Sion Ontwikkelings-Koöperasie Beperk.

Prospektus

Wie is ons?

Die - te gestigde - Sion Ontwikkelings - Koöperasie Beperk (hierna genoem die Koöperasie) word gestig om ‘n selfversorgende groeipunt en veilige hawe in Suid-Afrika te vestig en om sodoende voorsiening te tref vir die persone wat nie wil deel wees van die gevolge van die nabye eenwêreld-orde nie, en voorsiening wil maak vir die wederkoms.

Die algemene toestand van die wêreld, die samevoeging van alles, volke, lande, besighede, kulture, godsdienste en regerings is besig om tot stand te kom, met die uiteinde ‘n eenwêreldregering, soos dit in die Bybel vir ons uitgespel word  (Openb 13:7. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie en Openb 17:13 Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier.)

Om dié mag te verkry, beteken dit eenvoudig dat daar een persoon gaan kom wat oor die daardie wêreldstelsel gaan heers. Die Woord spel duidelik uit dat daar ‘n eenwêreldstelsel tot stand gaan kom. Nog nooit in die geskiedenis was daar ‘n situasie waar net een persoon mag het oor elke stam, taal en nasie nie, wat beteken dit moet nog gebeur.  Ons gee gehoor aan die waarskuwings wat aan ons gerig word in die Woord, van ons Hemelse Vader.

As oplossing is daar besef dat daar vir Christene net een uitweg is, en dit is om so ver moontlik verwyderd, in ‘n geografiese groeipunt  saam te kom, vanwaar hulle in samesyn kan voorsorg tref vir wat in die eindtyd te wagte kan wees, soos wat in die boek Daniël duidelik vir ons uitgewys word.  In Daniël word pertinent na die eindtyd verwys. Daniël 2:28. (...en Hy het koning Nebukadneser bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur...)  Sien www.eindtyd.org

In daardie gebied wil ons selfversorgend en onafhanklik van die dan bestaande ekonomiese stelsel kan oorleef om nie deel te vorm van die  eenwêreld-stelsel nie. Ons wil selfversorgend oorleef, om die afhanklikheid en die gevolge wat die neem van die merk van die dier inhou, te voorkom. - Openb 13:15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.

Openb 13:16 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; Openb 13:17 sodat niemand kan koop of verkoop nie,behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.

Hierdie tydperk geskied wanneer die wêreld deur tien konings regeer gaan word, wat aanvanklik regerings gaan wees sonder mag!  In die geskiedenis was daar nog nie eers een regering sonder mag nie.  Ons Vader se woord spel vir ons uit dat daar ‘n tydperk gaan wees van tien konings sonder mag (koningskap), wat beteken dit moet nog kom. Openb 17:12 En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Openb 17:13  Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier.

Die vorming van die tien unies en die tot standkoming daarvan is feitlik gefinaliseer, en geskied soos in Daniël vir ons uitgewys word -

Dan 2:43 Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.

Neem net Suid Afrika as voorbeeld, en vra uself af. Kleef ons mense as ‘n rëenboognasie aanmekaar vas? So ook die AU en die EU.  Verder, watse mag het die unies ( EU en AU) huidig? Spring Suid - Afrika of enige ander land, as die Afrika Unie sê spring. Nee, want die unies het huidig  geen mag nie, hul verkry dit eers later (Vir een uur, saam met die dier).

Dit is baie duidelik dat daar aan die Woord van ons Hemelse Vader, baie ernstig aan gehoor  gegee moet word, soos in Die Woord vir ons gesê word - Mat 24:15 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet— Mat 24:16 dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;   OOK

Opn 18:4  En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.

Opn 18:8  daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.

Dit is baie logies dat mens onvoorbereid na die berge kan vlug nie. Dit, en bogenoemde, is die redes hoekom ons eenkant wil gaan en selfonderhoudend raak, nie om volk, taal of kultuur onthalwe nie, maar om gehoorsaamheid aan ons Vader se opdrag. Om die ongemak van die plae wat gaan kom, die dood en siektes wat dit gaan veroorsaak, te vermy.

Projek Beskrywing:

Die Koöperasie se eerste doelwit is om ‘n plaas aan te koop wat moet dien as ‘n veilige hawe vir Christene, waar hulle hulself kan distansieer van die nuwe Suid-Afrika en sodoende nie deel uit te maak van ‘n toekomstige eenwêreldregering nie, en kan wag op die wederkoms. (Sien www.eindtyd.org vir meer inligting.)

Onderliggende Beginsels:

Die onderliggende beplanning is dat die grond as ‘n aftree/vakansie-oord ontwikkel word. Huidige wetgewing bied aan die ontwikkeling in die vorm van ‘n vakansie-oord, die maklikste en mees geskikste opsie met die minste draadwerk, om te bereik waarna gestreef word.

Ons almal besef dat die ontwikkeling wat op die plaas moet plaasvind, of anders gestel, die selfonderhoudende strewe, as doelwit nie ‘n langtermyn ontwikkeling as oogmerk het, waar winste en bates gegenereer gaan word nie. Die projek word aangepak uit geloof en vertroue. Geloof in God, vertroue in Sy woord, gehoorsaam aan Sy opdragte, en uit dankbaarheid oor die waarheid in Sy Skrif.

Die doelwit is om na die berge te gaan en te wag op die wederkoms. Dit is dus duidelik dat net die mense wat in hul harte oortuig is van die wederkoms, en wat glo dat die wederkoms op hande is, deel sal uitmaak van hierdie projek.

Omdat ons mens is, en omdat ons Vader vir ons sê, dat niemand die dag en uur sal weet van die einde nie, en in dieselfde asem sê dit kom onverwags of soos ‘n dief in die nag (Sien Mattheüs 24:36 - 51), en ook as dit gebeur dat Vader se tyd nie ons tyd is nie, moet daar ‘n plan wees wat aanvaarbaar en logies is vir die mens. Daarom is die onderliggende beginsels van die Sion projek,  om ‘n groeipunt te skep waarheen Christene kan gaan, wat as ‘n vakansie/aftree-oord aangesien en ontwikkel sal word, as deel van ‘n Koöperasie. Mense op die plaas sal aandeelhouers wees van die Koöperasie.

Sou Vader vertoef om in die volgende 13 jaar te kom, dan moet daar in die grondwet van die Koöperasie voorsiening gemaak word om die projek of te ontbondel, of dit dan as vakansieoord te hanteer, sonder eise en ontevredenheid, met regverdigheid. Indien die eindtyd vroeër geskied, is ons in die moeilikheid. Hierdie is dus duidelik ‘n projek van geloof en vertroue, daarom is eenstemmigheid oor die doelwitte van die ontwikkeling nie onderhandelbaar nie.

Daar word nie van aandeelhouers verwag om onmiddelik alles op te gee en na die plaas te verhuis nie, alhoewel ‘n aandeelhouer wat so wil doen, altyd welkom sal wees. Aandeelhouers kan na die grond verhuis, soos wat sy omstandighede ontwikkel, of wanneer omstandighede dit toelaat of noodsaak.

In die eerste fase, sal die Koöperasie die beskikbare fondse aanwend om die basiese infrastruktuur te skep, sodat aandeelhouers wat na die grond verhuis van water voorsien kan word, terwyl die nodige tegnologie vir energie en rioölverwerking beskikbaar sal wees, soos voorgeskryf deur die Ingenieursafdeling. Fondse is altyd die grootste uitdaging, maar die voorsiening van fondse sal ‘n gebedsaak wees, waarop vertrou sal word.

Die klem is op organiese groei, en aandeelhouers moet aanvaar dat daar nie teerpaaie en straatligte gaan wees, soos in ‘n normale dorpsontwikkeling nie, omdat sodanige infrastruktuur heel waarskynlik nie nodig sal wees nie. Indien die Koöperasie se fondse dit egter toelaat, kan sodanige ontwikkeling oorweeg word.

 

Die vestiging van landbou vir voedelsekerheid is ‘n prioriteit en sal in fase 1 voorrang geniet. Die eerste doelwit is om in die basiese behoeftes van die rusoord- gemeenskap te voorsien. Kos, energie, en water. In hierdie verband is die nodige kundigheid betrek om die mees modernste organiese landboumetodes, natuurlike energie en skoon water daar te stel.

Aandeelhouers sal nie met die standplase of aandele kan spekuleer nie, aangesien dit nie deel uitmaak van die gees van die ontwikkeling nie. ‘n Standplaas is gekoppel aan ‘n aandeel. Die aandeelhouer verkry onder die huidige SA wette nie eiendomsreg op die standplaas nie, en kan dus net die aandeel verkoop teen markwaarde, wat deur die Koöperasie self bepaal word. Op hierdie manier verseker ons dat geen aandeelhouer toegelaat word om wins uit die medemens, of mede-aandeelhouers te maak nie.

Tot tyd en wyl ‘n aandeelhouer nie sy standplaas benut nie, het die Koöperasie vruggebruik van die grond.

Stemreg op aandeel / aandele:


Aandeelhouers kan soveel aandele koop as wat hulle kan bekostig, maar het net stemreg op die Algemene Ledevergadering van die Koöperasie, op die eerste of Primêre aandeel. Dit verhoed dat een aandeelhouer, wat dit kan bekostig om meer aandele te koop, enkel aandeelhouers kan oordonder op grond van stemme.

Koste van aandeelhouding:

Daar is twee klasse aandele:

1)      ‘n Klas A aandeel kos R 15 000.00 en daardie aandeel is gekoppel aan ‘n standplaas van 500 vk/m. Indien meer klas A aandele gekoop word, kan die aandeelhouer versoek dat die standplase aangrensend is.

2)      ‘n Klas B aandeel kos R 7 500.00 en daardie aandeel is gekoppel aan ‘n standplaas van 250 vk/m. Indien ‘n verdere klas B aandeel /aandele gekoop word, kan die aandeelhouer versoek dat die standplase aangrensend is.

Alle aandele word verkoop en uitgereik, slegs nadat die Koöperasie se direksie die voornemende aandeelhouer se aansoek goedgekeur het. Slegs natuurlike persone kan aandeelhouers word.

Op hierdie standplaas verkry die aandeelhouer gebruiks- en bewoningsreg, onderhewig aan voorskrifte deur die Koöperasie, soos vervat in die Koöperasie se Grondwet. Hierdie voorskrifte is om te verseker dat bure ongestoorde bewoning van hulle standplase kan geniet, en om te voorkom dat krotbuurte of plakkerskampe verrys. Verder skryf dit sekere minimum bouvereistes voor, soos byvoorbeeld watter tipe energievoorsiening en riolering ge-installeer moet word.

Gekoppel aan die Primêre of eerste aandeel, is daar ‘n maandelikse ledegeld van R 50.00 wat per debietorder betaalbaar is. Hierdie ledegeld word gebruik om die operasionele uitgawes van die Koöperasie te dra, soos byvoorbeeld salarisse, kantoorkostes en vervoer. ‘n Jaarlikse verhoging in aandele kan slegs goedgekeur word op die jaarlikse Algemene Ledevergadering.

‘n Sekondêre klas A aandeel kos ook R 15 000.00, en is ook gekoppel aan ‘n 500 vk/m standplaas, op dieselfde voorwaardes as die Primêre aandeel. ‘n Sekondêre klas B aandeel kos ook R 7 500.00, wat ook gekoppel is aan ‘n 250 vk/m standplaas.

Aandeelhouers met Sekondêre aandele, kan versoek word dat die standplase aangrensend is, welke versoek met graagte toegestaan sal word.

Op elke Sekondêre aandeel is daar ‘n maandelikse administratiewe heffing van R 50.00 betaalbaar, wat vir dieselfde doeleindes aangewend word as die maandelikse ledegeld.

Tot tyd en wyl die standplaas onbenut lê deur die aandeelhouer, het die Koöperasie vruggebruik daarop, en dra gevolglik die koste van instandhouding.

Aandeelhouers mag nie spekuleer met aandele nie, en mag dit net aan die Koöperasie terugverkoop. Lidmaatskap en aandele mag eers verkoop word na vyf jaar.

Klas A aandele mag gekoop word teen afbetaling om alle belangstellendes te akkommodeer.

Opbrengs op belegging in aandele:

Let wel dat die Koöperasie geensins vir enige aandeelhouer wins of groei op aandele belowe nie. Hierdie is ‘n belegging in Christenskap en ewigheid, en ‘n belegging in die aandeelhouer se eie Christelike oortuigings en voorreg, om tussen sy eie mense te kan woon en oorleef.

Doelwit:

Die doel van die projek is om dit vir soveel as moontlik Christene moontlik te maak om ‘n bekostigbare standplaas te bekom, waar hulle tussen hulle eie mense kan meewerk om afsonderlik voor te berei vir die eindtyd en die wederkoms.

‘n Plek waar daar nie spekulasie met standplase toegelaat sal word nie, om te voorkom dat iemand wins uit hierdie uiterste ernstige situasie probeer maak.

 

Daar is reeds ‘n professionele span, bestaande uit ingenieurs, argitekte en munisipale kundiges, besig om intensief navorsing te doen oor self onderhoudende behuising, alternatiewe energiebronne, gevorderde rioolverwerking en gemeenskapsontwikkeling.

Die noodsaak vir die ontwikkeling van die plaas is duidelik uitgespel hierbo en het ten doel om ‘n heenkome te bied vir kinders van ons Hemelse Vader  wat die tekens van die tye sien en in hulle gees die  besef ervaar dat ons in die laaste van die laaste dae leef, en sal allereers vir almal wat inkoop in die konsep die geleentheid bied om selfversorgend te kan wees.

Die Grondwet sal die ontwikkelingspotensiaal en vooruitsigte van die grond uiteensit ten einde die doelwit van ‘n ekonomies lewensvatbare en selfversorgende eenheid binne die tydperk van vyf jaar te bereik.

Hulpbronne wat deel is van die grond:

Die plaas wat ondersoek word beslaan ‘n oppervlakte van net meer as 4 000 ha en beskik oor die volgende :

- Dit is geleë aan die Oranje Rivier in die Noord Kaap ongeveer 50km vanaf Prieska

- Ongeveer 1 km rivierfront met beperkte pompregte

- Derde van plaas beslaan deur berg

- Heelwat bewerkbare grond – sal egter naburige grond moet bekom, afhangende    

  van die belangstelling.

- Sterk skoon fonteine wat permanent uitloop

- Verskeie sterk boorgate

- Baie hoë konsentrasie ystererts, mangaan en meer (baie kms myntonnels wat  

   verder ontwikkel kan word, vir skuiling oa.)

- Baie vrugbare grond

 

Orde van Ontwikkeling :

Boerdery :

Die mees geskikte wyse om die deelnemers van die Koöperasie selfversorgend en verantwoordelik te kry is om ‘n soort van Kibboets aan die gang te kry en ook om organiese groei te bewerkstellig. Dit is die vinnigste wyse waarop daar binne die minste tyd die meeste bereik kan word. Landbougrond sal aan pioniersboere beskikbaar gestel word, wat bereid sal wees om op eie inisiatief en dissipline die grond te bewerk.

Verskeie gewasse kan produseer word wat insluit  lusern, aartappels, kool, uie, waatlemoene en nog meer. Tegnologiese vooruitgang moet benut word en die toepassing van Permakultuur / Aquaponiks word sterk aanbeveel. Die boere wat belangstel sal in samewerking met die Koöp, die geleentheid gegee word om ‘n plan voor te lê waarvolgens hulle ‘n tydskaal sal voorstel waarbinne hulle toegelaat sal word om alle insetkoste te verhaal, waarna alle oeste se netto inkomste om die helfte met die Ko-op gedeel kan word vir die reg om die grond te gebruik, indien nodig.

Daar kan met Landbou Koöperasies geskakel word om die bereidheid van boere om betrokke te raak te bepaal, en die uitnodigings te rig.

Niemand weet wat die tydperk tot die einde van tyd nog behels nie, daarom moet met normale ontwikkeling en opleiding voortgegaan word, sodat jong boere/kibboetsers die geleentheid kan kry om opgelei te word. Die Ko-öp kan self boerderye aan die gang kry wat as leerskool sal dien vir jongelinge wat graag self wil boer.

Die sentrale boerdery/kibboets/Koöp sal dien as kwekery vir die plantmateriaal, leerskool om kundigheid te bevorder en om die produksie van lewens-middele en die nodige voedsel om van te kan oorleef, te beheer en monitor.

Verblyf Moontlikhede:

Die stilte en rustigheid in die wye natuur en die ongereptheid van die plaas leen dit volkome daartoe dat inwoners die nabyheid van ons Vader en Skepper kan opsoek en indrink. Die koste verbonde aan so ‘n rustyd is uiteraard minmaal en dit is voedsel vir die gees.

Kampplekke met volledige fasiliteite kan aanvanklik oorweeg word – kyk na Mbizi waar daar ablusiegeriewe vir elke karavaan staanplek is en wonderlike skoon fasiteite vir die tentbewoners. Daar kan ook van die permanente tente aangebied word soos in die ‘upmarket’ oorde. Erwe wat gekoop word kan aanvanklik as  staanplekke dien, sodat kopers hulle karavane permanent daar kan los ? Daar sal begin moet word om die nodige fasiliteite soos ‘n handelshuis ens te vestig. Van die eerste kopers kan die geleentheid verkry om so ‘n handelshuis aan die gang te kry.

Tydelike en permanente strukture sal moet voldoen aan standaarde soos deur die Koöp bepaal.

Ondersteuningsdienste :

Die voorsiening van krag water, en nodige energiebronne geniet voorrang. Daar kan nie op gefokus word om bronne te ontwikkel vir die breë handel nie, maar uitsluitlik om te dien as ruilmiddel onder die bewoners van die plaas.  

Deelnemers sal van meet af moet inkoop in die werking en omstandighede van wat ‘n Kibboets vereis van die deelnemers.

Kwekerye kan tot stand kom, en in die kleinhandel moet voedsel-, skoonmaak-, klerasie-, voertuie instandhouding, vervoer, vleis, groente, melk en ander vars produkte voor voorsien word.

Die dienste sal gevestig en beskikbaar gestel word soos die behoefte ontstaan.

Voorsiening van hernubare krag:

Die opsies vir sonkrag en windkrag sal oorweeg word om te bepaal welke een die mees koste-effektief is. ‘n Verdere opsie wat ondersoek sal word is die plasing van waterwiel in die Oranje om krag op te wek. Die owerheids-vereistes hier sal deeglik ondersoek moet word.

Voorsiening van eie brandstof:

Daar kan voldoende mielies en ander gewasse produseer word vir die maak van methanol om as brandstof te gebruik. Uit die produksie van die gewasse kan die vervaardiging van die brandstowwe plaasvind.

‘n Growwe diesel kan gemaak word van ou buitebande vir gebruik in trekkers, vragmotors en ouer bakkies.

Minerale:

Daar is heelwat minerale op die plaas beskikbaar wat met inisiatief en entoesiasme so verwerk en aangewend kan word, dat dit kan deel vorm van die ruilhandel wat noodgedwonge gaan moet plaasvind om die uitruil proses, op te kikker.

Ons maak reeds deel van ewigheid uit, kom ons probeer alles in ons vermoë om aan ons Hemelse Vader Se verwagtinge te voldoen!!

_______________________________

1.  Vrae en Antwoorde

1. Waarvoor word fondse aangewend?

Die maandelikse ledegeld en administratiewe heffings word aangewend om die operasionele onkostes van die Koöperasie te dek.

Die inkomste op verkoop van aandele word aangewend vir die volgende doeleindes:

a.       Vestiging van Infrastruktuur,

b.       Aankoop van addisionele grond,

c.       Navorsing en vestiging van tegnologie en stelsels,

d.       Vestiging van landbou bedrywighede,

e.       Befondsing van Christelike strukture.

2. Verkry ‘n aandeelhouer eiendomsreg op die standplaas?

In terme van huidige wetgewing verkry die aandeelhouer nie formeel eiendomsreg nie. In terme van die Koöperasie se Grondwet, sal die standplaas wel ewigdurende gebruiks- en verblyfsreg aan die aandeelhouer bied, solank die gekoppelde aandeel besit word.

3. Hoe verkoop die aandeelhouer sy aandeel / aandele?

Aandele mag net aan die Koöperasie verkoop word. Sodra ‘n aandeelhouer sy aandele wil verkoop, moet die aan die Koöperasie aangebied word, wat dit teen heersende markwaarde van die aandeelhouer sal terugkoop. Sodra ‘n aandeel verkoop is, het die aandeelhouer geen reg op die gekoppelde standplaas meer nie.

Indien daar ‘n privaat koper vir die aandeel is, sal die Koöperasie die aandeel onmiddelik weer aan die voornemende koper verkoop, op goedkeuring van lidmaatskap.

4. Hoe vererf ‘n aandeel by afsterwe van die aandeelhouer?

Met die afsterwe van die aandeelhouer, val die aandeel terug na die Koöperasie, wat dit aan die genomineerde begunstigde van die gestorwe aandeelhouer sal oordra, na goedkeuring deur die direksie. Indien die genomineerde begunstigde nie goedgekeur word as lid nie, sal die waarde van die aandeel, plus enige verbeterings op die standplaas, aan die boedel uitbetaal word.

5. Wat as verbeterde standplase verkoop word?

Daar is twee transaksies ter sprake. Die eerste is die verkoop van die aandeel, en die tweede is die vergoeding vir die waarde van die verbeterings. Die aandeel, wat gekoppel is aan die standplaas, verhandel teen die markwaarde van aandele. Die tweede transaksie behels ‘n ooreenkoms tussen die verkoper en koper, oor wat die koper bereid is om vir die verbeterings te betaal.

6. Kan ‘n aandeelhouer ‘n lening of verband bekom om ‘n woonhuis te bou?

Omdat die aandeelhouer nie eiendomsreg verkry nie, sal dit nie moontlik wees om ‘n verband te registreer nie. Onthou die eiendom behoort aan die Koöperasie, en dus alle aandeelhouers.

Sou die finansiële vermoë van die Koöperasie dit toelaat kan lenings vir meriete gevalle oorweeg word.

7. Mag ‘n aandeelhouer ‘n tydelike woning oprig?

Tydelike wonings of strukture mag opgerig word onderhewig aan die voorwaardes wat die Koöperasie mag stel.

Vir meer inligting, besoek asseblief ons webwerwe by: www.eofsa.org en www.eindtyd.org