Samevatting
Onsekerheid oor waarheen ekonomieë in veral Westerse lande op pad is, duur voort. Die algemene verwagting is een van laer groei met inflasiekoerse wat in Sjina, Brittanje en Indië hoër neig maar in die VSA en in die Euro-gebied steeds relatief laag bly. Hieraan, en dan ook die rol wat die kredietgraderingsagentskappe speel, sal in hierdie oorsig aandag gegee word. Die finansiële markte bly onbestendig en grootliks rigtingloos.Die goudprys het die afgelope maand verder skerp gestyg maar die meeste ander metale en minerale se pryse fluktueer aansienlik met laer neigings waarneembaar. Sagte kommoditeite se pryse het verbeter.
In die RSA het groeisyfers vir kw2:2011 teleurgestel. Hiermee saam het beide die VPI en PPI vir Julie skerper as verwagtinge gestyg. Kapitaalmarkrentekoerse het skerp gedaal wat die verwagting van laer geldmarkrentekoerse laat toeneem het. Bankkrediet aan die privaatsektor het in die maand van Julie op Junie gemeet, teen ‘n fris tempo toegeneem. Die wisselkoers van die rand het in die eerste drie weke van Augustus verswak maar in die laaste week van die maand ‘n groot deel van die verliese verhaal. Pryse van aandele op die JSB het aanvanklik skerp gedaal maar in die laaste week van Augustus weer merkbaar herstel.
Internasionale verwikkelinge
Groeikoerse van die meeste groot Westerse lande vir kw2:2011 was swak en oor die algemeen swakker as verwagtings. In Sjina en Indië is die groeikoers egter steeds hoog maar ook hier was daar tekens van verlangsaming. In hierdie oorsig wil ek egter hoofsaaklik op die vooruitsigte vir ekonomiese groei die klem plaas.
Waar staan ons tans met die wêreldekonomie? Kom ons gaan ‘n paar jaar terug om perspektief hieroor te kry.
In die middeljare van die vorige dekade het dit oor die algemeen baie goed gegaan. Soos met enige ekonomiese opswaai, ontstaan daar knelpunte en verskeie wanbalanse hoe verder die opswaai vorder. Maar daar was ook spesifieke sake wat aan die opswaai ‘n kunsmatige karakter verleen het. So byvoorbeeld was daar ongekende stygings in die pryse van woonhuise en het ander bate- en kommoditeitspryse ook skerp toegeneem. Die siening was dat huispryse imuun teen dalings was en dus as goeie sekuriteit dien. Derhalwe is lenings vir die aankoop daarvan toegestaan wat selfs groter as die aankoopprys daarvan was. Dan het die VSA regering die huisleningsagentskappe as’t ware die opdrag gegee dat alle Amerikaners se gesinne op ‘n woonhuis “geregtig” was en dus lenings daarvoor moes kry ongeag of hulle kredietwaardig was of nie. Die meeste sentrale banke het begin walgooi en rentekoerse verhoog. Hierdie pogings is egter teengewerk deur sommige woordvoerders wat dit as onnodig beskou het en selfs bly praat het van die “Goldilocks” scenario – die pap was nie té warm of té koud nie. In hierdie klimaat het die kredietgraderingsagentskappe AAA graderings toegeken aan sub-prima huisverbande wat as pakkette aan instansies buite die banksektor teen hoë pryse verkwansel is. Die geld het dus na die banke teruggevloei en omdat die vraag na krediet groot was, kon dit weer uitgeleen word en so het die proses voortgestoom. Daar was ook ander soortgelyke skemas wat maar almal daarop neergekom het dat die hele “finansiële ballon” kunsmatig opgeblaas is.
Soos dit nou maar eenmaal in die lewe gaan, hou kunsmatige welvaart nie stand nie. Die publiek het vasgebrand met hulle terugbetalings op hulle verbande veral toe rentekoerse begin styg het. Dit het toe ‘n hele kettingreaksie meegebring waarop nie hoef ingegaan te word nie. Die kort en die lank van die saak is dat die finansiële seepbel gebars het. Banke is in likiditeitskrissise gedompel, winste het gedaal, mense het hulle werk verloor waardeur koopkrag ingekort is. Les bes, met ‘n tydsloering, het ook die belastingontvangstes van regerings gedaal sodat staatstekorte gestyg het. Die insinking was so erg en van so ‘n omvang dat gevrees was dat die wêreld ‘n depressie tegemoet kon gaan soos wat in die vroeë dertigerjare voorgekom het. Groter tekorte in regerings se finansies dien in so ‘n klimaat dan gewoonlik as ‘n teenvoeter vir swak vraagtoestande in die ekonomie en dit word, en is, ondersteun deur ruim monetêre beleide – nie net in Westerse lande nie maar ook in Sjina en Indië en andere. In kort, lande het gekoördineerd opgetree om ‘n dreigende depressie af te weer. Dit was nie die geval in die dertigerjare nie. Daar is ‘n mate van sukses hiermee behaal maar die ekonomiese groeiresultate wat gevolg het, het nie aan die verwagtinge voldoen nie. Die hoofrede hiervoor was dat alhoewel ruim likiditeit aan banke deur sentrale banke beskibaar gestel is vir lenings, onsekerheid onder die publiek tot gevolg gehad het dat sulke lenings nie op groot skaal opgeneem is nie. Dit ten spyte van besonder lae rentekoerse. Die sakesektor weer is likied en omdat daar onderbenutte produksiekapasiteite bestaan, is daar geen groot vaste investeringsprojekte nie. Waar dit nog voorkom, word dit grootliks uit eie bronne gefinansier.
Voorgaande onderstreep maar weer eens net die feit dat die ekonomie nie ‘n eksakte wetenskap is nie. Soos ons dan ook geleer is: monetêre beleid kan ‘n ekonomie rem maar daar is geen waarborg dat dit die ekonomie kan aanstoot nie.
Hoe nou gemaak? Dit is waar fiskale optrede intree. Daarom is daar niks verkeerd as ‘n ekonomie onbenutte produksiekapisiteite het, dat die staatstekort sal vergroot nie. Daar is egter enkele voorwaardes. Ten eerste moet die groter tekort voortspruit uit laer belastingontvangstes wat kan toeneem as die groeikoers versnel. Tweedens, ekstra uitgawes moet van ‘n kapitale aard wees sodat dit nie permanent in staatsbesteding ingebou word nie. Die verhoging van lopende besteding is dus uit! Kapitaalbesteding op infrastruktuur het ook die bykomende voordeel dat dit help om produktiwiteit te verhoog. Verder help dit dus ook om welvaart te verhoog en is terselfdertyd ook teen inflasionisties.
Dit wil nou voorkom asof die kredietgraderingsagentskappe in hulle kredietgradering van regerings hierdie punte ignoreer. Indien wel, is hulle verkeerd in hulle optrede en doen hulle die wêreld nie ‘n guns nie. Inteendeel, hulle huidige optrede dwing lande as’t ware om staatstekorte te verklein in hierdie klimaat van onderbenutte produksiekapasiteite weens te lae spandering. Dit gaan tot gevolg hê dat ekonomiese groeikoerse verder verlangsaam en dat die Westerse wêreld dalk weer in ‘n resessie, dus negatiewe groei, kan verval. Daarby gaan dit ook lande soos Sjina, Indië en ontwikkelende lande soos die RSA nadelig raak. Dit sal ‘n kwade dag wees vir ‘n aantal redes. Ten eerste gaan produksie en inkome verlore wat nooit weer verhaal kan word nie. Immers daar is geen groter verlies as wanneer ‘n land nie ten volle of naby volle produksievlakke opereer nie. Verder gaan werkloosheid styg. Dit kan tot politieke onrus lei en tot gevolg hê dat meer sosialistiese regerings aan bewind kom of meer sosiale besteding onderneem word. Hierdie instellings het myns insiens ‘n paar jaar gelede dus baie daartoe bygedra dat die “ekonomiese ballon” onnodiglik opgeblaas is wat gebars en tot ‘n krisis gelei het. Nou tree hulle weer verkeerd op wat tot ‘n krisis na die ander kant toe kan lei. Die kredietbeoordeling van ‘n land of regering moet dus beoordeel word oor die verloop van ‘n volle sakesiklus en met in agneming wat in die land as geheel aangaan. Om ‘n land soos Japan, of Duitsland, se graderings te wil afskaal soos wat onderskeidelik gebeur het en in die vooruitsig gestel word, grens aan growwe onverantwoordelikheid. Die vraag wat beantwoord moet word is: wat sou gebeur het indien die tekorte op die staatsfinansies nie toegelaat was om te styg nie. Dan sou staatsbesteding gesny moes word en/of belastings verhoog moes word. Dit sal vraag verder inkort en die probleme wat bestaan vererger en dit geensins versag nie. Die wêreld moet uit hierdie probleem wat ontstaan het groei op ‘n verantwoordelike wyse. Die alternatief is ‘n resessie of selfs ‘n depressie soos wat in die dertigerjare ervaar is.
Dit is teen voorgaande agtergrond dat vooruitsigte beoordeel moet word. Daar bestaan by my min twyfel dat ekonomiese groeikoerse heelwat laer gaan wees in die volgende 12 tot 18 maande as wat tot onlangs toe nog voorsien was. Of resessie toestande gaan intree, sal nog gesien moet word. Nogtans voorsien ek ook dat sentrale banke sal voortgaan om, waar dit nodig geag word, bykomende likiditeit te verskaf. Dit is in beide die VSA en in Euroland steeds die geval. Dit word gedoen om regeringstekorte wat in baie gevalle relatief groot is te finansier en terselfdertyd te verhoed dat rentekoerse styg. Die risiko hieraan verbonde is dat inflasiekoerse mettertyd kan styg as van die beskikbare bankkrediet op groot skaal deur indiwidue en maatskappye opgeneem word. Op die korttermyn behoort inflasiekoerse egter laag te bly gesien die trae vraagtoestande en surplus produksiekapasiteite wat bestaan. Verder kan die prys van grondstowwe daal wat insetkostes laer kan dwing. Die vraag is natuurlik verder wat met winste van maatskappye kan gebeur. Logika wil dat dit dalk swakker kan neig of minstens stadiger kan styg as die afgelope jaar. Dit, tesame met die prys van metale en minerale wat laer is as ‘n paar maande gelede, verklaar waarom die prys van aandele, veral hulpbronaandele, die afgelope maande skerp gedaal het.
Plaaslike toestande
Die reële ekonomiese groeikoers, (BBP), gemeet van kwartaal-tot-kwartaal, (k-t-k), seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, het van ‘n afwaarts hersiene 4,5% in kw1:20011 tot ‘n skamele 1,3% in kw2 verlangsaam. Indien die groeikoers jaar-op-jaar beskou word, het dit afgeneem vanaf 3,5% in kw1 tot 3,0% in kw2.
Indien die syfers van k-t-k beskou word, is negatiewe groeikoerse teen ‘n jaarkoers bereken in kw2 in die landbou (-7,8%), mynwese (-4,2%) en die vervaardigingssektor, (-7%), aangeteken. In die geval van landbou was weersomstandighede ‘n belangrike bydraende faktor tot ‘n negatiewe groeikoers wat ook in kw1 voorgekom het. Dit is egter belangrik om daarop te let dat al drie hierdie sektore, internasionaal moet kan meeding hetsy met uitvoer of teen produkte wat ingevoer word. Dit laat die vraag in hoe ‘n mate die oorgewaardeerde wisselkoers ‘n rol speel. Veral ook omdat dit die tweede kwartaal is dat mynwese produksie gedaal het en ook die swak toestande wat in toerisme bedryf voorkom.
Daarby het die sektore elektrisiteit, gas en water vir kw2 aansienlik swakker gevaar met ‘n groeikoers van slegs 0,9% teenoor die 3,3% wat in kw1 behaal is. Die konstruksie sektor se vertoning was nog eens power alhoewel dit van 0% in kw1 tot 0,5% in kw2 verbeter het.
Teenoor die vermelde sektore wat swak groeivertonings aangeteken het staan die tersiêre sektore wat as groep teen 4% gegroei het vergeleke met 3,7% van kw1. Hier was dit die algemene owerheid wat die grootste groeikoers van 5,7% behaal het. Die sektor finansies en vaste eiendom se groeikoers het vanaf 4,8% in kw1 tot 2,9% in kw2 verlangsaam.
Ander inligting van belang wat uit die syfers afgelei kan word, is kortliks die volgende.
· Die nominale BBP was in kw2 10,1% hoër as ‘n jaar tevore. Die nominale BBP word saamgestel uit die vergoeding van werkers en die bruto bedryfsurplus. Die vergoeding van arbeid het van 10,0% in kw1 tot 12,4% in kw2 versnel met die vergoeding van werkers in die algemene owerheid wat met 15% gestyg het. Daarteenoor het die bydrae tot die BBP wat vanaf die bruto bedryfsurplus gevloei het van 12,6% in kw1 tot 10,7% in kw2 verlangsaam.
· Die versnelling in die vergoeding van arbeid, saamgelees met die j-o-j verlangsaming in die reële BBP, beteken dat arbeidskoste per eenheid produk geproduseer skerp vanaf 6,4% in kw1 tot 9,1% in kw2 gestyg het.
· Die afgeleide BBP inflasiekoers, (BBP deflator), het van ‘n koerstoename van 7,6% in kw1 tot 6,9% in kw2 verlangsaam.
Al die inflasie aanwysers het in Julie versnel. Inderwaarheid, die stygings daarin was meer as markverwagtinge.
Die VPI vir die land as geheel, het in Julie 5,4% beloop teenoor 5,1% in Junie. Dit was hoofsaaklik gedryf deur voedselpryse wat in Julie 7,4% hoër as ‘n jaar tevore was. Beide prysstyging van goedere,(voedsel ingesluit), en dienste het egter ook versnel. Die kerninflasiekoers, soos ek daarna kyk d w s die totaal min voedselpryse, het ook van 4,7% in Junie tot 4,9% in Julie toegeneem.
Die eintlike skok het egter vanaf die PPI gekom. Soos dit deesdae amptelik gepubliseer word, het dit in Julie teen ‘n koers van 8,9% gestyg. Ek kyk egter anders daarna. Ek elimineer uitvoerpryse maar tel invoerpryse dan by om te bepaal wat die PPI inflasiekoers vir inwoners van die land is. Dié syfer het in Julie op 10,0% te staan gekom teenoor 8,7% in Junie. Dit beteken dat die goedere komponent van die VPI wat in Julie 5,1% beloop het, in komende maande nog kan versnel. Daarby styg dienste se pryse deurentyd veral gedryf deur geadministreerde prysstygings. Aan die anderkant blyk dit dat die $-pryse van metale kan daal weens swak internasionale vraagtoestande. Dit kan ‘n mate van verligting bring. Daarteenoor egter styg die loonrekening skerp. Voorts sal daar beslis groter probleme na vore tree indien die wisselkoers van die rand sou verswak soos wat die een of ander tyd moet gebeur.
Die toename in bankkrediet en die M3 geldvoorraad het, jaar-op-jaar gesien, in Julie beskeie gebly. Bankkrediet aan die privaatsektor het teen 5,65% toegeneem en die M3 geldvoorraad teen 5,58%. Dit is slegs marginaal hoër as die toename in die VPI inflasiekoers. Dit wil egter voorkom asof die omloopsnelheid van geld versnel. Verder moet onthou word dat sakesektore, veral die handel en motorhandel, heelwat transaksies self finansier. Ook is dit insiggewend dat bankkrediet aan die privaatsektor vir die maand van Julie, seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, met 14,9% toegeneem het. Die vraag is nou of dit ‘n eenmalige verskynsel of dalk ‘n nuwe tendens is? Tans egter kan daar nie van vraag-trek- inflasie, of oormaat vraag relatief tot potensiële produksie, gepraat word nie.
Dit bring my by die vraag, soos wat tans sterk in die media oor gespekuleer word, of die Reserwebank nie dalk die repo-koers verder gaan of behoort te verlaag nie? Daar is ‘n aantal sake wat in dié rigting wil dui. Die swak groeivertoning is belangrik, so ook die feit dat die land heelwat onderbenutte produksiekapasiteite het, die swak vraag na bankkrediet, die oorgewaardeerde wisselkoers grootliks weens rentekoersverskille en les bes, aanduidings vanaf die verloop van kapitaalmarkrentekoerse.
Soos uit die voorgaande grafiek gemerk sal word, het kapitaalmarkrentekoerse die afgelope vyf maande heelwat gedaal. Koerse van effekte met ‘n korter uitstaande looptyd het skerper afgeneem. Dit beteken enersyds, dat die opbrengskurwe oor die hele spektrum afwaarts aangepas het wat dui op laer inflasieverwagtinge. Andersyds, het die opbrengskurwe steiler geword. Dit weer dui daarop dat die mark verwag dat geldmarkkoerse kan daal. Dit is die normale afleidings wat gemaak kan word en in die verlede was dit ‘n goeie aanduiding van wat verwag kon word. Die vraag wat ek egter wil stel is of dit werklik die afleidings is wat in huidige omstandighede gemaak kan word? Daal die koerse in die kapitaalmark tans nie bloot maar omdat buitelanders groot aankopers daarvan is omdat die opbrengs wat die plaaslike koerse bied hoër is as wat hulle in die VSA , Euroland, die VK en Japan kan kry nie? Aangesien die RSA se risiko in die internasionale kaptaalmarkte groter as die genoemde lande s’n is, met die inflasiekoers plaaslik ook hoër, is dit waarskynlik die rede waarom die kort kant van die mark se koerse vinniger daal. Buitelandse beleggers wil die hoër koerse benut maar is skynbaar tog lugtig om te lank te belê – alhoewel alle effekte natuurlik te eniger tyd verkoopbaar is. Myns insiens is die gewone afleidings wat uit die verloop van die opbrengskurwe gemaak word tans dus nie heeltemal geldig nie – beide wat geldmarkrentekoerse se vooruitsigte en ook wat inflasievooruitsigte betref.
Die teenargument vir ‘n laer repo-koers is dat reële rentekoerse reeds daal omdat die inflasiekoers versnel. Inderwaarheid, dit wil voorkom asof die inflasiekoers verder kan styg. Verder is rentekoerse nie hoog nie want die reële prima-koers, gemeet aan die hand van die kerninflasiekoers, beloop slegs sowat 4%. Daarby is depositokoerse tans byna gelyk aan die inflasiekoers en beslis laer as die inflasiekoers van 5,9% wat vir pensioenarisse geld. Voeg hierby die land se lae spaarkoers – veral die van indiwidue. Hierdie hele scenario kan ook oornag verander indien die wisselkoers sou verswak. Dit kan maklik gebeur gesien die laer vlakke van kapitaalmarkrentekoerse wat nou geld, wat beteken dat buitelanders minder geneë kan wees om verdere aankope daarvan te maak, saamgelees met die stygende plaaslike inflasiekoers. Die gevaar bestaan ook dat vraag-trek-inflasie kan intree gegewe die stygende inflasiekoers en dalende reële rentekoerse.
Laastens, ‘n opmerking of twee oor die huidige vlaag van looneise.
Allle salaristrekkers wil graag beter leef. As hulle dit wil bereik, dan moet loonstygings verdien word. Dit beteken dat ‘n werker meer moet produseer wat beteken dat produktiwiteit moet styg. Verder moet die vraag na en aanbod van verskillende grade van werk in die arbeidsmark ook deurgaans eerbiedig word. As loonsverhogings nie in lyn is met toenames in arbeidsproduktiwitet nie, sal sulke verhogings se voordeel slegs tydelik wees aangesien stygende inflasie die verhoging se voordeel spoedig sal erodeer.
Maar sakelui kan ook nie loonsverhogings toestaan wat tot hulle ondergang kan lei deurdat hulle hulself uit die mark prys nie. In omstandighede waar lone dus vinniger styg as arbeidsproduktiwitet, kan verwag word dat maatreëls in werking gestel sal word om met minder werkers klaar te kom om sodoende die loonrekening in bedwang te hou. Verder, gegewe die huidige omstandighede waar die wisselkoers sterk is, kan maatreëls geneem word om meer kapitaalintensiewe produksie tegnieke te implementeer, aangesien kapitaaltoerusting relatief goedkoop ingevoer kan word. Sodoende sal die getal werkers ook verminder. Dit beteken dus dat investering kan voorkom wat nie noodwendig tot groter produksie lei nie maar bloot arbeidsvervangend is.
Die huidige vlaag van ongekende hoë looneise, en die vernielsug en intimidasie wat daarmee saamgaan, is myns insiens dus ‘n resep vir verdere werksverliese. Dit op sy beurt, behalwe die finansiële probleme wat vir gesinne daaruit voortvloei, is ook ‘n resep vir arbeidsonrus.
A J Jacobs
2011-09-02



