|
Prima rentekoers
Hierdie inligting
word outomaties via RSS-voere vanaf die onderstaande bronne bygewerk
|
Samevatting Onsekerheid bly die kenmerk oor vooruitsigte vir die wêreld se ekonomieë asook vir die finansiële markte. Wêreldleiers bly egter daartoe verbind om gesamentlik op te tree ten einde die onsekerheid uit die weg te probeer ruim en om hernude aktiwiteite te stimuleer. Intussen neem werkloosheid toe en het die OESO (OECD) sy kommer uitgespreek oor die sosiale en maatskaplike probleme wat die resultaat van die swak ekonomiese toestande is. Plaaslik is die Reserwebank se Kwartaalbulletin vir Maart 2009 vrygestel wat nie net jongste tendense aandui nie maar syfers vir die jaar 2008 gee. Hieraan sal kortliks aandag gegee word. Die inflasiekoerse bly onderliggend daal en die Reserwebank het die repo-koers met een persentasiepunt verlaag. Die geldvoorraad- en bankkredietsyfers dui op ‘n swak vraag na bankkrediet. Die wisselkoers van die rand sowel as aandeelpryse verloop basies sywaarts maar groot fluktuasies word waargeneem. ‘n Bron van kommer is uitsprake deur politici wat daarop dui dat groter staatsinmenging in die ekonomie te wagte kan wees. Daarby gaan die land die komende maand na die stembus en die uitslag sowel as verklarings wat daarop kan volg, kan verdere onsekerheid oplewer.
Samevatting Internasionaal duur die onsekerheid oor waarheen ekonomieë op pad is voort. Die gegewens beskikbaar dui op verdere verswakking van groeikoerse met werkloosheid wat toeneem. Vooruitsigte bly steeds swak en daar is tot dusver geen duidelike aanduidings van ‘n draaipunt in die afwaartse siklus nie. Die nuus beskikbaar oor die verloop van sake is oorweldigend in omvang. Gevolglik sal in die internasionale deel van die verslag slegs aan enkele sake aandag gegee kan word. Plaaslik gaan dit nie veel beter nie. Die groeisyfers vir kw4:2008 was swakker as verwag en verdere verswakkings daarin word voorsien met afdankings wat skerp toeneem. Aan die positiewe kant lyk inflasievooruitsigte beter maar dan weer wil dit voorkom asof die betalingsbalans groter probleme kan oplewer as wat algemeen voorsien word. Die staat se begroting is vraaguitbreidend met die Reserwebank wat dit ondersteun. In die huidige omstandighede is dit verstaanbaar. Die probleem is egter dat die betalingsbalans min ruimte laat vir vraagstimulering en die risiko is dus groot dat die lopende rekening tekort groot gaan bly. Of voldoende buitelandse fondse bekom sal kan word om die tekort te finansier bly ‘n ope vraag veral ook in die lig van die feit dat die land se internasionale kredietwaardigheid verlaag kan word. Dit laat die wisselkoers van die rand kwesbaar wat die stryd teen inflasie kan bemoeilik.
Samevatting Groot skommelings op die finansiële markte dwarsoor die wêreld het die afgelope maand voorgekom. Aandelebeurse het skerp gedaal. Groot skommelings het ook op valutamarkte voorgekom en kommoditeitspryse het skerp gedaal. Die algemene verwagting is dat hierdie gebeure die reële aktiwiteite in die wêreld nadelig gaan raak en resessie toestande word in sommige lande ervaar of verwag met aansienlik laer groeikoerse in ander. Daarmee saam gaan werkloosheid toeneem. Wat verbaas het is dat die aankoopbestuurdersindeks in Sjina, wat aktiwiteite in die fabriekswese meet, in Oktober op 44,6 te staan gekom het teenoor 51,2 in September. ‘n Aansienlike verlangsaming in uitvoer was grootliks hiervoor verantwoordelik en die indeks dui daarop dat fabriekswese aktiwiteite aldaar daal. In die RSA is min of meer dieselfde faktore waargeneem. Wat egter vermeld wil word is dat die groeitempo in die geldvoorraad en bankkrediet aansienlik verlangsaam het en dat die koerstoename in inflasie ook afgeneem het. Die wisselkoers het op ‘n stadium skerp verswak maar daarna gedeeltelik herstel. Die rand bly egter kwesbaar en dit sal nie verbaas indien die land se soewereine internasionale kredietwaardigheid verlaag gaan word nie. Dit kan lastig wees gesien die lae binnelandse spaarkoers en buitelandse fondse wat benodig word om die vaste investering wat onderneem moet word te kan finansier. Dit kan byvoorbeeld tot verdere tariefverhogings by Eskom en ander instellings aanleiding gee wat tesame met die oormaat likiditeit in die binneland en ‘n swakker wisselkoers kan verhoed dat die inflasiekoers skerp daal. Dus kan rentekoerse vir langer hoër bly as wat algemeen voorsien word.
Wat ‘n maand! Ek het altyd die mening gehuldig dat gebeure in die ekonomie nooit ‘n vervelige oomblik oplewer nie maar wat die laaste maand gebeur het was meer as net opwinding. Dit was ook onstellend aangesien die hele wese van die ekonomiese stelsel en lande se ekonomieë in gedrang gekom het. Lesers sal nie verveel word met detail van wat gebeur het nie maar ‘n kort agtergrond tot die gebeure, jongste verwikkelinge die afgelope maand en wat nou te wagte kan wees sal behandel word. Dit moet egter besef word dat dit nie net die finansiële stelsel van die wêreld is wat geraak word nie maar dat, indien daar nie spoedig meer kalmte in die finansiële markte intree nie, die reële sektore ook wesenlik verder nadelig geraak sal word wat beteken dat wêreld groeivooruitsigte ‘n groot knou kan kry. Suid-Afrika het tot dusver grootliks slegs die
vibrasies van die internasionale finansiële krisis ervaar. Daar moet egter geen illusies bestaan
nie; die RSA het ‘n klein oop ekonomie en wat internasionaal gebeur
sal ons raak. Daarby is daar plaaslike probleme waarvan ook kennis geneem
moet word. Soos sake staan het beurspryse op die JSB in September skerp
met 14,0% gedaal met veral die prys van hulpbronaandele wat die toon
aangegee het en met ‘n daling van 22,6%. Daarby het kommoditeitspryse
skerp gedaal. Die VSA$ prys van platinum, byvoorbeeld, is vir die maand
31,3% laer. Die land se betalingsbalans kan nadelig geraak word en die
wisselkoers van die rand lyk kwesbaar. Dit alles dui op swakker ekonomiese
groeivooruitsigte en waarskynlik ‘n heelwat stadiger verlangsaming
van die inflasiekoers as wat algemeen voorsien word met rentekoerse wat
vir langer op huidige vlakke kan bly. Samevatting Onstabiliteit en onsekerheid bly aan die orde van die dag sover dit die internasionale ekonomieë en finansiële markte betref. Wat duidelik word, is dat internasionale ekonomiese toestande stadig aan die verswak is en dat inflasievrese aan die opbou is. Daarby is kommoditeitspryse onder druk. Finansiële markte, en by name aandele markte, weerspieël hierdie onsekerhede. Oosterse ekonomieë, wat aanvanklik as immuun teen die verswakkende toestande in Westerse lande beskou was, is ook aan die verlangsaam. Van die Westerse ekonomieë blyk dit veral die VK wat die afgelope tyd besonder swaar getref word. In die RSA het die groeikoers vir die tweede kwartaal aan die positiewe kant verras. Daarenteen was die inflasiekoerse swakker as markverwagtinge. Dit moet besef word dat die RSA ekonomie nie die internasionale gebeure sal vryspring nie terwyl daar strukturele probleme van sy eie in die RSA ervaar word. Die lopende rekening van die betalingsbalans blyk steeds ‘n kopseer te wees. Daarby is die toename in geldvoorraad groei steeds te hoog ten spyte van ‘n matige verlangsaming die afgelope tyd. Die finansiële markte weerspieël egter ‘n groter mate van optimisme met kapitaalmarkrentekoerse wat gedaal het en pryse van nywerheids- en finansiële aandele wat verbeter het. Daarby bly die waarde van die wisselkoers verbasend sterk onder die huidige omstandighede. Samevatting Onsekerheid oor waarheen wêreld ekonomieë neig bly aan die orde van die dag. Per saldo gesien is verwagtinge een van swakker ekonomiese groei en hoër inflasie. Opinie opnames in Westerse lande oor verwagte sake toestande en verbruikersvertroue boesem ook nie vertroue in dat sake spoedig sal verbeter nie. Beursbewegings deel die siening aangesien dit gemiddeld gesien laer neig met sterk fluktuasies. Van besondere belang is die feit dat kommoditeitspryse laer neig – pryse van metale en minerale sowel as sagte kommoditeite. Plaaslik is daar ‘n mate van optimisme te bespeur dat die inflasiekoers spoedig laer kan begin neig en dat die groot tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans merkbaar kan daal. Die wisselkoers van die rand het die afgelope maand dan ook skerp verbeter met kapitaalmarkrentekoerse wat gedaal het. Verwagtinge dat geldmarkrentekoerse dalk gouer kan begin daal as wat tot onlangs toe nog verwag was, is ook aan die opbou. Die indruk wat verkry word is dat die verwagting is dat die groeikoers ook weer kan begin styg – veral nadat die Minister van Finansies aangedui het dat hy steeds 4% groei vir die jaar verwag. Soos verwag kan word in die lig van waarna hiervoor na verwys is, het die pryse van kommoditeitsaandele op die JSB die afgelope maand gedaal maar het pryse van finansiële aandele en sommige handelsaandele gestyg vanaf hulle laer vlakke van die afgelope tyd. Samevatting Internasionaal en plaaslik het belangrike veranderings in die vooruitsigte vir ekonomieë die afgelope maand na vore getree. Internasionaal duur die verlangsaming van die wêreld ekonomie voort met aanduidings dat inflasiekoerse kan versnel. In die VSA is die Fed se bankkoers verder verlaag. Aanduidings is egter dat dit nie verder gaan daal nie. Die groeikoers in die VSA was in kw1 teen ‘n jaarkoers gereken klein positief en dieselfde as die van kw4 van 2007. Belangrik egter is dat die VSA$ die afgelope weke teenoor die ander belangrike geldeenhede versterk het. Voorvermelde sake het tot ‘n daling in kommoditeitspryse gelei met veral die goud-, platinum- en silwerpryse wat verswak het. Die prys van ru-olie bly egter hoog. Voedselpryse en die beskikbaarheid daarvan is ‘n saak wat internasionaal groot kommer wek. In die RSA is die inflasievraagstuk tans van oorheersende
belang. In hierdie oorsig sal hoofsaaklik hierop gekonsentreer word.
Die Reserwebank het die repo-koers met ‘n verdere 0,5 van ‘n
persentasiepunt verhoog. Kapitaalmarkrentekoerse neig hoër wat ‘n
aanduiding is dat inflasieverwagtings toeneem en verdere rentekoersstygings
verwag word. Aanduidings is verder dat die groeikoers verlangsaam, dat
die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans groot bly
terwyl die groei in bankkrediet onaanvaarbaar hoog bly. Verdere rentekoersstygings
lyk dus na ‘n sterk moontlikheid. Samevatting Toenemende onsekerheid internasionaal oor ekonomiese vooruitsigte is aan die opbou. In die VSA word daar nou openlik gepraat van stagflasie vooruitsigte wat aan die ontwikkel is. Hierdie gebeure spoel oor na wêreldmarkte en veral Europa en Japan word swaar geraak gesien die groot handel met die VSA en die feit dat die VSA$ die afgelope maand merkbaar verswak het. Op finansiële markte heers daar steeds groot onsekerheid en die gevaar bestaan dat van die kleiner banke in die wêreld bankrot kan speel terwyl groot verliese steeds deur die groot banke aangekondig word. Die VSA$ pryse van kommoditeite het in Februarie verder skerp gestyg. In die RSA is daar ook toenemende onsekerheid aan die opbou. Die Minister
van Finansies het in sy begrotingsrede dan ook gepraat van groter onsekerheid
en probleme en dat ons nou moet saamstaan om dit te besweer want “we
are all in it together.” Die inflasiekoers het dan ook verder gestyg,
die geldvoorraad groei bly hoog, die handelsbalans tekort het weer toegeneem
en die wisselkoers van die rand het merkbaar verswak met kapitaalmarkrentekoerse
wat gestyg het. Pryse van hulpbronaandele het die afgelope maand skerp
verbeter. Samevatting Die finansiële krisis in die VSA het die afgelope maande groot internasionale gevolge meegebring. Pryse van aandele wêreldwyd het gedaal, die IMF beraam nou wêreld ekonomiese groeivooruitsigte laer as wat voorheen voorsien was en die VSA huiwer op die rand van ‘n resessie met die gevolg dat die Fed rentekoerse redelik dramaties verlaag het terwyl ‘n fiskale vraagstimulasie pakket ingestel word. Daar moet egter op gewys word dat die huidige gebeure tans nog nie ‘n ekonomiese krisis is nie maar wel grootliks ‘n finansiële krisis is wat wel negatiewe ekonomiese gevolge meebring wat kan vererger. Suid-Afrika met sy relatief klein maar besonder oop ekonomie
kon hierdie internasionale gebeure nie vryspring nie. Daarby het die
land te kampe met probleme van sy eie soos groot wanbalanse wat ervaar
word en in die jongste tyd ook struktuur probleme, veral sover dit die
verskaffing van infrastruktuur ondersteuningsdienste betref. Dan is daar
die afgelope tyd ook ervaar dat buitelanders netto verkopers van aandele
en effekte was. Die inflasiekoers bly opwaarts beur. Gevolglik het die
wisselkoers van die rand verswak, neig kapitaalmarkrentekoerse hoër
en het aandeelpryse van veral handelaars en banke skerp gedaal.
Samevatting Die sub-prima gebeure wat sy oorsprong in die VSA gehad het, is steeds besig om in die VSA self maar ook in heelwat ander Westerse lande negatiewe ekonomies/finansiële gevolge op te lewer. Die gevaar is steeds aanwesig dat dit ekonomiese groeikoerse in dié lande nadelig kan raak wat wêreldwyd negatiewe ekonomiese gevolge tot gevolg kan hê. Finansiële markte in die wêreld reageer onseker op die gebeure en groot fluktuasies in aandelepryse word waargeneem. Weens die belangrike gebeure in die RSA self sal daar nie in hierdie oorsig verdere aandag aan die internasionale toneel gegee word nie. Plaaslik kan die ekonomie en finansiële markte die internasionale
gebeure nie vryspring nie. Daarby het daar belangrike verwikkelinge plaaslik
voorgekom wat besondere aandag verdien. Daarop sal dus hoofsaaklik gekonsentreer
word. Kortliks saamgevat kan vermeld word dat ekonomiese groei in die
derde kwartaal beter as verwag verloop het, dat die inflasiesyfers teleurstellend
was en besig is om ‘n groot kopseer te word, dat die groei in bankkrediet
en geldvoorraad hoog bly, dat op die handelsbalans ‘n groot tekort
aangeteken is, dat die wisselkoers groot spronge, in albei rigtings,
gemaak het en dat die plaaslike effektebeurs ook uiters volatiel vertoon
met kapitaalmarkrentekoerse wat gestyg het. Kommoditeitspryse is eweneens
onstabiel. Daarby was daar politieke verwikkelinge wat verdere onsekerheid
meegebring het.
Samevatting ‘n Verswakkende VSA$, stygende goud, platinum en ander metale en minerale pryse en by name die ru-olieprys, saamgelees met groot onsekerheid in Europa en die VK rakende groeikoerse maar beter groei (tydelik?) in die VSA en steeds sterk groei in veral Sjina met ‘n verdere verlaging in VSA rentekoerse, was die oorheersende internasionale gebeurtenisse die afgelope maand. Plaaslik het die Minister van Finansies ‘n waarskuwing gerig dat
moeiliker toestande te wagte moet wees. Daarby was die VPIX inflasiesyfer
swakker as verwag, toon die handelsbalans vir die 3de kwartaal ‘n
groter tekort terwyl die wisselkoers van die rand skerp gestyg het weens ‘n
swakker VSA$ en groot en verwagte verdere groot kapitaalinvloeie. Die
Reserwebank het die repo-koers verder verhoog terwyl die groei in die
geldvoorraad en bankkrediet hoog bly. Dit alles ten spyt bly die finansiële
markte optimisties en het die onderskeie hoof indekse op die JSE verder
gestyg met kapitaalmarkrentekoerse wat laer geneig het.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Webwerf
deur Ontoweb Media en Inligtingsdienste http://www.ontowebmedia.co.za Tel: 012 6585060 |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||