EKONOMIESE OORSIG: SEPTEMBER 2008
Ekonomiese aanwysers - BBP kwartaal-op-kwartaal
Ekonomiese aanwysers - BBP
jaar-op-jaar
Samevatting
Onstabiliteit en onsekerheid bly aan die orde van die dag sover dit die internasionale ekonomieë en finansiële markte betref. Wat duidelik word, is dat internasionale ekonomiese toestande stadig aan die verswak is en dat inflasievrese aan die opbou is. Daarby is kommoditeitspryse onder druk. Finansiële markte, en by name aandele markte, weerspieël hierdie onsekerhede. Oosterse ekonomieë, wat aanvanklik as immuun teen die verswakkende toestande in Westerse lande beskou was, is ook aan die verlangsaam. Van die Westerse ekonomieë blyk dit veral die VK wat die afgelope tyd besonder swaar getref word.
In die RSA het die groeikoers vir die tweede kwartaal aan die positiewe kant verras. Daarenteen was die inflasiekoerse swakker as markverwagtinge. Dit moet besef word dat die RSA ekonomie nie die internasionale gebeure sal vryspring nie terwyl daar strukturele probleme van sy eie in die RSA ervaar word. Die lopende rekening van die betalingsbalans blyk steeds ‘n kopseer te wees. Daarby is die toename in geldvoorraad groei steeds te hoog ten spyte van ‘n matige verlangsaming die afgelope tyd. Die finansiële markte weerspieël egter ‘n groter mate van optimisme met kapitaalmarkrentekoerse wat gedaal het en pryse van nywerheids- en finansiële aandele wat verbeter het. Daarby bly die waarde van die wisselkoers verbasend sterk onder die huidige omstandighede.
Internasionale gebeure
Die ekonomiese groeikoers in die VSA vir kw2:2008 is opwaarts aangepas vanaf ‘n aanvanklike beraamde 1,9%, teen ‘n jaarkoers bereken, tot 3,3%. Dit word egter nie as ‘n nuwe opwaartse tendens gesien nie maar eerder die gevolg van groot belasting terugbetalings en dalende rentekoerse wat privaat besteding in kw2 bevoordeel het. Die enigste werklike ligpunt is dat die uitvoer vertoning beter lyk terwyl invoer matig daal weens laer internasionale ru-olie pryse en laer kommoditeitspryse. Die verwagting is egter dat die groeikoers in die laaste helfte van die jaar swakker sal neig met die inflasiekoers wat kan versnel. Dit laat die Fed in ‘n netelige situasie rakende hulle rentekoersbeleid. Daarby bly van die banke steeds kwesbaar en bereik nuus van kleiner banke wat bankrot speel die mark gereeld met andere weer wat swak winssyfers toon.
Die EU stuur volgens berigte af op ‘n resessie. Die euro wisselkoers het die afgelope tyd teenoor die VSA$ verswak wat die groeisituasie matig kan bevoordeel maar die stygende inflasiekoers verder kan aanblaas. Vir die rekord: die euro het sedert April tot Augustus vanjaar (gemiddelde waarde van elke maand) met 5,7% teenoor die VSA$ verswak. Om perspektief te behou moet egter ook genoem word dat die euro teen einde Augustus 2008 steeds 77% sterker teenoor die VSA$ gestaan het as teen einde Oktober 2000. Sover dit die inflasiekoers betref word die wêreld as geheel natuurlik in ‘n mate bevoordeel deur die daling in kommoditeitspryse die afgelope tyd. Reuters se indeks van ‘n mandjie van kommoditeitspryse het die afgelope twee maande met 17% gedaal alhoewel dit steeds 27% hoër as die van ‘n jaar tevore is. Ten spyte van aansienlik swakker binnelandse vraagtoestande in die EU bly die ESB vasberade om die inflasiestyging aan bande te lê en het die Bank dan ook verklaar dat daar geen sprake van ‘n spoedige verlaging in rentekoerse is nie.
In die VK gaan dit nie goed nie. CNN berig op hulle internasionale nuusdiens dat algemene sake en ekonomies toestande tans die swakste die afgelope 60 jaar is. Die ekonomie blyk in ‘n resessie te wees met die inflasiekoers wat aan die versnel is. Eiendomspryse het skerp gedaal. Die Britse pond het die afgelope tyd, ten spyte van die feit dat rentekoerse in Brittanje hoër is as in die VSA en die EU, verswak Die afgelope maand alleen het die pond met ongeveer 8% teenoor die VSA$ en 1,5% teenoor die euro in waarde afgeneem.
Strammer sake toestande kom ook in Oosterse lande die afgelope twee maande voor. Dit sluit in Sjina, Indië, Suid-Korea en Taiwan om maar enkeles te noem. Ook hier word inflasieprobleme ervaar. Alhoewel daar nog nie sprake van resessie toestande is nie kom laer groeikoerse, aangedryf deur swakker uitvoer, algemeen voor. Aandele markte in Asiatiese lande het die afgelope tyd dan ook swak vertoon en ook dit is ‘n aanduiding van verwagtings van swakker sake toestande teenoor wat enkele maande gelede nog voorsien was. Dit alles onderstreep een saak: geen land op aarde is immuun teenoor wat in die res van die wêreld gebeur nie.
Plaaslike gebeure
Die SSD het die afgelope maand ekonomiese groeigegewens vir kw2:2008 vrygestel. Inligting hieroor word in die meegaande twee tabelle getoon. Enkele belangrike sake sal kortliks behandel word. Vir die doel sal veral die vertoning van die BBP en sy hoofkomponente in kw2 vergeleke met sake in kw1, seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, vergelyk word. Dit is nodig omdat die groeikoers sterk verbeter het maar begryp moet word wat die oorsaak daarvan was.
Teenoor die positiewe verrassing van die BBP syfers is daar die negatiewe verrassings t o v die inflasiesyfers en aanduidings dat die land op ‘n baie groot tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans afstuur.
Wat die inflasiekoerse betref was die syfers vir Julie beide wat die VPI en PPI betref hoër as markverwagtinge. Die totale VPI koerstoename vir die land as geheel het van 12,3% in Junie tot 13,7% in Julie toegeneem. Die VPIX-koers het in Julie 13,0% beloop (11,6% in Junie) met die kerninflasiekoers wat met 13,7% (12,9%) gestyg het. Voedselpryse was 17,8% (17,6%) hoër as ‘n jaar tevore. Voedselpryse het in Augustus verlede jaar skerp toegeneem en dit kan gevolglik verwag word dat die koerstoename in Augustus vanjaar effens laer sal wees. Die teendeel geld egter vir die totale VPI asook vir die VPIX- en kerninflasiekoers.
‘n Ander rede waarom die VPI inflasiekoers verder behoort te versnel is dat die PPI syfers hoër is en ook skerper as verwagtinge gestyg het. In hierdie geval moet daarop gewys word dat die SSD vanaf Januarie vanjaar die PPI styging publiseer sonder die direkte invloed van ingevoerde pryse. Ek maak egter ‘n berekening wat uitvoerpryse uitsluit maar ingevoerde pryse insluit om onderliggend te bepaal wat die werklike inflasie impulse vanaf die PPI is. Hierdie syfer was in Julie 22,7% (21,2% in Junie) hoër as ‘n jaar tevore. In hierdie geval is die volle impak van die elektrisiteitspryse nog nie in Julie ervaar nie. Dit word egter nie voorsien dat die syfer in Augustus verder sal versnel nie weens die daling in kommoditeitspryse wat voorgekom het. Die basis effek sal waarskynlik verhoed dat die koerstoename ‘n afname in Augustus sal toon.
Dit moet besef word dat daar aansienlike inflasiedruk in die ekonomie aanwesig is. Behalwe die sake waarna verwys is, is loonkoste aan die styg en het die toename in prysstyging in Julie oor ‘n baie breër basis voorgekom as wat die geval in vorige maande was. Om maar enkeles te noem. Die pryse van basiese chemikalieë toon ‘n toename van 23,6%, kunsmispryse is sowat 90% hoër, basiese yster- en staalprodukte styg met 42,1% terwyl die prys van elektrisiteit, gas, stoom en water met 31,3% toegeneem het. Verder moet in gedagte gehou word dat die gemiddelde waarde van die wisselkoers in Julie 15% swakker as ‘n jaar tevore was terwyl internasionaal pryse ook hoër neig. Die kans dat die wisselkoers verder kan verswak is ‘n sterk moontlikheid. Die groei in bankkrediet bly hoog en het in Julie 23,11% beloop. Daar is verder baie likiditeit in die ekonomie aanwesig want die M3 geldvoorraad het die afgelope drie jaar met nie minder nie as 79% gestyg.
Die gevaar dat die wisselkoers kan verswak spruit voort uit die groot tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans. Die handelsrekening het in die opsig in Julie ‘n reuse tekort van R14,3 miljard getoon. Een maand se syfer kan egter misleidend wees. Vir die eerste sewe maande van die jaar was die handelsrekening tekort wel 23,8% groter as ‘n jaar tevore. As ons sou werk op ‘n tekort wat met 20% toeneem dan moet verwag word dat die handelsrekening tekort vir die jaar in die orde van R50 miljard kan beloop. Die inkomste en dienste rekening tekort raam ek op R150 miljard vir die jaar wat ‘n tekort op die lopende rekening van sowat R200 miljard kan lewer. Dit is baie groot en laat die wisselkoers van die rand kwesbaar. Uitvoer kan in komende maande onder druk kom weens die verswakking in die internasionale groei vertoning gepaard met die laer kommoditeitspryse. Onder normale omstandighede sou verwag kon word dat invoer ook laer sou neig maar die invoer van goedere ter aanvulling van die land se infrastruktuur maak dit onseker. Dan is daar kapitaalvloeie op die finansiële rekening wat tot dusver voldoende was om die tekort op lopende rekening te finansier. Die betaling van rentes en diwidende wat hieruit voortspruit vergroot natuurlik weer die lopende rekening tekort. Dit is ‘n ope vraag vir hoe lank die land steeds voldoende kapitaal sal kan trek gesien in die lig van die feit dat die land se soewereine internasionale kredietwaardighied gevaar loop om verlaag te word.
Die finansiële markte is besonder optimisties gegewe die verloop van internasionale en plaaslike sake. Kapitaalmarkrentekoerse (R157staatseffek) het die afgelope twee maande met 153 basis punte tot 9,16% gedaal. Markverwagtinge dui dus daarop dat ‘n laer inflasiekoers te wagte is. Sover dit die verloop van die korter termyn R153 koers betref het dit met 196 basis punte gedaal wat nie net op die verwagting van ‘n laer inflasiekoers dui nie maar ook dat geldmarkrentekoerse nie verder sal styg nie en binne etlike maande dalk selfs kan begin daal. In die lig van wat in die ekonomie aangaan en gegewe die lae binnelandse spaarkoers en groot vraag na investeringsfondse moet ek op die huidige oomblik hierdie optimistiese siening van deelnemers aan die mark bevraagteken.
Wat beurspryse betref het al die hoofindekse die afgelope maand verbeter sodat die totale indeks met 4,5% gestyg het. Ten spyte van die styging van byna 10% in die finansiële indeks die afgelope twee maande bly dié indeks se gemiddelde prys/verdienste verhouding laag op onder 10. Dit blyk goeie waarde te bied. Daarenteen is die p/v verhouding van hulpbronne steeds aan die hoë kant alhoewel dit die afgelope twee maande skerp gedaal het. Nywerheidsaandele se p/v verhouding lyk nie buitensporig te wees nie en derhalwe sal die toekomstige verloop van winste en algemene sake vooruitsigte van deurslaggewende belang wees waarheen pryse van hierdie aandele sal neig.
PE
ratios: monthly

A J Jacobs
2008-09-01
Sel 073 1539842