Samevatting
Internasionaal oorheers die gebeure in Euroland die ekonomies/finansiёle toneel. Na ‘n lang gestoei is ‘n hulppakket vir Griekeland, en ander lande in die euro gebied wat hulp benodig, van €1 miljard aangekondig. Dit het die markte positief gestem. Aandelebeurse het positief daarop gereageer, hulpbronpryse het gestyg en in sommige kringe is daar ook verklaar dat wêreld groeivooruitsigte verbeter het. Binne enkele dae daarna kondig die Griekse regering egter aan dat hulle die hulppakket en die voorwaardes wat daarmee saamgaan, aan hulle inwoners in ‘n referendum gaan voorlê vir goedkeuring. Dit is ongehoord! Die reaksie van die markte daarop was negatief. Intussen het die OESE ook wêreldgroeivooruitsigte vir 2011 en 2012 afwaarts aangepas.
Op die plaaslike front het die inflasiekoerse vir September versnel. Die Minister van Finansies het ook sy siening oor die land se groeivooruitsigte verlaag. Daarby toon hersiene syfers dat die fiskale tekort as persentasie van die BBP gaan toeneem. Later in die maand sal die SSD die groeikoers vir kw3:2011 bekendmaak. Dit lyk asof dit weer eens swak sal wees en daarby wil dit voorkom asof die lopende rekening tekort kon vergroot het. Die land het ook in kw3 ‘n netto uitvloei van portefeulje kapitaal ervaar. Dit verklaar grootliks die skerp daling in die wisselkoers van die rand.
Internasionale verwikkelinge
Ekonomies/finansiёle vooruitsigte vir die wêreld is tans onseker. Wat wel seker is, is dat ekonomiese groei vir vanjaar en volgende jaar traag gaan wees. Jongste opinies sien groeivooruitsigte nou laer as ‘n paar maande gelede. Die mees onlangse in die verband, is die siening van die OESO, (Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling), wat bestaan uit die wêreld se twintig belangrikste nywerheidslande en wat vir sowat 90% van die wêreld se produksie verantwoordelik is. Dié organisasie voorsien dat die VSA vanjaar met 1,7% en in 2012 met 1,8% sal groei. In Mei vanjaar was die siening nog dat die groeikoerse 2,6% en 3,1% onderskeidelik sou wees. Ook word laer groei in die euro-gebied voorsien. Sowat 1,6% vanjaar en slegs 0,3% volgende jaar teenoor ‘n voorheen verwagte 2% vir beide jare. Daar word wel verwag dat groeikoerse in 2013 kan verbeter. Gelukkig wil dit voorkom asof ekonomiese groei in Sjina stewig sal bly nieteenstande ‘n matige verlangsaming wat mag intree. Ander Asiatiese lande se groeivooruitsigte bly ook redelik stewig. Soos ek voorheen ook reeds daarop gewys het, bly ek veral bekommerd oor groeivooruitsigte in Euroland en die VK. Alles wil daarop dui dat die VK en heelwat ledelande in die Euro-gebied resessie toestande gaan ervaar indien dit nie reeds die geval is nie. Hierdie lande bly ‘n belangrike mark vir Suid-Afrikaanse produkte en die gevolge vir die RSA ekonomie moet dus deeglik besef word.
Om dié rede is mens bekommerd oor gebeure in Griekeland en in ‘n mindere mate in lande soos Portugal, Spanje en veral Italiё. Dit voorspel niks goeds vir ons eie ekonomie nie. Ek het onlangs ‘n verslag ontvang oor wat in Griekeland gebeur het. Dit is skokkend om die minste daarvan te sê en dien as voorbeeld vir alle ander lande wat om nie te doen nie. Suid-Afrika het ‘n les hieruit te leer aangesien vele van hierdie praktyke reeds ook hier voorkom. In kort kom dit daarop neer dat oormatige sosiale programme tot ernstige ekonomiese probleme aanleiding gee. Wat nou verstom, is hulle “arrogansie” teenoor die hulppakket wat aangebied word. Ek kan nie help om die indruk te kry dat hulle nie bereid is om enige opoffering van hulle kant te maak nie maar dit as’t ware as ‘n reg beskou dat die ander lande van die euro-gebied, banke en die IMF vir hulle ekonomiese wandade moet instaan. Hulle mag dit dalk net té ver druk. Inderwaaarheid het Mev Merkel alreeds haar politieke loopbaan op die spel geplaas om hulle tegemoet te kom. Soos sake staan, gaan geen bank of ander instelling na dese vir die Griekse regering krediet gee nie – die land se kredietwaardigheid is prakties gesproke tans nul. Dit alleen plaas hulle in ‘n onbenydenswaardige posisie wat hulle blykbaar nie besef nie.
Plaaslike verwikkelinge
Op die plaaslike front wil dit voorkom asof die reёle ekonomiese groeikoers vir kw3:2011, soos in kw2, swak was. Daar is ‘n hele reeks van aanwysers wat in die rigting dui.
· Die gebruik van elektrisiteit het in kw3 swak vertoon. Waar dit jaar-op-jaar gemeet in kw2 1,8% positief was, toon dit ‘n toename van slegs 0,5% in kw3. As daar na die seisoensaangepaste syfer, kwartaal-tot-kwartaal en teen ‘n jaarkoers uitgedruk gekyk word, toon dit ‘n daling op kw2 van nie minder nie as 13,2%. Aangesien sowat 80% van alle elektrisiteit deur die myne, fabrieke en Transnet gebruik word, dui die syfers op trae toestande in kw3 vanjaar.
· In Augustus was daar ‘n snaakse uitskieter sover dit die volume van fabrieksproduksie betref. Jaar-op-jaar gesien het dit in dié maand met 5,6% gestyg na ‘n daling van 6,2% in Julie. Soos in die geval van elektrisiteitsverbruik, wil dit egter voorkom asof die kwartaal-tot-kwartaal verandering ook ‘n daling gaan toon. Dit word ondersteun deur die opname onder aankoopsbestuurders wat daarop dui dat trae produksietoestande in kw3 voortgeduur het.
· Die indeks van mynwese produksie vir die maande van Julie en Augustus vertoon swak. Jaar-op-jaar bereken daal dit met 4,2%. Dit wil voorkom asof die kwartaal-tot-kwartaal syfer, teen ‘n jaarkoers bereken, ‘n groot daling van meer as 10% gaan toon. Dit wil voorkom asof swakker internasionale vraagtoestande in die sektor sy neerslag begin vind. Ook blyk dit dat die waarde van mineraalverkope, teen heersende pryse, heelwat stadiger gestyg het.
· Maar dan is daar ook aanduidings van verlangsaming in die ekonomie as daar na die leidende aanwyser van die sakesiklus gekyk word. Dit het in die maande van Julie en Augustus laer beweeg.
· Waar voorgaande inligting grootliks op die produksiekant van die ekonomie gerig is, is kleinhandelsverkope en motorverkope aanduidings van wat die plaaslike vraagtoestande vir ons aandui. Hierdie twee reekse het in kw3 verbasend sterk vertoon. Veral die verkope van passasiersmotors vertoon redelik goed, ook in Oktober, alhoewel dit nie sal verbaas indien die syfers ‘n neiging tot kleiner motors sal toon nie. Tot en met kw2 het die vergoeding van werkers ook nog sterk gestyg met die na-belaste vergoeding wat in kw2, jaar-op-jaar gemeet, met 11,8% toegeneem het. Dit kan die steeds goeie kleinhandelsverkoopsyfers verklaar. Wat motorkarverkope betref speel die loonstygings uiteraard ook ‘n rol aangesien dit beteken dat indiwidue die maandelikse paaiemente makliker kan bybring. By motorverkope moes krediet egter ook ‘n rol gespeel het.
Voorgaande gewens wil daarop dui dat die produksiekant van die ekonomie in kw3 nie waffers gevaar het nie terwyl die bestedingskant gunstig kon verloop het. (Natuurlik moet daar nog gekyk word hoe owerheidsbesteding asook vaste en vooraad investering, gevaar het. Private verbruiksbesteding se aandeel in die binnelandse besteding bly egter oorheersend.) Hierdie saak kan getoets word deur te kyk wat met die lopende rekening van die betalingsbalans in kw3 gebeur het. Immers, die nominale nasionale inkome min die nominale binnelandse besteding is per definisie gelyk aan die saldo op die lopende rekening.
Voorlopige handelstatistiek vir kw3:2011 toon ‘n aansienlike verswakking teenoor die posisie ‘n jaar tevore. Hierdie syfers is wel aan aansienlike aanpassings onderhewig maar gee tog ‘n aanduiding waarheen sake neig. Die tekort het toegeneem vanaf R1 305 miljard in kw3:2010 tot R3 502 miljard in kw3:2011. Die seisoensaangepaste handelsoorskot teen ‘n jaarkoers bereken, het in kw3:2010, R29 miljard beloop. Op dieselfde basis bereken behoort die oorskot dus vanjaar in die orde van R10 miljard te wees. Maar die netto tekort op die inkome en dienste rekening wat in kw3 verlede jaar op R113,5 miljard te staan gekom het, kan vanjaar in kw3 op sowat R130 miljard te staan kom. Dit laat ‘n beraamde tekort, seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, van R120 miljard vir vanjaar teenoor die syfer van R84,5 miljard verlede jaar. Dit bevestig dat lopende besteding in nominale terme in kw3:2011 vinniger as die nasionale inkome gestyg het.
Daar is egter ‘n verdere verwikkeling op die betalingbalans waarvan kennis geneem moet word. Dit hou verband met die verloop van sake rakende portefeulje kapitaalvloeie op die finansiёle rekening. In kw3:2010 was die netto invloei van portefeulje kapitaal R36,1 miljard en in kw2:2011 R25,6 miljard. Volgens die maandelikse vrystelling van data deur die Reserwebank, was daar in kw3:2011 ‘n netto uitvloei van portefeulje kapitaal van R16,3 miljard. In September alleen was die netto uitvloei R25,5 miljard.
Hierdie gegewens verklaar grootliks waarom die nominale effektiewe wisselkoers van die rand in kw3:2011 met 8% verswak het. Gegewe die internasionale verwikkelinge waarmee lesers vertroud is, wil dit voorkom asof die lopende rekening tekort selfs verder kan toeneem. Dit geld ook vir die totale betalingsbalans met moontlike verdere druk op die wisselkoers van die rand.
Voorgaande gebeure in kw3 moet gesien word teen ‘n versnelling in die inflasiekoers. Die VPI vir die land as geheel, het in September op 5,7% te staan gekom. Dit vergelyk met ‘n styging van 5,1% in Junie en 5,3% in Augustus. Kerninflasie, dws die totaal min voedselpryse alleen, is effens laer op 5,2% maar neig ook hoёr. Daarby het die PPI, met ingevoerde inflasie bygereken, in September op 10,5% te staan gekom teenoor die 10,2% van Augustus en 8,7% in Junie.
Waarvan verder kennis geneem moet word, is die verloop van bankrediet en die M3 geldvoorraad. Jaar-op-jaar beskou, is daar min stygings in beide hierdie groothede. Bankkrediet aan die privaatsektor, seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, het in kw3 egter met 10,4% gestyg en die M3 geldvoorraad met 15,5%. Daarby is die omloopsnelheid van geld geleidelik besig om te styg volgens die jongste gepubliseerde syfers hieroor.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee binnekort sal moet besluit of rentekoerse, verlaag, verhoog of onveranderd gelaat moet word. Hierdie besluit moet geneem word nie net in die lig van gebeure tot dusver vanjaar nie, maar ook wat die toekomstige moontlike verloop van sake kan wees. Immers, in hulle rentekoerssiening moet die Reserwebank vooruitskouend wees en pro-aktief optree. In die verband enkele opmerkings.
Die reёle ekonomiese groeikoers is swak en werkloosheid neem toe. Dit, volgens die siening van sommiges, regverdig ‘n laer repo-koers. Die probleem is natuurlik dat laer rentekoerse binnelandse besteding kan vergroot, (en besparing verminder), maar nie noodwendig binnelandse produksie nie. Gegewe die feit dat die binnelandse komponent van die PPI aansienlik vinniger styg as dié van ons handelsmededingers/vennote, is die kans dus goed dat ‘n toename in binnelandse besteding grootliks deur hoёr invoer bevredig sal word en wat dus min sal bydra tot verhoogde produksie. Dit kan wel bydra tot ‘n groter tekort op die lopende rekening en ‘n swakker wisselkoers wat in ‘n mate plaaslike produsente kan bevoordeel. Dit kan egter tot ‘n hoёr inflasiekoers lei wat in eie reg toenames in reёle besteding kan teenwerk.
Daar is tans twee belangrike kragte wat wel stimulerend op die ekonomie inwerk. Die eerste is die onlangse daling in die wisselkoers van die rand en die tweede is die verwagte tekort in die staatsfinansies van 5,5% in verhouding tot die BBP. Om nou bykomend hiertoe binnelandse besteding te stimuleer deur laer rentekoerse, sou gevaarlik wees en kan tot sekondêre inflasie impulse lei - as dit nie reeds besig is om te gebeur nie. Waar sommige persone reken dat dit tot aansienlike groter vaste investering sal lei, is dit onwaarskynlik gesien die bestaande onbenutte produksiekapasiteite in die ekonomie. Dan moet ook onthou word dat reёle rentekoerse die afgelope jaar reeds met 3 persentasiepunte gedaal het. Die situasie vir senior burgers is ook baie ernstig aangesien hulle inflasiekoers in September 6,2% beloop het terwyl deposito koerse laer as die syfer is.
Die Reserwebank sal dus baie goeie redes moet vind om in die huidige omstandighede rentekoerse verder te verlaag. Waarskynlik sal die Bank, gesien die internasionale onsekerheid wat heers, vir die oomblik nog rentekoerse onveranderd laat. Dit wil egter voorkom asof daar inflasiedruk in die ekonomie aan die opbou is wat volgende jaar wel tot stygings in rentekoerse kan lei. Wat ekonomiese groei betref, kan binnelandse besteding kwalik gestimuleer word. Daar moet wel aandag gegee word om uitvoer te verhoog, wat gedoen kan word gesien die RSA se klein aandeel in die internasionale handel, en om invoer met plaaslike produksie te vervang. Hiertoe sal ‘n meer realistiese wisselkoers ‘n bydrae kan maak maar daar sal veral meer aandag aan die verhoging van multi-faktor produktiwiteit gegee moet word en sal loonsverhogings meer in lyn met die toename in arbeidsproduktiwiteit moet wees. Doen ons dit nie en gaan ons voort met groot herverdeling van inkomstes, ‘n staatstekort wat toeneem en ontsparing deur die owerheidsektor en indiwidue, dan wag ‘n Griekse scenario op ons.
A J Jacobs
2011-11-02



