Search    


EKONOMIESE OORSIG: OKTOBER 2011

 

Samevatting

Internasionaal bly daar onsekerheid oor ekonomiese vooruitsigte terwyl groot skommelings in finansiële markte aan die orde van die dag is. Verder word dit by die dag duideliker dat trae ekonomiese groeikoerse vir 2011 en 2012 verwag moet word. In so ‘n klimaat is dit onwaarskynlik dat inflasiekoerse kan versnel met deflasie vrese wat steeds in veral die VSA aanwesig is. Die gevolg is traer internasionale handel met kommoditeitspryse wat onder druk verkeer en verder kan daal. Aansienlike aanpassings het ook in die wisselkoersmarkte voorgekom met pryse van aandele wat internasionaal merkbaar verswak het.

Die internasionale gebeure het, en gaan nog verder in komende maande, die RSA ekonomie nadelig raak. Meer en meer ekonome se jongste sienings oor ekonomiese groei word afwaarts aangepas met erkenning dat die wisselkoers van die rand, wat die afgelope maand skerp gedaal het, verder kan verswak. Vrese dat die inflasiekoers in komende maande kan versnel neem ook toe. Daarby het kapitaalmarkrentekoerse die afgelope maand weer gestyg. Die kans vir verdere dalings in die repo-koers is nou aansienlik minder nieteenstaande swakker groeivooruitsigte. Plaaslik het die prys van aandele, veral kommoditeitsaandele, ook skerp gedaal. Die wisselkoers van die rand het sy swakste vertoning in kw3 oor die afgelope dekade aangeteken. In hierdie klimaat is die onderliggende inflasiekoers besig om te styg met werkloosheid wat toeneem. ‘n Verdere gevaar is dat die tekort op die staat se rekeninge kan vergroot. Hieraan sal die Minister van Finansies in die interim begroting, wat in Oktober gelewer word, aandag moet gee.   

Internasionale gebeure

Soos sake staan moet verwag word dat Euroland en die die VK ‘n resessie gaan beleef, dit wil sê minstens twee kwartale van negatiewe groei kan voorkom, met lae groeikoerse in die VSA vir die voorsienbare tyd en laer, alhoewel nie noodwendig swak groeikoerse, in Sjina en Indië. In Japan kan sake egter beter begin verloop vanaf die besondere lae basis weens die groot natuurramp vroeër vanjaar. Die IMF het dan ook hulle siening van wêreldgroei vir 2011 afwaarts aangepas van 4% na 3%. Dit mag min klink, maar is beslis betekenisvol. Die gevolg is dan ook dat veral kommoditeitspryse, in VSA$ gemeet, skerp daal soos die meegaande grafiek aantoon. Dié dalings word aangehelp deur ‘n VSA$, wat veral teenoor die euro, die afgelope maand verbeter het.

gaan beskerm met nodige optredes indien vereis. Die rede was dat die skerp styging in die SF, Switserse uitvoerders uit die wêreldmark geprys het, en anders as by ons, beskou die Switsers dit nie in hulle land se langtermyn belang nie. Om ‘n idee te gee van wat gebeur het, kan gemeld word dat in die tydperk 3/6/2011 tot 12/8/2011, die SF met 22% en 24% onderskeidelik teenoor die VSA$ en euro verstewig het. Na die optrede deur die Switserse owerhede vind ons dat in die tydperk 12/8/2011 tot 30/9/2011 die SF onderskeidelik met 12% en 10% teenoor die $ en euro verswak het. Na die optrede laat dit die SF egter nog steeds sterker, maar minder sterk, teenoor die $ en euro as in Junie vanjaar.

Nog ‘n verwikkeling weens die internasionale onsekerheid was dat daar ook ‘n kapitaalvlug na die Japanese jen was met ‘n verdere versterking in die waarde van die jen. Om dié saak in perspektief te plaas: die jen het in die tydperk 6/7/2007 tot 3/6/2011 met nie minder nie as 33% teenoor die VSA$ verbeter. Sedert 3/6/2011 tot 30/9/2011 het die jen met ‘n verdere 2,5% verbeter nadat dit in die laaste twee weke van September effens veld verloor het.

Hierby aansluitend moet die styging in die prys van goud gesien word. Dit het in VSA$-terme op 1/7/2011 op $1483 per ons te staan gekom. Sedertdien het dit toegeneem tot $1 860 per ons of met 25% op 9/9/2011, om daarna te daal tot $1 622 per ons of met 13% op 30/9/2011.

In so ‘n klimaat van stadige groei en selfs resessie toestande wat kan intree in sekere lande, is die verloop van die kommoditeitspryse heel verstaanbaar. Wat egter ook besef moet word, is dat inflasiekoerse laag kan bly met die moontlikheid van deflasie wat in komende maande kan voorkom. So ‘n verwikkeling sal baie negatief wees aangesien dit verbruikers kan aanspoor om selfs nog minder te spandeer wat, saamgesien met inkorting van owerheidsbesteding in die Euro-gebied en die VK, die insinking in ekonomieë kan vererger. Dan het daar die afgelope maand ‘n mate van rustigheid in die VSA ingetree maar dit kan die stilte voor die storm wees aangesien dié land se probleme nog geensins besweer of voldoende aangespreek is nie. Hierdie verwikkelinge kan ernstige gevolge vir die RSA ekonomie inhou.

Plaaslike verwikkelinge

Plaaslik is myns insiens die enkele belangrikste verwikkeling die feit dat die wisselkoers van die rand in September skerp verder gedaal het. Die omvang hiervan was as volg.

                                       Verloop van die rand wisselkoers

 

                                                                                                % verandering       

 

                          3/6/2011     2/9/2011    30/9/2011            3/6 tot 30/9    2/9 tot 30/9

 

R/$                        6,71           7,06             8,10                    -20,7            -14,7

R/€                        9,83         10,03           10,84                    -10,3            -8,08

R/£                      11,03         11,45           12,62                    -14,4          -10,22

R/SF                     8,05           8,96             8,92                   -11,30           +0,45

R/100¥                 8,36           9,19            10,51                  -25,72           -14,36

 

Soos gemerk sal word, het die wisselkoers van die rand die afgelope maande veral teenoor die jen en die $ skerp verswak. Daar was in September  merkbare verdere dalings in die waarde van die wisselkoers, behalwe teenoor die SF vir redes soos reeds bespreek.

Die  vraag wat nou na vore tree, is of die wisselkoers verder kan daal of dalk kan herstel na vorige vlakke van om en by R7 per VSA$1? Om die vraag te probeer beantwoord kom ons kyk na ‘n paar sake van belang.

1.     Die RSA en sy inwoners leef nou reeds vir etlike jare bo hulle vermoё. Dit blyk uit die saldo op die lopende rekening van die betalingsbalans wat sedert 2003 tekorte toon. Die kumulatiewe tekort op die lopende rekening in die tydperk 2003 tot kw2:2011 beloop R722,6 miljard. In diė tydperk is netto buitelandse vaste investering, (BVI), ten bedrae van R152,8 miljard bekom. Dit beteken dat die basiese balans, (lopende rekening tekort plus BVI), ‘n kumulatiewe tekort van R569,8 miljard aangeteken het.

2.     Onder normale omstandighede sou met so ‘n verloop van sake verwag kon word dat die inflasiekoers merkbaar moes versnel het, dat die wisselkoers van die rand sou moes verswak en dat rentekoerse sou moes styg of minstens relatief hoog gebly het. Wat egter ervaar was, was dat die VPI se koerstoename in die jare 2009 en 2010 verlangsaam het, dat die reёle effektiewe wisselkoers vanaf einde 2008 tot Julie 2011 met meer as 30% versterk het en tans selfs sterker staan as wat dit in 2005 was.

3.     Die vraag is nou: hoe is dit moontlik? Die antwoord is geleё in die netto fondse wat veral deur portefeulje kapitaalvloeie bekom is. In die tydperk 2003 tot kw2:2011 het dit R368,3 miljard bedra. Fondse ten bedrae van R209,4 miljard is ook verkry vanaf ander investering, wat meestal korttermyn lenings en/of handelsfinansiering is. Die land leef dus bo sy vermoё en die verkoop van finansiёle bates en korttermyn lenings het verhoed dat die reёle wisselkoers verswak het, dat die inflasiekoers versnel en rentekoerse hoёr was.

4.     Beteken dit dat ‘n land maar deurentyd bo sy vermoё kan bly leef? Beslis nie! Immers, deur die verkoop van finansiёle bates aan buitelanders bou die land sy balansstaat af en gebruik die geld so verkry om lewenstandaarde kunsmatig te beskerm deur ‘n sterk wisselkoers. (Finansiёle bates word vir kontant, $, €, £ en ¥, geruil.) Onderliggend word die land egter armer maar die inwoners besef dit blykbaar nie. Dit kan nie onbeperk voortduur nie want die een of ander tyd sal die land se internasionale kredietwaardigheid in gedrang kom omdat die land nie meer gesien sal word as synde in staat om al sy internasionale verpligtinge in die toekoms te kan nakom nie. Soos sake staan, het die land se netto internasionale betaling van diwidende aan buitelanders in die tydperk 2002 tot kw2:2011 vanaf R16,5 miljard tot R48,2 miljard, of met 192% gestyg. Dit kan verwag word dat netto rente betalings in die komende jaar ook skerp sal toeneem weens groot netto aankope van effekte deur buitelanders die afgelope jaar.

5.     Meer nog, die verloop van sake het die land se sektore wat internasionaal moet meeding, groot skade berokken. Dit was veral die landbou, die fabriekswese en toerisme sektore en in ‘n mindere mate mynbou, wat die prys van ‘n kunsmatige sterk wisselkoers betaal het. Die handelsektore wat invoer en indiwidue het egter daarby gebaat. Daar was dus kruissubsidiёring wat voorgekom het. Die prys daarvoor betaal was en is egter groot en die gevolge sal nog vir baie jare ervaar word. Byvoorbeeld: die land se internasionaal handeldrywende sektore kon al hoe minder meeding met uitvoer wat daardeur benadeel is terwyl invoer al hoe goedkoper bekom is. Dit het produksie benadeel. As voorbeeld: die fisiese volume van fabrieksproduksie is tans min of meer op dieselfde vlak as wat dit in 2005 was. Meer nog: die netto reёle vaste kapitaalvoorraad in die landbou toon sedert 2003 geen toename nie. In die nywerheid was dit in 2010 selfs 8,7% laer as in 2003.

6.     Teen voorgaande agtergrond is dit duidelik dat sake nie onbeperk so kon voortgaan nie en dat die wisselkoers van die rand die een of ander tyd sou moes meegee na meer realistiese vlakke. Internasionale beleggers is nou skielik meer bewus van risiko’s in ontwikkelende lande en kyk gevolglik ook met ‘n skerper oog na wat die situasie in die RSA is. Maar die verswakking van groeikoerse internasionaal gaan tot gevolg hê dat beide die vraag na grondstowwe sowel as die VSA$-pryse daarvan kan verlangsaam/daal. Dit voorspel ‘n groter tekort op die handelsrekening. Daarby sal stygende diwidend en rentebetalings daartoe bydra dat die tekort op die dienste en inkome rekening van die betalingsbalans groot bly en moontlik selfs kan styg. Dan moet in gedagte gehou word dat die jongste PPI syfer, met invoerpryse bygereken, 10,2% hoёr as ‘n jaar tevore is. Selfs die VPI syfer, wat nog heelwat laer as die PPI is en 5,3% beloop, is hoёr as die van ons meeste handelsmededingers.

Die verloop van sake soos geskets, saamgelees met jongste internasionale en plaaslike verwikkelinge, wil daarop dui dat die kanse skraal is dat die wisselkoers in die komende jaar merkbaar kan versterk. Die teendeel is eerder waar en derhalwe voorsien ek ‘n verdere verswakking daarvan vanaf huidige vlakke. Aangesien die wisselkoers van die rand die enkele belangrikste prys in die Suid-Afrikaanse ekonomie is, gaan daar aansienlike aanpassings wees.

Een belangrike gevolg is dat oor tyd die land se uitvoerders in ‘n beter mededingende posisie geplaas sal kan word. Maar dan gaan alle invoere duurder word. Dit sal met gepaste fiskale en monetêre optredes teengewerk moet word soos byvoorbeeld dat indien nodig, rentekoerse verhoog sal moet word. Ook kan die toename in die reёle nasionale inkome laer neig. Verder kan daar ook ‘n herrangskikking van die verdeling van die nasionale inkome voorkom. Die sektore wat die afgelope paar jaar benadeel is ten koste van andere, kan nou bevoordeel word. Die voordeel wat verbruikers gehad het deur die kunsmatig sterk wisselkoers is egter nou vir eers verby. Lewenstandaarde, gemiddeld beoordeel, kan daal en verbruiksbesteding kan swak vertoon - veral op duursame goedere. Die aanpassing wat nou voor die deur staan is egter noodsaaklik ten einde die land se besparing te verhoog en die produktiewe sektore se internasionale mededingingsposisie te verbeter. Pogings om produktiwiteit te verhoog sal meer aandag moet kry aangesien dit in die finale instansie die sleutel tot welvaart is.

A J Jacobs

2011-10-04