valuta soos rente meer gaan kos in randterme asook skeepsvrag wat gewoonlik in $ betaal word. Aangesien die RSA se invoer groter as uitvoer en so ook  dienste- en inkomebetalings groter as -ontvangstes is, sal die swakker wisselkoers die betalingsbalanstekort, soos in rand gemeet, op veral die korttermyn vergroot – die sogenaamde J-kurwe effek.

Die verloop van kommoditeitspryse

Die skerp daling in kommoditeitspryse die afgelope paar maande in VSA$ word in die volgende grafiek aangedui.

Voorgaande grafiek verteenwoordig ‘n mandjie van kommoditeitspryse met die ru-olieprys wat as enkele kommoditeit ‘n groot gewig daarin het. Die indeks het in die tydperk 19/1/2007 vanaf 290 tot 472 op 4/7/2008 gestyg – ‘n toename van 62,8%. Daarna het dit tot 256 op 24/10/2008 verswak – ‘n daling van 45,8% - om in die laaste week van Oktober met 2% tot 268 te styg. (Die persentasie veranderings word natuurlik vanaf verskillende basisse gemeet en lesers moet eerder na die werklike indeks kyk vir vergelykingsdoeleindes.)

Omdat die prys van ru-olie so belangrik is, dui die volgende grafiek aan hoe dit verloop het in sowel VSA$- en randterme sedert 1997. Let daarop dat die skaal ‘n semi-logskaal is en daarom verteenwoordig enige verandering in die hellingslyn ‘n konstante persentasie verandering.

Soos meegaande tabel aangeheg aandui was die prys van ligte ru-olie aan die einde van Junie vanjaar $140,44 wat tot $67,81 in Oktober afgeneem het – ‘n daling van 51,7%. In randterme was die daling van R1 112 per vat tot R666 aan die einde van Oktober – ‘n 40,1% afname.

Suid-Afrika se enkele belangrikste uitvoerproduk in 2007 was platinum. Weens die insinking in die wêreldekonomie het die verkope van motorvoertuie skerp dalings getoon en daarmee saam dus ook die aanvraag na en die prys van platinum. Die volgende grafiek toon die verloop in die prys daarvan die afgelope paar jaar. Die randprys het op 20 Junie vanjaar op R16 467 per ons te staan gekom wat tot R7 976 op 31 Oktober gedaal het. ‘n Daling van 51,6%. In VSA$ was die prysdaling meer as 60%. Die prys van goud het in hierdie tydperk ook afgeneem en in VSA$ met sowat 23% gedaal maar in rand was die daling slegs 5% weens die swakker wisselkoers.  

   

Hoe het aandelemarkte gevaar?

Op internasionale aandelemarkte was daar figuurlik gesproke ‘n slagting soos wat die volgende grafiek aandui.

Die wêreld se aandelemarkte het min of meer op 13 Julie vanjaar ‘n hoogtepunt bereik. Sedertdien was daar skerp dalings tot en met 24 Oktober met ‘n styging in die laaste week van Oktober. Die markte se dalings tot 24 Oktober was gelei deur die Nikkei met 58,1% gevolg deur die Cac met 47,8%, dan die Dax met 46,9%, die Ftse wat met 42,8% geval het en die Dow met die kleinste maar steeds aansienlike daling van 39,7%. Dit wil voorkom asof die markte begin stabiliseer het maar slegte ekonomiese/finansiële nuus moet nog te wagte wees wat op die korttermyn vir skommelings kan sorg.

Plaaslik het die aandelemark ook ‘n groot klap weg soos uit die aangehegte tabel gesien kan word en soos wat die hieropvolgende grafiek aandui.

Uit voorgaande grafiek blyk dit dat dit veral die kommoditeitsaandele is wat vanaf 2003 sterk gestyg het wat nou die grootste afname toon.

Ek wil darem ook ‘n langertermyn prentjie aan lesers toon vanaf 1973 op ‘n semi-logskaal vir finansiële en nywerheidsaandele saam met rentekoerse.

               

Uit voorgaande grafiek blyk dit dat ‘n belegger wat op die regte tyd aandele gekoop het, byvoorbeeld in 2003 toe die gemidelde p/v laag was, na die huidige daling steeds beter gevaar het as wat die meeste ander beleggings sou kon bied. Hierby moet natuurlik nog diwidend ontvangstes getel word.

Sleutelgebeure in die RSA

Soos uit meegaande tabel gemerk sal word het die koerstoenames van die onderskeie inflasiekoerse die afgelope maand, jaar-op-jaar gemeet, verlangsaam. Stadiger stygings in voedselpryse en die laer petrol- en dieselpryse het veral ‘n rol gespeel in die VPI en aanverwante reekse terwyl laer kommoditeitspryse die PPI bykomend bevoordeel het. Die indekse word natuurlik ook gemeet op ‘n basis wat in eie reg verlede jaar versnel het. In komende maande kan verdere dalings in die koerstoenames te wagte wees maar die groot daling in die wisselkoers kan ‘n belemmering in die opsig wees. Daarby moet nie vergeet word dat die M3 geldvoorraad die laaste drie jaar met sowat 75% toegeneem het. Hierdie oormaat likiditeit is steeds aanwesig maar kan weens ‘n totale tekort op die betalingbalans in komende maande gedreineer word.

Die groei in die geldvoorraad styg die afgelope tyd ook aansienlik stadiger. Die meegaande tabel toon dit jaar-op-jaar gemeet. Die styging in die jongste maande is egter aansienlik stadiger. So byvoorbeeld was die toename in die seisoensaangepaste M3 syfer in die drie maande tot September teen ‘n jaarkoers slegs 5,6% terwyl die eise teen die private sektor so gemeet met net 3,2% gestyg het. Dit is baie bemoedigend maar dui natuurlik op ‘n aansienlike verswakking in binnelandse besteding en waarskynlik ook die groeikoers.

Daar is in die mark groot verwagtings dat rentekoerse redelik gou laer kan neig. Die R153 staatseffek se verloop dui ook daarop. Verwagtings van verdere skerp dalings in die inflasiekoers gee hiertoe aanleiding. In die opsig wil ek markverwagtings egter ietwat temper. Dit moet besef word dat rentekoerse gesien relatief tot die inflasiekoers in die RSA laag is. Die IMF praat van ‘n prima rentekoers wat sowat 6% hoër as inflasie behoort te wees. Tans is dit slegs sowat 2,5% hoër. Dus sal inflasie met 3,5 tot 4 persentasiepunte moet daal om, byvoorbeeld, aan spaarders ‘n positiewe reële opbrengs van 2% te kan bied en by die 6% norm van die IMF uit te kom. Sodanige rentekoerse in ‘n land met ‘n lae spaargeneigheid is steeds relatief laag.

Maar die eintlike probleem is gesetel in die betalingsbalans. Met die derde kwartaal se handelssyfers bekend kan daar ‘n raming gemaak word van die derde kwartaal se tekort op die lopende rekening. My ramings dui op ‘n tekort, seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, van ongeveer R200 miljard. Dit vergelyk met ‘n tekort van R163 miljard in kw3 van 2007 en R164 miljard in kw2 van 2008. Sodanige tekort beloop sowat 9% van die BBP. Hierby wil dit voorkom asof daar ‘n netto uitvloei van kapitaal op die finansiële rekening voorgekom het. Die totale betalingsbalans (sonder moontlike lenings van bv. die SARB in die buiteland), kan dus in tekort wees wat die wisselkoers onder druk plaas en likiditeit kan dreineer. Die verdere risiko is dat die land se internasionale soewereine kredietgradering verlaag kan word. Dit sal die probleem uiteraard vererger. In die lig hiervan sal ‘n stram monetêre beleid gevolg moet word en kan dus kwalik verwag word dat rentekoerse spoedig verlaag sal word.

A J Jacobs
2008-11-02