Samevatting
Gebeure wat verband hou met staatskuld, in Griekeland en die VSA, het ekonomies/finansiële verwikkelinge die afgelope maand oorskadu. In albei gevalle is onmiddellike krisisse ontlont maar nie opgelos nie. Daarby het die ekonomiese groeikoers in die VSA in die eerste helfte van die jaar swak vertoon. Soos voorheen reeds na verwys is, is daar aanduidings dat ekonomiese groei in Sjina, Indië en in Europa ook swakker neig. In Japan kan egter beter groei te wagte wees. Aandele markte dwarsoor die wêreld, het in die lig van voorgaande verwikkelinge, en die onsekerhede wat daarmee saamgaan, swakker vertoon.
Plaaslik dui inligting daarop dat die reële groeikoers in kw2:2011 swakker kan wees as die wat in kw1 voorgekom het. Die werkloosheidskoers het in kw2 verder gestyg. Wydverspreide stakings het voorgekom. Daarby neig die inflasiekoers hoër. In die lig van voorgaande gebeure en ook gesien die groot voorraadopbouïng van kw1 en steeds trae vaste investering, wil dit voorkom asof die handelsrekening van die betalingsbalans in kw2 kon verbeter het. Pryse van aandele, veral die van hulpbronne, het die afgelope maand verder gedaal.
Internasionale verwikkelinge
Die belangrikste internasionale nuus en gebeure is dat op 31 Julie daar ‘n ooreenkoms in die VSA bereik is tussen die verskillende politieke partye om die skuldplafon wel te lig. Die ooreenkoms behels ‘n onmiddellike verhoging daarvan van $900 miljard maar dat dit tot in 2013 in totaal met $2,1 triljoen verhoog kan word. Daarmee saam egter moet staatsuitgawes oor die volgende dekade met $2,5 triljoen ingekort word. ‘n Spesiale komitee is aangestel om $1,5 triljoen se besparings nog hierdie jaar te bereik. Indien laasgenoemde besparings nie hierdie jaar behaal word nie, sal die verdere verhoging van die skuldplafon na $2,1 triljoen, outomaties opgeskort word. Geen verhoging van belasting sal ingestel word nie. Dit moet egter onthou word dat belasting verlagings deur mnr Bush aangekondig, in 2013 verval. Indien dit nie hernu word nie, kan dit dan sowat $3,5 triljoen se bykomende inkomste oplewer.
Hierdie ooreenkoms het die onmiddellike risiko afgeweer dat die VSA regering nie in staat sou wees om al sy verpligtinge te kon nakom nie. Die onderliggende probleem van ‘n té groot skuldlas is egter steeds nie ten volle besweer nie maar bloot uitgestel.
Ek het in die verlede al daarop gewys dat die VSA se mense gemiddeld goed opgelei is, dat hulle op die voorpunt staan van navorsing en ontwikkeling in die wêreld en gevolglik styg produktiwiteit deurentyd weens die toepassing van nuwe tegnologie. Daar is egter een probleem en dit is dat die inwoners van die land en sy regering bo hulle vermoë leef en gevolglik het die skuldlas oor jare gestyg met ‘n lae besparingsyfer wat daarmee saamgaan. Dit lei tot dubbele tekorte, naamlik ‘n tekort op die staatsfinansies en ook ‘n tekort op die lopende rekening van die betalingbalans. In albei gevalle beteken dit dat die skuldlas oor die jare skerp gestyg het en steeds toeneem. Hierdie probleem is vererger deur die feit dat die kunsmatige ekonomiese seepbel van ‘n paar jaar gelede gebars het wat tot ‘n skerp insinking in die wêreldekonomie en die van die VSA gelei het. Die maatreëls wat getref is om dit teen te werk het gelei tot ‘n aansienlike styging op die tekort in die VSA, en ander lande soos onder andere Griekeland, se staatsfinansies. Die daaropvolgende herstel was stadig sodat belastinginkomstes wat aanvanklik skerp gedaal het, relatief stadig gestyg het. Dit het sake bemoeilik om die tekorte te verklein.
Enige tekort moet egter gefinansier word. Dit word gedoen deur meer te leen of om geld te skep. Gegewe die lae spaarsyfer in die VSA, (net soos in die RSA), moes daar gevolglik op die internasionale kapitaalmarkte fondse bekom word. Dit lei daartoe dat rentebetalings aan die buiteland skerp styg wat die tekort op die staatsfinansies weer vergroot sowel as die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans. Dus ‘n bose kringloop wat op sigself voed. Dit op sy beurt kan daartoe lei dat ‘n land nie al sy verpligtinge, veral teenoor buitelanders, kan nakom nie wat dan ‘n land se soewereine, (die regering), en internasionale kredietwaardigheid in gedrang kan bring. Die moontlikheid dat die VSA se soewereine kredietwaardigheid wat ‘n AAA gradering is, verlaag kan word, is dus steeds ‘n sterk moontlikheid. Immers, die verhoging van die skuldplafon beteken maar bloot dat die VSA se regering toegelaat word om die tekort groot te hou en finansiering daarvoor te gaan verkry. Die vraag is of die internasionale gemeenskap sal voortgaan om die VSA te finansier? Dalk wel, maar dan waarskynlik teen hoër rentekoerse aangesien die risiko om geld aan die VSA te leen styg.
Sou die tekort egter gefinansier word deur geld te skep via die Federale Reserweraad, soos wat reeds gebeur het, dan vergroot die risiko dat die inflasiekoers mettertyd kan styg. Dit kan dus bloot gesien word as ‘n ander vorm van belasting. Dit kan egter ook daartoe lei dat die VSA$ in waarde verder kan daal. Immers, in die tydperk 1/3/2002 tot 29/7/2011, het die VSA$ teenoor die euro reeds met 40% en teenoor die jen met 42,5% verswak.
Die vraag moet egter ook gestel word wat sal die gevolge wees indien die skuldplafon nie gelig word nie. Om dan te verhoed dat die VSA regering in gebreke bly om sy skuldverpligtinge te kan nakom, sou staatsbesteding drasties ingekort moes word. Dit beteken dat ‘n vraagkomponent in die VSA ingekort word en dit op sy beurt, sou tot ‘n aansienlik laer ekonomiese groeikoers lei. Die voorstelle op die tafel om besteding in te kort kan in ‘n mate wel hiertoe bydra. Die strategie is egter duidelik: probeer die tekort oor tyd kleiner kry maar doen dit geleidelik om te verhoed dat die ekonomie in ‘n resessie verval. Dit is waarskynlik die beste scenario wat gevolg kan word. Indien dit nie gebeur nie, kan belasting ontvangstes swak bly wat die tekort groot kan hou. Die VSA moet dus poog om uit die probleem te groei met gepaardgaande finansiële dissipline.
Intussen egter is aangekondig dat die VSA se ekonomiese groeikoers, teen ‘n jaarkoers bereken, vir kw1:2011 afwaarts aangepas is na ‘n skamele 0,4% terwyl die voorlopige aanduiding van ekonomiese groei vir kw2 op slegs 1,3% te staan kom. Vooruitsigte vir die res van die jaar lyk nou ook minder belowend as voorheen voorsien. Dit hou ernstige gevolge in vir die res van die wêreld. Dit beteken dat die VSA minder sal invoer van ander lande, wat weer ekonomiese groei daar kan benadeel. Wat verder van belang is, is dat die swakker groei veral voorgekom het weens die feit dat die publiek in die VSA minder spandeer. Hulle is onseker oor die toekoms en gevolglik betaal hulle skuld af wat beteken dat hulle spare verhoog. Min bankkrediet word ook opgeneem. Dit is ‘n positiewe verwikkeling op die langtermyn, maar skep op die korttermyn probleme. Verder het die staat self ook in kw2 minder spandeer terwyl voorraadvlakke afgewerk is. Laasgenoemde kan tot effens beter groei in kw3 aanleiding gee of minstens ‘n verswakking buffer.
Plaaslike verwikkelinge
Op die plaaslike front dui inligting daarop dat die ekonomiese groeikoers, teen ‘n jaarkoers bereken, in kw2 waarskynlik heelwat swakker sal wees as die 4,8% groei wat in kw1 behaal is. Immers, ‘n aansienlike deel van die verbetering in die groeikoers in kw1 was as gevolg van ‘n skerp opbou in voorrade. Die produksie wat opgewek is, is dus nie alles verkoop nie. Dit kan daartoe lei dat produksie in kw2 ingekort word om die voorraadvlakke af te werk. Hierdie tendens kan versterk word deur die stakings wat voorgekom het wat tot produksie verliese lei. Dit kan egter ook daartoe aanleiding gee dat invoer daal. Invoer kan natuurlik ook laer wees weens die feit dat invoere vanaf Japan onderbreek is. Om veral dié rede kan die handelsrekening van die betalingsbalans in kw2 beter vertoon maar sal dit grootliks teengewerk word deur ‘n verwagte groter tekort op die inkome- en dienste rekening.
Inligting vir die maande van April en Mei dui daarop dat die fisiese volume van fabrieksproduksie, teen ‘n jaarkoers uitgedruk, in kw2 skerp gaan daal teenoor ‘n groot styging wat in kw1 voorgekom het. Elektrisiteitsverkope, wat altyd ‘n goeie aanwyser van ekonomiese aktiwiteite is, vertoon ook swak. Daarby het die volume van kleinhandelsverkope teleurgestel en nie aan die verwagtinge voldoen nie. Vooruitsigte vir die res van die jaar lyk ook nie té belowend nie aangesien die leidende aanwyser van die sakesiklus nou reeds vir drie maande laer neig.
Teen voorgaande agtergrond is die inflasiekoers besig om te versnel. Beide die VPI, vir die land as geheel gemeet, sowel as die PPI het in Junie vinniger toegeneem as wat verwag is. In die geval van die VPI was die styging in Junie 5,1% teenoor ‘n styging van 4,6% in Mei. Let egter daarop dat die styging in die VPI in Desember 2010 nog slegs 3,4% beloop het. Dus ervaar die land sover vanjaar ‘n aanmerklike versnelling daarin. Voedselprysstygings is die grootste rede vir die versnelling aangesien dit in Junie 7,1% hoër as ‘n jaar tevore was. In Desember was die styging in voedselpryse slegs 1,5%. Die prys van dienste was in Junie 5,2% hoër as ‘n jaar tevore. Dit kan in Julie verder versnel weens veral stygings in munisipale tariewe.
Die stygings in pryse opgeneem in die PPI, dit is op produksievlak, het die mark egter geskok. Lesers sal weet dat ek ingevoerde pryse byreken aangesien dit pryse in die pypleiding is wat die plaaslike komponent van die PPI en VPI in komende maande kan beïnvloed. So gemeet, styg die PPI in Junie met 8,7% teenoor 7,9% in Mei en ‘n 4,4% styging in Desember 2010.
Al wat pryse tans laer hou is die sterk wisselkoers van die rand en die feit dat bankkrediet matig styg. Wat laasgenoemde betref, moet egter ook daarop gelet word dat die omloopsnelheid van geld die afgelope jaar toegeneem het. Dan word heelwat krediet deur handelaars toegestaan wat bloot beteken dat hulle kontant beskikbaar aanwend om krediet aankope te finansier.
Die eise om hoër lone en salarisse kan ook in die komende jaar druk op kostes en dus die inflasiekoers plaas. Indien gekeer wil word dat loonstygings inflasie aanvuur en terselfdertyd wil verhoed dat werkloosheid verder styg, stygings daarin verband moet hou met toenames in arbeidsproduktiwiteit. Dit gebeur nie met die gevolg dat arbeidskoste per eenheid produksie gelewer in 2009 met 10,0% en in 2011 met 9,5% gestyg het. In ‘n klimaat waar die wisselkoers sterk is, (vir die verkeerde rede), is groot looneise ‘n resep vir stygende werkloosheid soos wat dan ook besig is om te gebeur. Immers, die sterk wisselkoers maak dat die pryse van ingevoerde goedere stadiger styg en in sekere gevalle selfs daal. Plaaslike produsente moet hiermee meeding maar kan nie koste stygings verhaal of ten volle verhaal nie. Ten einde mededingend te kan bly, sal hulle hul wend tot groter kapitaal intensiewe produksie tegnieke veral omdat masjinerie en toerusting relatief goedkoop ingevoer kan word. Dit lei dan bloot tot groter werkloosheid.
Gegewe plaaslike en internasionale ekonomiese en finansiële verwikkelinge, verbaas dit nie dat pryse van aandele ook op die JEB die afgelope maand verder gedaal het nie. Die totale indeks toon ‘n daling van 2,1% vir die maand van Julie. Die hulpbronne indeks daal met 4,6%. Die finansiële indeks is 1,7% laer terwyl die nywerheidsindeks ‘n afname van 0,8% toon. Die pryse van hulpbronaandele het nou reeds sedert die einde van Februarie met 12,7% gedaal teenoor ‘n daling van 3,3% in die totale indeks.
Weens onsekerheid, het die prys van goud die afgelope maand skerp vanaf $1 500 per ons tot $1 631 gestyg – ‘n toename van 8,7%. Die prys van platinum het ook gestyg maar persentasiegewys aansienlik minder as die van goud. Die prys van ru-olie het oor die afgelope twee maande gedaal weens swakker internasionale groeivooruitsigte wat die vraag na ru-olie en ander kommoditeite kan benadeel. Die prys van suiker het die afgelope tyd gestyg.
A J Jacobs
2011-08-01



