EKONOMIESE OORSIG: OKTOBER 2008

Ekonomiese aanwysers

Samevatting

Wat ‘n maand! Ek het altyd die mening gehuldig dat gebeure in die ekonomie nooit ‘n vervelige oomblik oplewer nie maar wat die laaste maand gebeur het was meer as net opwinding. Dit was ook onstellend aangesien die hele wese van die ekonomiese stelsel en lande se ekonomieë in gedrang gekom het. Lesers sal nie verveel word met detail van wat gebeur het nie maar ‘n kort agtergrond tot die gebeure, jongste verwikkelinge die afgelope maand en wat nou te wagte kan wees sal behandel word. Dit moet egter besef word dat dit nie net die finansiële stelsel van die wêreld is wat geraak word nie maar dat, indien daar nie spoedig meer kalmte in die finansiële markte intree nie, die reële sektore ook wesenlik verder nadelig geraak sal word wat beteken dat wêreld groeivooruitsigte ‘n groot knou kan kry.

Suid-Afrika het tot dusver grootliks slegs die vibrasies van die internasionale finansiële krisis ervaar. Daar moet egter geen illusies bestaan nie; die RSA het ‘n klein oop ekonomie en wat internasionaal gebeur sal ons raak. Daarby is daar plaaslike probleme waarvan ook kennis geneem moet word. Soos sake staan het beurspryse op die JSB in September skerp met 14,0% gedaal met veral die prys van hulpbronaandele wat die toon aangegee het en met ‘n daling van 22,6%. Daarby het kommoditeitspryse skerp gedaal. Die VSA$ prys van platinum, byvoorbeeld, is vir die maand 31,3% laer. Die land se betalingsbalans kan nadelig geraak word en die wisselkoers van die rand lyk kwesbaar. Dit alles dui op swakker ekonomiese groeivooruitsigte en waarskynlik ‘n heelwat stadiger verlangsaming van die inflasiekoers as wat algemeen voorsien word met rentekoerse wat vir langer op huidige vlakke kan bly.

Die internasionale finansieel/ekonomiese krisis

Wat lê ten grondslag van die finansiële krisis wat die afgelope maand tot uitbarsting gekom het? Dit kan in een frase saamgevat word: te veel maklike krediet aan nie kredietwaardige kliënte en gulsigheid deur internasionale bankgroepe wat hierin die geleentheid gesien het om saam met groter voorskotte ook hoër rentemarges te verdien.

Dit het tot bate inflasie aanleiding gegee – veral in die eiendomsmark met die huismark in die besonder. Namate die proses momentum gekry het het daar natuurlik ook ‘n ongesonde spekulasie gees ingetree. Immers, as dit wyd verkondig word dat eiendomspryse sal aanhou styg word mense aangemoedig om daarin te belê en dit is moontlik gemaak deur maklike kredietverlening wat nie die toets van gesonde kredietverleningsbeginsels sou deurstaan het nie. Namate banke se eie fondse onder druk begin kom het is die verbande wat toegestaan is as pakette aan beleggingsbanke, pensioenfondse en welaf indiwidue dwarsoor die wêreld bemark. Om hierdie finansiële bates verkoop te kry is bekende internasionale krediet graderingsagentskappe gekry om ‘n kredietgradering daarop te plaas. Baie hoë graderings is toegestaan wat later geblyk het vals te wees. Dit het egter die bemarking van die finansiële bates vergemaklik en die proses van verdere kredietverlening kon voortgaan in die waan dat dit gedek is deur sekuriteit wat deurgaans in waarde sou bly styg en leners wat kredietwaardig is.

Ander vorms van krediet vir verbruiksbesteding het ook skerp gestyg. So byvoorbeeld blyk dit dat ‘n tipiese Amerikaanse huishouding gemiddeld nie minder nie as 11 kredietkaarte tot hulle beskikking het. Lenings teen huisverbande was ook algemeen om motors, vakansies en ander bestedingsvorme te finansier. As mens mooi daarna kyk dus niks anders as ‘n tipiese kettingbrief oefening nie – solank die ketting nie gebreek word nie gaan die partytjie voort!

In hierdie scenario het gelduitleners anders as tradisionele handelsbanke wat onder bankwette resorteer, op groot skaal tot die mark toegetree. Van hierdie instelling het insigself groot bedrae geleen om in hierdie finansiële bates wat ‘n hoër opbrengs gelewer het te belê. Die beleggingsbanke het hefboomeffekte van soveel as 30 tot 1 gehad – m a w 30 eenhede geleende fondse vir elke 1 eenheid eie kapitaal.

Ek het al te vore aan u as leser my ervaring gedeel wat ‘n Duitse bankier aan my meegedeel het. Sy woorde was dat jy nie risiko kan koop (goedmaak) met hoë rentekoerse nie. Verder is dit ‘n ekonomiese realiteit dat geen indiwidu, geen maatskappy en geen land onbeperk bó hulle vermoë kan bly leef nie. Uiteindelik sal die skuld so groot word dat dit nie meer betaal kan word nie en dit word vererger as boonop rentekoerse dan die een of ander tyd styg om die wanbalanse wat ontstaan te help besweer.

As die proses by sy boonste draaipunt kom word verder gevind dat die pryse van bates begin daal bloot omdat daar dan meer verkopers as kopers is. Sommiges is vrywillige transaksies maar meestal is dit gedwonge verkope. Dan raak dit ‘n bose kringloop wat gewoonlik op groot verliese vir finansiële instellings uitloop en selfs sommiges se ondergang kan beteken. Dit raak dan egter ook die reële sektore van die ekonomie en dit op sy beurt dwing dan die groeikoers laer wat aanleiding gee tot groter werkloosheid maar veral winste wat in die proses onder groot druk kom. Onder sulke omstandighede daal aandeelpryse dan ook saam met alle ander bate pryse terwyl gewone inflasiekoerse ook stadiger toeneem of pryse kan daal soos wat die afgelope 15 jaar by tye in Japan ervaar is. Die maatskaplike probleme wat hiermee gepaard gaan is uiteraard ook ‘n ernstige saak.  

Dit is dan kortliks die verloop van sake soos wat dit in die VSA aan die voorpunt gebeur het maar nie tot die land beperk is nie.

Uit ‘n beleidsoogpunt is daar nou twee sake wat gedoen kan word. Die een moontlikheid is om niks te doen nie en sake sy gang te laat gaan. Dit kan gevaarlik wees en is in breë wat in die laat twintiger- vroeg dertigerjare gebeur het. As die wanbalanse wat ontstaan matig is kan so ‘n beleid wel gevolg word want dan behoort die regstelling kort van duur te wees sonder langdurige skade vir die ekonomie en gemeenskap. Die huidige omvang van die probleem blyk egter ernstig te wees en indien owerhede niks of te min aan die saak doen kan dit ernstiger word en dan word nie net die ekonomie benadeel nie maar kan deposante se spaargeld in gedrang kom. Dit moet te alle koste vermy word en bankwetgewing plaaslik en in Westerse lande het dit dan ook ten doel. Hierby bly Reserwebanke verskaffers van likideit aan handelsbanke in die finale instansie. Dit word gewoonlik gedoen om tydelike likiditeitsprobleme te oorbrug en nie om aandeelhouers se belange te beskerm nie. Laasgenoemde mag nooit die geval wees nie. Die beskerming van deposante se spaargeld is egter ‘n belangrike oorweging wanneer so opgetree word.

Weens die ernstige omvang van die huidige probleem word hulp deur sentrale banke al geruime tyd aan die bankstelsel verleen. In die VSA is ook besluit op ‘n spesiale hulppakket deur die regering wat hopelik tydelik geld aan die bankstelsel verleen in die vorm van aandelekapitaal met die doel om hulle kans te gee om hulle sake reg te ruk, met nodige likiditeitsbystand indien nodig deur die Resewebank, en later die aandeelhouding terug te verkoop om sodoende alle finansiële hulp wat verleen is terug te win. Hieroor was daar aanvanklik onsekerheid wat gelei het tot die eerste verwerping van wetgewing in die verband maar later aanvaar is met sekere wysigings. Dit is waar ons nou staan.

Dit beteken nou nie noodwendig dat die krisis ontlont en die probleem opgelos is nie. Dit kan wel help om vertroue te herstel want een van die probleme wat nou bykomend ontstaan het is dat banke wat wel oor fondse beskik dit nie aan ander banke wil leen nie omdat hulle nie seker is hoe gesond die stand van sake aldaar is nie. Dit het daartoe gelei dat die libor koers, die koers waarteen banke aan mekaar geld leen, die hoogte ingeskiet het. Die ander probleem is dat baie banke se finansies seer gekry het sodat nie net hulle winste gedaal nie maar hulle eie kapitaal en reserwes het ook ‘n knou weg. Dit dra by tot die gebrek aan likiditeit. In sommige gevalle onttrek indiwidue en maatskappye hulle geld by banke – dus verdere likiditeitsdruk wat tot banke se ondergang kan lei indien dit nie gestop kan word nie. Vir gewone sake transkasies is banke ook minder geneë om geld te leen weens vrees vir risiko’s. Dit geld ook vir lenings internasionaal en veral ontluikende ekonomieë kan hieronder gebuk gaan. Maar as geld nie uitgeleen word kan die reële sektore in die ekonomie nie produseer nie of moet hulle minder produseer. Ook dit het ernstige ekonomiese en maatskaplike gevolge.

In die geval van die VSA waar die regering sowat $700 miljard gestem het vir hulp is die vraag of dit genoeg gaan wees en hoe dit gefinansier gaan word. As belastings verhoog sou word verminder dit bloot besteding en spare van indiwidue en maatskappye en dit is nie wat nou moet gebeur nie. Indien die geld geleen sou word op kapitaalmarkte dan verhoog dit rentekoerse en dit is ook nie wat nou benodig word nie. Sou die geld uiteindelik bloot “gedruk” word, dus geldskepping deur die sentrale bank vir die regering, dan kan die geldvoorraad toeneem wat met verloop van tyd betalingsbalansprobleme en inflasie gevolge kan hê.

Onsekerheid heers dus tans oor wat gaan of kan gebeur en hoe sake vorentoe gaan ontwikkel. Die beste wat gedoen kan word is om sake koel, objektief en beredeneerd dop te hou en soos sake ontwikkel die nodige aanpassings en skuiwe te maak.

Intussen is die vrese daar dat die wêreldekonomie se groeitempo merkbaar verder kan verlangsaam. Dit gee daartoe aanleiding dat kommoditeitspryse daal en dat pryse van aandele op die wêreld se markte reeds groot dalings getoon het.

Plaaslike verloop van sake

Die vraag is nou waar staan die RSA in hierdie prentjie?

Wel, ons is nie ‘n geslote eiland nie en wêreld gebeure gaan ons beslis raak. Selfs die Sjinese ekonomie blyk dit tans te ervaar waar tot onlangs toe nog baie persone en instansies gereken het dat hulle immuun teen sulke gebeure sou kon wees. Die RSA is ‘n groot kommoditeit uitvoerland en beide volumes en pryse van uitvoer kan dus nadelig geraak word. Die lopende rekening van die betalingsbalans is reeds groot in die rooi en as uitvoer sou verswak en invoer bly hoog weens infrastruktuur besteding, kan dit lastig raak want om voldoende buitelandse kapitaal te bekom gaan beslis moeiliker raak. Die wisselkoers van die rand kan dus ‘n redelik sterk afwaartse regstelling ondergaan. Dit kan uitvoer bevorder en invoer ontmoedig maar dit gaan ingevoerde goedere se pryse verhoog en dus die stryd om inflasie laer te dwing bemoeilik.

Dan moet onthou word dat die RSA ekonomie probleme van sy eie het. Kom ons noem ‘n paar daarvan.

 

Weens spasie probleme sal daar nie aan die gewone statistiek verdere aandag gegee word nie maar word meegaande tabel aangeheg wat van die belangrikste syfers aantoon.

A J Jacobs
2008-10-02