Voortrekker Monument Atletiekklub

Die Voortrekker Monument Atletiekklub is in November 2006 gestig met die oogmerk om as tuiste te kan dien vir Blanke Afrikaners en ook Blanke Engelstaliges wat identifiseer met die Afrikaner kultuur. Alhoewel ons ‘n nuwe klub is, het ons reeds ‘n groot impak in atletiekkringe gemaak. Ons het byvoorbeeld die Dinamika Springbok Vasbyt Padwedloop by die Monument aangebied waar daar hulde gebring is aan die oud gevegsoldate wat aan die bosoorlog deelgeneem het. Die medalje wat aan alle atlete uitgedeel is het ‘n afbeelding ingesluit van Sersant Vingers Kruger wat tydens Operasie Kropduif in Angola gesneuwel het.

In ‘n era waar ons verlede uit alle oorde verdag gemaak word, het ons klub daarin geslaag om sterk standpunt in te neem ten gunste van ons erfenis en getoon dat ons trots is op ons verlede. Die Ou Voetpad-wedloop het weer hulde gebring aan die ruiters van die Tweede Boereoorlog. Atlete wat hierdie wedloop voltooi het is beloon met ‘n afbeelding van Generaal Koos De la Rey. Dit dien gemeld te word dat Die Ou Voetpad-wedloop tans algeheel die derde plek beklee in Runners World se landswye kompetisie vir die beste padwedloop. Die Dinamika Springbok Vasbyt beklee tans die sesde plek.

Ek wil graag ‘n beroep op alle EOFSA lede wat in die Pretoria en omliggende omgewing woonagtig is en lief is vir draf of stap, om by die Voortrekker Monument Atletiekklub aan te sluit. Selfs voornemende drawwers of stappers wat graag ‘n gesonde leefstyl wil handhaaf is welkom om by ons aan te sluit. Ledegeld beloop slegs R240-00 per jaar en dit sluit ‘n hardlooplisensie vir 2008 en ledegeld in. Indien jy aansluit by ons klub is jy outomaties ook toegelaat as Vriend van die Voortrekkermonument wat ook ‘n aantal byvoordele insluit. Daar vind ook twee keer per week tydtoetse op die gronde van die Monument plaas waar jy die natuurskoon van die Erfenisterrein kan geniet terwyl jy draf of stap. Belangstellendes is welkom om vir Alexander Hattingh te kontak by 083 415 8016.